Dink minder aan jouself

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:6-8).

In Mere Christianity beskryf CS Lewis hoe dit is om ’n werklik nederige persoon te ontmoet: “To even get near , even for a moment, is like a drink of cold water to a man in a desert. Do not imagine that if you meet a really humble man he will be what most people call ‘humble’ nowadays: he will not be a sort of greasy, smarmy person, who is always telling you that, of course, he is nobody. Probably all you will think about him is that he seemed a cheerful, intelligent chap who took a real interest in what you said to him. If you do dislike him it will be because you feel a little envious of anyone who seems to enjoy life so easily. He will not be thinking about humility: he will not be thinking about himself at all.”

Nederigheid is nie om minder ván jouself te dink nie, maar om minder áán jouself te dink, in CS Lewis se woorde. Die wêreld van ons dag dwing ons in ’n ander rigting. Die media bombardeer ons met gedagtes oor hoe belangrik ons is. Geen wonder nie dat die soeklig gedurig grotendeels op ons self val, van ons Facebook-profiele tot ons persoonlike gesprekke.

Die verhaal van Jesus se lewe op aarde klink soveel anders as ons s’n met ons nimmereindigende behoeftes. In Paulus se aangrypende opsomming van Jesus se pad in Filippense 2 vertel hy hoe Jesus sy Godgelyke eer vrywillig opgeoffer het om mens te word. Hoekom? Christus het regtig minder aan Homself en meer aan ons gedink. Maar Jesus het nie net gedink nie; sy gedagtes het ook dade geword. Sy nederigheid het gemaak dat Hy sy hemelse veiligheid vir slaweklere verruil het – en vir ’n houtkruis.

Gaan ons kies om sy voorbeeld te volg?

Here Jesus, dankie dat U ter wille van my die nederige gestalte van ’n mens aangeneem het. Help my om meer van myself te vergeet, om soos U nederig te wees en ander eerste te stel. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)