Pinkster 2020 Tema 2 : Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

Pinksterreeks Tema: God se verlossingspad met ons.
Tema 2 : Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
Skrif : Ef 1:15-23; Rom 12:1,2; Tit3:4,5
Teks : Ef 1:16(b)-19(a); Rom 12:2(b); Tit 3:5

Inleiding
Goeiedag vriende. Baie welkom by ons tweede boodskap van Pinster 2020.
Ons tema van die week is: God se verlossingspad met ons.
Vandag se tema is: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

Gebed (Lied 253)
U het die brood gebreek eens by die meer –
breek ook in hierdie week die lewensbrood vir ons, o Heer.
Wil steeds u waarheid meer en meer aan ons ontvou
tot ons ook in u Woord ons Heer aanskou.

U is die lewensbrood, Heiland vir ons.
U is die waarheid Heer, U maak ons vry.
U beeld straal uit die Skrif so helder voort –
U soek ons, Heer, Uself, o Lewend’ Woord. Amen

Skrif
Die Skrifgedeeltes wat elkeen rustig en biddend kan deurlees, is:
Ef 1:15-23; Rom 12:1,2; Tit3:4,5
Teks : Ef 1:16(b)-19(a); Rom 12:2; Tit 3:5

Preek
Ons het gister in Ef 1 se eerste verse gehoor hoe God geloof en geprys word! Want God is bereid om die verlossingspad met ons te loop. Ons het gehoor dat dit God is wat die inisiatief neem om ons op die verlossingspad te neem. En dat Hy sy Seun, Jesus Christus gegee het as die fondament van hierdie pad wat Hy met ons loop. Dis deur Jesus Christus wat ons op hierdie pad geseën word met al die seëninge wat daar in die hemel is.

Maar nou: Hoe word hierdie verlossing wat God deur Jesus Christus in ons bewerk word, hoe word dit in my en jou lewe ’n werklikheid?

1. Die Woord sê vir ons dit is alles die werk van die Heilige Gees. God het sy Seun Jesus Christus gestuur – daarom vier ons Kersfees, Hy’t Hom gestuur om aan die kruis vir ons te sterf – daarom vier ons Goeie Vrydag, Hy’s uit die dood opgewek – daarom vier ons Paasfees, Hy’t opgevaar hemel toe – daarom vier ons Hemelvaart. Maar, dan het Hy ook sy Heilige Gees gestuur – daarom vier ons Pinkster!
Hy’t sy Heilige Gees gestuur om in ons te woon en in ons te werk. In die gedeelte wat ons gister gelees het (Ef 1:3-14), skryf Paulus vir ons van die werk wat God deur Jesus gedoen het. (Dis waarop ons gister gefokus het.) Maar dan skryf hy vir ons in v13(b)-14 van die werk van die Heilige Gees. Ons teks sê: In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het… Dis wat ons ook in Titus 3:5 gelees het: Dat dit die Heilige Gees is wat nuwe lewe gee.

As ons nou alles bymekaar sit wat hier geskrywe staan, dan sien ons dat ons verlossing is die werk van die Drie-enige God. Dis die werk van die Vader én die Seun én die Heilige Gees.

Die Vader is die eerste Persoon van die Drie-eenheid van wie die inisiatief uitgaan om ons te verlos. Die Seun is die tweede Persoon van die Drie-eenheid, die gesalfde deur wie ons verlossing bewerk word. En die Heilige Gees is die derde Persoon van die Drie-eenheid wat die verlossing in ons lewe ’n werklikheid maak. Ons verlossing is dus die werk van die Drie-enige God. En ons kan die werk van die Drie-enige God nooit losmaak van mekaar nie.

Maar terwyl ons dit sê, kom ons fokus in hierdie Pinkstertyd in op die rol van die Heilige Gees. Kom ons kyk hoe die Heilige Gees ons laat deel kry aan die verlossing in Jesus Christus. Laat ons maar net dadelik sê dat God se werk deur sy Gees is te misterius, dis te wonderbaarlik om te begryp en in woorde uit te druk. Maar kom ons hoor wat leer die Woord oor die werking van die Heilige Gees.

