GEBEDSONDAG 31 Mei 2020

 

MOEDERGEMEENTE
BIDDAG  31 Mei 2020

Inleiding
Ons het dié week gehoor dat die staatspresident vandag as ‘n biddag vir Suid-Afrikaners verklaar het. Nou hoor ek sowaar ‘n paar stemme van kritiek hieroor. Maar ons as Christen-gelowiges, as volgelinge van ons Here Jesus, ons doen dit graag, want ons bid mos graag. Ons vat graag hande met ander Christene oor die land, oor Afrika, oor die wêreld, as ons bid. Nou-ja, ons kan nou nie in hierdie tyd saamkom om te bid en letterlik hande vat nie. Maar ons kan een van hart, een van gees, een in die Gees met ‘n hoofletter, ons knieë buig voor die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. En ons kan in die Naam van Jesus, ons Middelaar en Voorspraak, met vrymoedigheid ons gebede na die troon van ons Hemelse Vader bring.
Ons gebede van aanbidding. Van lof. Van dank. Maar ook ons voorbidding: Vir onsself, vir mekaar, vir die kerk van Jesus, vir ons land, vir die wêreld.
Ons pleitgebede vir seën, en sorg, en leiding.
Ons pleitgebede dat sy koninkryk mag kom, en sy wil sal geskied – alles tot eer van sy Naam.

Konteks
In hierdie tyd van ‘n dreigende virus en die inperking wat daarmee saamgaan, voel ons die gevolge aan ons finansies, aan ons lyf, aan ons gees, aan ons psige, aan ons emosies, aan ons verhoudinge – met onsself, met mekaar, en met die Here.
Grendeltyd is ‘n tyd van introspeksie en herevaluering van prioriteite. Dis ‘n tyd van ontdekking van nuwe moontlikhede, van waartoe ons in staat is, en van waarsonder ons kan klaarkom.
Maar grendeltyd is ook ‘n tyd van eensaamheid, van groot onsekerheid, van angs, van diep, diep bekommerd wees oor baie dinge.

Psalm 121
In hierdie tyd ontvang ek Psalm 121 vir Vandag deur ‘n onbekende skrywer.
Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Die berg wat wegkruip in mense se groet en vat en menswees. Die berg wat vingermerke maak op winkeltrollies en die rakke daarbinne leeg koop. Die berg wat angs en paniek en onsekerheid in mense se harte gaan bêre. Die berg wat wagstaan voor die hospitaal en keer dat geliefdes by ‘n hart-se-mens kan uitkom. Die berg wat ‘n wêreld se ekonomie met een hand stop. Die berg wat skole se deure toemaak en lag-lag voor my kerk se hek gaan sit. Die berg wat bejaardes weerloos laat en hulle bang in hulle huise laat wegkruip. Die berg wat besighede sluit en gesinne sonder kos laat. Die berg wat paaie toemaak en ‘n hele land se mense in hulle huise injaag.
Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Waar sal my hulp vandaan kom? Wie gaan my help om by hierdie berg verby te kom?

My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. My hulp is van Hom wat die son elke oggend wakker maak en vir die maan sê hoe laat hy moet gaan slaap. My hulp is van Hom wat vir die see ‘n lyn in die sand trek, en vir die branders sê waar hulle mag breek. My hulp is van Hom wat die berge in die palm van sy hand balanseer. Van Hom wat vir die swaeltjie genoeg krag gee om te trek wanneer dit nodig is. My hulp is van Hom wat die klipspringertjie help om op die rotse te balanseer. My hulp is van Hom wat weet wat my naam is, wat my hart se bang en onsekerheid ken, wat weet waar ek bly en waar ek wegkruip. My hulp is van Hom wat die hemel en die aarde en vir my met soveel liefde en sorg gemaak het.
Dit is Hy wat die vliegtuie en skepe stop, sodat die aarde weer kan asem skep. Dit is Hy wat horlosies se tyd laat stilstaan, sodat mense weer kan leer om te wees, en nie net om te doen nie. Dit is Hy wat mense een vir een onder een dak bymekaar maak, en hulle daaraan herinner dat hulle ‘n gesin is. Dit is Hy wat die roetine en gejaag wegvat, en kinderlaggies om ‘n bordspeletjie laat baljaar. Dit is Hy wat mense leer om mekaar weer in die oë te kyk en te gesels. Dit is Hy wat sy kerk na mense se huis toe vat, sodat almal sy Woord kan hoor – nie net op ‘n Sondag nie, maar elke dag. Dit is Hy wat die boodskap van Hoop sag en stil van een huis na ‘n ander oordra. Dit is Hy wat seker maak dat gesinne weer saam bid en Bybel lees. Dit is Hy wat duisende slagoffers wat oorweldig word deur die berg, stil in sy arms toevou en hulle verseker dat Hy hulle nooit sal los nie. Dit is Hy wat vir ons gesê het dat ons dit in hierdie wêreld nie altyd maklik sal hê nie. Dit is Hy wat belowe het dat Hy by ons sal wees – vandag, môre, totdat ons vir altyd by Hom sal bly.

Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Wie gaan my help om verby hierdie berg te kom?
My hulp is van die Here. Nou en vir altyd.

Stilword
Kom, word stil voor Hom – voor Hom wat ons hulp is. Ons enigste hulp. Ons toevlug. Ons skuiling. Kom, vlug na Hom toe…
Stilte

Kom na Hom toe met jou bekommernisse, jou seer, jou eensaamheid, jou verlange…
Stilte

Verklaring
Hebr 13:8 sê “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.”
Hy’s die een wat in die gister sy lewe gegee het – vir ons; Hy’s die een wat ons deur die gisters gedra het – deur riviere, oor berge, deur vuur
Stilword
Dank Hom omdat Hy ons tot hier gebring het.
Stilte

Hy’s die een wat nou by ons is – deur sy Gees, om ons krag te gee, leiding; die woorde van Psalm 23 is vandag waar: Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee… U is by my; die getuienis van Rom 8 oor Hom is in 2020 waar – niks, niks kan ons van sy liefde skei nie…
Stilword
Word daarvan bewus dat Hy by ons is – in hierdie onseker tyd, in hierdie tyd wat ons op verskillende maniere laat swaar trek.
Dank Hom omdat Hy met ons is, en omdat ons kan weet die God aan wie ons behoort, sal ons nooit verlaat nie.
Stilte

Hy is dieselfde – gister, vandag en tot in ewigheid. Ons is op pad. Daar is ‘n toekoms. Hy’t die pad vir ons oop gemaak. Daar’s hoop.
Stilword
Bid en vra dat die Here ons sal help om ons oë op Hom te hou – om nie deur die stormwinde en golwe oorweldig te word nie, maar ons hoop net op Hom te vestig. Hy self is ons hoop vir môre.
Stilte

Uitnodiging
Die Here se Woord nooi ons om in die Naam van Jesus die genadetroon van ons Vader te nader. Ons hoor telkens die uitnodiging: Kom. Kom met julle geestelike behoeftes. Kom met julle behoeftes aan aardse behoeftes. Kom met julle bekommernisse en vrese. Kom met julle soeke na wysheid en leiding. Kom met julle behoeftes…

Voorbidding
Kom ons bid dat hierdie tyd ‘n tyd van terugkeer na die Here sal wees – ‘n tyd van bekering, van nuwe toewyding, van ‘n nuwe soeke na die wil van die Here, van ‘n nuwe gehoorsaamheid aan sy Woord…
Stilte

Kom ons doen voorbidding vir medegelowiges wat swaar kry oor werksverliese, oor honger, oor koue nagte, oor finansiële kommer…
Stilte

Ons bid vir almal wat siek is – watter siekte ook al…
Stilte

Ons bid dat die kerk ook in hierdie tyd die draer van hoop sal wees, van die ware hoop in Jesus Christus…
Stilte

Bid en vra dat die Here sal voorsien in alle pogings om mense in nood by te staan…
Stilte

Bid vir dokters en verpleërs en vir alle gesondheidswerkers, en vir wetenskaplikes wat soek na middels om siektes te genees, bid dat die Groot Geneesheer hulle pogings sal seën…
Stilte

Bid soos die Woord ons leer vir ons regeerders en almal wat gesag uitoefen…
Stilte

Bid vir die ekonomiese krisis, dat die Here uitkoms sal bring…
Stilte

Bring nou in gebed die behoefte of gedagte wat die Here op jou hart lê na Hom…
Stilte

Ons Vader gebed
En nou bid ons die volmaakte gebed saam, die gebed wat alles omsluit – die gebed wat ons Meester ons geleer het. Jy kan dit hardop of in jou hart bid, daar waar jy is:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredinge
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen

Seënbede
Mag ons as gelowiges, as volgelinge van Jesus elke dag, ook in hierdie tyd, onthou:
Die Here is voor jou
om die weg vir jou gelyk te maak.
Die Here is langs jou
om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou
om die aanvalle van die Bose af te weer.
Die Here is onder jou
om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou
om jou te beskerm.
Die Here is binne-in jou
om jou te inspireer.
Die Here is bo jou
om jou te seën.
So seën die Drie-enige –
Vader, Seun en Heilige Gees jou,
van nou af tot in ewigheid.