Pinkster 2020 Pinksterfees Tema 7: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

PINKSTERFEES
Pinksterreeks: God se verlossingspad met ons
Tema 7: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
sodat ons kan leef onder heerskappy van die Gees Ef 5:6-20

Inleiding
Goeie môre vriende op hierdie Sondagoggend. Ons herinner mekaar vandag aan Jesus se woorde toe Hy met sy dissipels gepraat het oor sy hemelvaart, en hulle ontsteld was omdat Hy praat van weggaan van hulle.
Kan julle onthou wat Hy vir hulle gesê het? “Moenie ontsteld wees nie.” En een van die redes wat hy vir hulle gegee het waarom hulle nie ontsteld moet wees nie: “Ek gaan my Heilige Gees stuur om by julle te wees.”
En nou lees ons in Handelinge 2 dat daardie woorde van Jesus waar geword het:
1. Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.
2. Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.
3. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
4. Almal is met die Heilige Gees vervul…

Vandag gedenk en vier ons die uitstorting van die Heilige Gees, en word ons versterk in die wete: God is vandag nog by ons, in ons, deur sy Gees.
Ons tema vandag is dan ook dat ons moet bid dat die Heilige Gees ons oë open, sodat ons kan leef onder heerskappy van die Gees.

Gebed (Lied 439)
Kom ons bid saam.
O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing.
Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.
Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.
O Gees van God, getuig in ons, ons wil u krag besing. Amen

Skriflesing
Ons Skriflesing vandag is Ef 5:6-20. Kom ons lees vanaf v8.

Boodskap
Handelinge sê op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort.
En nou sê die Woord hier in Ef 5:18 “Laat die gees julle vervul”.
‘n Baie belangrike ding wat ons hier moet raaksien, is aan wie hierdie woorde geskryf is. Vir wie sê Paulus in Ef 5:18 “laat die Gees julle vervul”?

Hy sê dit vir die mense van wie hy in hoofstuk 1:13 sê “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.” Nou dit beteken dat hy hier in 5:18 praat met mense op wie die Heilige Gees reeds sy stempel afgedruk het .

In daardie tyd was dit gebruik dat ‘n hooggeplaasde sy seël op ‘n dokument afdruk om dit te waarmerk. En as hy nou sy seël afgedruk het op die was wat op ‘n dokument is, dan was dit gewaarmerk as ‘n dokument wat van hom afkomstig is.
En dít is wat die woordjie ‘seël’ in hfts 1:13 beteken. Die mense aan wie Paulus skryf, is mense wat deur die Heilige Gees gewaarmerk is as die eiendom van God. V13 sê dis hulle wat deur Jesus Christus deel geword het van sy kerk en wat tot geloof gekom het. Met ander woorde, hulle wat tot geloof gekom het, het klaar die Heilige Gees ontvang. Dis waarom ons ook in Rom 8:9 lees, dat as iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

Maar nou gaan Paulus in ons teks so ‘n bietjie verder – hy kom sê vir hierdie gelowiges wat reeds die Gees ontvang het: “Laat die Gees julle vervul.” Julle hoor – hulle is reeds deur die Gees beseël, maar nou sê hy “Laat die Gees julle vervul.”

Nou Paulus sê dit, omdat dit in ‘n gelowige se lewe kan gebeur, dat jou sondige aard nog die botoon voer. Jy tree op volgens jou sondige aard. En as hier nou staan “laat die Heilige Gees julle vervul”, dan beteken dit dat jy jou lewe al hoe meer onder die heerskappy van die Gees moet stel. In Gal 5:16 staan dit presies so. Daar staan “Laat die Gees julle beheer.”

Paulus stel in ons teks dit wat die Gees in jou doen teenoor dit wat drank in jou doen. As iemand te veel drink, dan beheer die alkohol sy lewe en sy gedrag. Dis die alkohol wat maak dat jy dink dat jy slim goed sê terwyl jy dom goed sê. Dis die alkohol wat maak dat jy dink jy’s so sterk soos ‘n leeu, terwyl jy eintlik soos ‘n bobbejaan optree. Dis die alkohol wat jou laat vloek en skel en slinger. Dis die alkohol wat jou gedrag bepaal. Paulus sê dit moet nie met gelowiges gebeur nie. Gelowiges, volgelinge van Jesus moet die Heilige Gees toelaat om ons gedrag te bepaal.