(a) Ef 1:17 sê dat die Heilige Gees aan ons die wysheid gee, sodat ons Jesus werklik kan ken. Daar staan ook dat die Heilige Gees vir Jesus aan ons openbaar, met ander woorde aan ons bekendstel, sodat ons Hom werklik kan ken. En dan staan daar in vers 18, dat die Heilige Gees ons oë so verhelder, dat ons die rykdom van dit wat God in Christus Jesus aan ons skenk, kan raaksien en kan begryp. Met ander woorde, die Heilige Gees is die oogspesialis wat die katarakte wegneem, wat die bril opsit, sodat ons regtig kan sien!

In Ef 4:18 lees ons dat ons van nature só verduister is, kom ons sê só blind is, dat ons sonder die werk van die Heilige Gees nooit sal kan sien nie. Ons sal nie regtig vir Jesus kan sien, wie Hy werklik is nie. Ons sal nie een tree van die verlossingspad voor ons sien nie. Ons kan Bybel lees, ons kan kerk toe gaan, ons kan die wondelikste preke hoor, sonder dat ons sien. Sonder dat ons verstaan. Sonder dat dit enige verandering in my lewe bring.

Maar as die Heilige Gees in ons werk, as Hy ons oë oopmaak om te sien, dan gaan die rykdom van God se genade vir ons oop.
Nou dit is natuurlik nie net die ongelowiges wat hierdie verligting van die Heilige Gees nodig het nie. Nee, ook ons wat reeds op die geloofspad is, ons het ook hierdie verligting nodig. Ons het hierdie verligting voortdurend nodig, sodat ons beter kan sien. Dit is waarmee die Heilige Gees vir my en vir jou wil help, om die Here Jesus beter te sien. Om die Here Jesus beter te leer ken.

(b) En nou, as ek die Here Jesus beter leer ken, as Hy as Verlosser ’n groter werklikheid in my lewe word, wat gebeur dan? Dan verander dit my. Dan begin ek om meer en meer na die beeld van Jesus te leef. In Rom 12:2 het ons gelees: …laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. In Ef 4:23 lees ons ook: Julle gees en gedagtes moet nuut word. Hoor julle, ons denke, ons gedagtes moet nuut word.

Nou die woord wat met denke vertaal word, wys op die sentrale deel van ons lewe. Die kern. Die Bybel noem dit ons hart. Want dis my hart wat my hele lewe, my optrede bepaal. En dis wat die Heilige Gees wil doen. Die Heilige Gees wil my hart, my denke voortdurend vernuwe. Want as Hy my hart en my denke beheer, dan beheer Hy my hele lewe. Dan beheer Hy my optrede. En dan bring Hy, wat die Gees van Christus is, die beeld van Jesus Christus al hoe meer in my lewe na vore.

(c) Nou, die Heilige Gees is natuurlik vry om te werk soos Hy wil. Maar die Heilige Gees gebruik veral die Bybel, as Woord van God, om ons innerlik nuut te maak. Hy gebruik die Woord om ons harte, ons denke te verander. Wanneer ons die Woord van die Here lees, is dit die Heilige Gees wat ons oë oopmaak sodat ons nuut na dinge kan kyk. Wanneer ons na die suiwer prediking van die Woord luister, gebeur daar iets in my, omdat die Gees in my werk. As ek die Woord lees en as ek na die prediking van die Woord luister, werk die Gees in my, sodat ek nuut na myself kyk, en ook kan besef hoe ’n groot sondaar ek is. En hoeveel tekortkominge ek het. Maar as ek na die Woord luister, werk die Gees ook so in my dat ek die wonder van God se genade meer en meer kan ontdek. Wanneer ek die Woord lees, werk die Heilige Gees in my, en vervang my ou insigte met nuwe insigte. Hy vee my ou oortuigings uit, en vervang dit met nuwe oortuigings. Hy vervang dit met God se wil soos dit vir ons neergeskryf is in sy Woord. Daarom, as ek ’n mens is wat sê dat ek die begeerte het dat die Here my lewe moet nuut maak, dan moet ek ’n mens wees wat erns maak met die Bybel. Dan moet ek onder leiding van die Heilige Gees biddend die Woord bestudeer en dit oordink. Ek moet biddend erediens toe kom om te luister na die verkondiging van die Woord. En terwyl die Woord na my kom, moet ek biddend luister na die influisteringe van die Gees. Dis Hy wat my denke verander. Dis Hy wat my lewe, my optrede, my gedrag verander. En dit is ‘n voortgaande proses in ‘n gelowige se lewe, tot aan die einde, tot by die wenstreep.

