Familie – God se plan vir die wêreld

Deur: Benescke Janse van Rensburg

God is ’n God van orde. Dít vind ons regdeur die skepping. Ook binne die gesin is daar ’n bepaalde orde om te verseker dat alles reg funksioneer. Die orde as ’n piramiede geteken word met God heel bo, dan die man, dan die vrou, dan die kinders en heel onder die diereryk.

Sou enigeen van hierdie lede van ’n gesin uit die rangorde beweeg en probeer om ’n ander gesinslid se plek in te neem (byvoorbeeld, ’n man wat nie leierskap van die huis neem nie, maar dit aan sy vrou oorlaat of ’n vrou wat haar man se gesag ondermyn en self die hoof van die huis probeer wees of kinders wat teen hulle ouers rebelleer), veroorsaak dit wanorde en konflik in die gesin. In so ’n geval is daar ’n gaping in die piramiede wat dit ideaal vir die vyand maak om ’n gesin aan te val.

Tog, net soos wanorde konflik veroorsaak en families uitmekaar laat spat, sal vrede en kalmte neerdaal wanneer die lede van die gesin hulle regmatige plekke inneem sodat God die familie kan beskerm.

Wat sê die Woord oor ons rolle in die huisgesin?

Man teenoor sy vrou:
• Kolossense 3:19: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.”

• Efesiërs 5:21, 25: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig . . . Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”

• 1 Petrus 3:7: “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle . . . Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.”

Vrou teenoor haar man:
• Efesiërs 5:21-24: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

Ouers teenoor hulle kinders:
• Efesiërs 6:4: “Moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”

• Kolossense 3:21: “Moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.”

• Spreuke 29:17: “Gee jou seun ’n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf.”

Kinders teenoor hulle ouers:
• Kolossense 3:20: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.”

• Efesiërs 6:1-3: “Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. ‘Eer jou vader en jou moeder sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.’”

Hoe lyk jou lewe vandag? Is daar ’n paar veranderinge wat jy in jou lewe moet aanbring? Vra vir God om jou deur sy Heilige Gees met wysheid te lei. En as jy vandag ’n familie van jou eie begeer, gesels gerus met God daaroor. Familie is immers sy plan vir die wêreld! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die riglyne wat ek daagliks uit u Woord ontvang. Versterk my en lei my om met wysheid op te tree as ’n krisis my familie tref. En bowenal, help my om altyd met geduld en liefde teenoor my geliefdes op te tree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

(Uit www.versndag.co.za)