As ‘n mens die Heilige Gees toelaat om jou gedrag te bepaal, dan sê
v10 – sal jy jou voortdurend afvra of iets vir die Here aanneemlik is, m.a.w. jy gaan vir jouself vra “gaan die Here daarvan hou as ek dit doen?”
As die Heilige Gees jou gedrag bepaal, sê
v15 – gaan jy as gelowige, jy as iemand wat aan Jesus behoort, ook versigtig wees hoe jy lewe.
En, staan daar verder in v17 – sal jy probeer te wete kom wat die Here wil hê jy moet doen.

Die Heilige Gees wat God se werk in ons begin het, wat ons in Jesus Christus as die eiendom van God beseël het, wil verder in ons werk, sodat God deur ons lewens verheerlik kan word. Daarom moet ons vervul word met die Gees. Daarom moet ons oorgee aan die leiding en beheersing van die Gees, sodat Hy ons gedrag kan bepaal. Julle sien, die Heilige Gees wil die werk wat Christus in ons begin het, voltooi. En dít is ‘n proses, ‘n lewenslange proses.

Nou dit is waarom daaglikse toewyding en oorgawe so belangrik is. Dit is waarom ons daagliks moet bid dat die Gees ons moet vervul, ons moet beheer, sodat ons in alles meer en meer soos mense kan leef wat aan Jesus Christus behoort.

Nou Ef 5 vertel vir ons verder hoe lyk ‘n lewe onder beheersing van die Gees. Jy’t mos nou baie tyd op hierdie Sondag, gaan lees sommer vanaf hoofstuk 5:18 tot 6:20, dan sal jy sien wat gebeur alles in ‘n mens as jy jou lewe oorgee aan die beheersing van die Gees.

V19 sê ‘n mens wat Geesvervuld leef, wil met sy hele hart saam met ander gelowiges Psalms en lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van die Here sing.
V20 sê ‘n Geesvervulde mens is ‘n dankbare mens, want hier staaan “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.”
En dan, vanaf v21, lees ons hoe ‘n Geesvervulde man en vrou teenoor mekaar optree. En dit alles begin daarby dat ‘n Geesrvervulde man en vrou aan mekaar onderdanig is. Dis eintik die mooiste huweliksformulier wat hier geskryf is.
Hoofstuk 6 begin weer om te sê hoe Geesvervulde ouers en kinders teenoor mekaar optree.
Vanaf 6:5 sien ons hoe Geesvervulde eienaars en slawe optree.
En dan, vanaf 6:10 lees ons die bekende gedeelte van die wapenrusting wat ‘n Geesvervulde mens moet aantrek, sodat jy in die geloof staan kan bly.

Dit wat ons nou van praat volg op v18: “Laat die Gees julle vervul”, Met ander woorde, dit sê vir ons dat as jy Geesvervuld leef, raak dit jou godsdienstige lewe, jou aanbidding, maar dit raak ook alle verhoudinge waarin jy staan. Jy leef anders. Jy leef nuut. Jy leef meer en meer soos Jesus. Jy leef tot eer van God.
Want die Gees van God wat ons in Christus Jesus as die eiendom van God beseël het, beheer al hoe meer jou lewe.

Kom ons buig op hierdie Pinkstersondag die knie voor die Drie-enige God:
Voor die Vader wat in sy liefde en genade die inisiatief geneem het om ons op die verlossingspad te neem.
Voor Jesus die Seun van God, Hy deur wie ons verlossing, vryheid en nuwe lewe ontvang het.
En voor die Heilige Gees – Hy wat ons lewens wil beheers, en wat ons wil lei op die pad van verlossing tot eer van God.
Amen.

Gebed (Lied 271)
Heil’ge Jesus, hoor my bede:
Kom deur u Gees en hervorm my hart, my krag, my rede;
maak my al meer u beeld gelyk.
Vorm my wil en ook my wandel,
dat in my denke, spreke, handel,
in alles slegs u beeld sal blyk.
Herskep opnuut, o Heer,
my lewe tot u eer.
Heil’ge Jesus, o heilig my, wil U my lei –
om my geheel aan U te wy. Amen

Seën
Mag die goedheid van die Vader
en die oorvloedige liefde van die Seun
en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees
met julle wees en met julle bly. Amen