Kom ons kyk wat het ons tot nou gehoor :
Die Heilige Gees is die een wat die verlossing in Jesus in my lewe ’n werklikheid maak.
– Hy doen dit deur my oë oop te maak om myself te
sien – met al my sondes en tekortkominge.
– Hy doen dit deur my helder te laat sien wie Jesus is.
– Hy doen dit deur my denke te vernuwe.
– En Hy doen dit deur die Woord.

2. Maar as ons dit alles gesê het, moet ons onthou dat dit ook ’n saak van gebed is. Natuurlik is die werk van die Heilige Gees nie van ons gebede afhanklik nie, want die Gees is soos die wind wat kan waai waar en wanneer hy wil. Maar ons kan ook nie gebed losmaak van die werk van die Gees nie.

Dis baie belangrik dat ons sal raaksien dat ons Skrifgedeelte van vandag (Ef 1:15-23), is ’n gebed. In Ef 3:14-19 is Paulus ook besig om vir die gemeente voorbidding te doen. In hoofstuk 3:16 staan daar: Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word…

Paulus verkondig nie net die verlossing wat God in Christus Jesus bewerk het nie. Nee, hy bid ook dat die Heilige Gees hierdie verlossing sal bewerk. Hy bid dat die Gees mense nuut sal maak.

Gebed, gebed, gebed! Dis so belangrik op die pad van verlossing, en op die pad van vernuwing. Van groei – heiligmaking. Ons moet dit vir onsself bid. Ons moet dit vir mekaar bid. Ons moet dit vir die gemeente, vir ons kinders en kleinkinders bid.

Ons moet dit met volle oorgawe bid. Met die begeerte, en met die gewilligheid, om deur die Gees vernuwe te word. Dis juis wat ons in hierdie Pinkstertyd moet bid, moet pleit, dat die Gees die krag van die evangelie van Jesus Christus, in ons lewe ’n groter werklikheid sal maak.

Is dit wat jy bid? Is dit wat jy vra? Of wil jy bly soos jy is? Wil jy op die verlossingspad stilstaan, by jou ou, sondige denke, by jou ou, sondige manier van doen? Of is jy bereid om te bid, is dit jou begeerte om te bid : Kom, Gees van God, maak my nuut. Here, open my geestesoë, dat ek U werklik kan ken. Amen

Gebed (Lied 431)
O Gees van Vader en van Seun,
ons voorspraak, leidsman, krag en steun,
U vul ons diepste harstverlange,
U kom ons in die waarheid lei,
U leer ons bid, kom by ons bly –
U loof ons met ons lofgesange!
Wil steeds die goeie in ons werk,
bewaar, vermeerder en versterk.

U maak die Skrifte vir ons oop;
bekeerdes, deur die Gees gedoop,
ontvang met blydskap skuldvergewing.
Verlos, na liggaam en na gees,
deel ons vol vreugde in die fees.
God gee ‘n nuwe heilsbedeling!
Saam breek ons brood, één in gebed,
saam loof ons God wat ons kom red. Amen