Sondag 21 Junie 2020 – Vadersdag

 

Oudtshoorn Moedergemeente
YouTube Erediens
Sondag 21 Junie 2020
Vadersdag
Skrif: Mat 6:5-13, 7:9-11

Verwelkoming
Goeiedag vriende. Ja, ons weet elke dag van die week behoort aan die Here. En ons wil sewe dae van die week saam met die Here op die verlossingspad stap. Maar ‘n Sondag bly vir ons as kinders van die Here baie spesiaal – die een dag van die week waarop ons so ‘n bietjie tot rus kom… om ‘n diepe rus by die Here te vind.

Vandag is natuurlik ekstra spesiaal – want dis Vadersdag! Mag die kinders hulle pa’s vandag so ‘n bietjie ekstra bederf. Maak dit vir die pa’s ‘n spesiale dag. Maar mag al die pa’s ook vandag ‘n spesiale ontmoeting met die Here hê, sodat ons as pa’s die pa’s kan wees wat God wil hê ons moet wees.

Votum
Allerhoogste Hemel-Vader
lofgesange prys u Naam.
In ons kerke, in ons huise
loof ons, dank ons U tesaam.
Hoor die loflied, vreugdesange,
neem dit aan in Jesus Naam. (Woorde van Lied 475:1)

Seëngroet
Die Here groet ons wat deel is van sy groot gesin oor die hele aarde: Genade en vrede van God die Vader, en Jesus ons Verlosser, deur die werking van die Heilige Gees.
Kom ons besing die lof van Hom wat Koning is, maar wat ook ons Vader is – Lied 197:1,2

Selfondersoek
Ons gaan vanoggend selfondersoek doen aan die hand van 1 vers – Rom 12:11. Daar staan:
Moenie in julle toewyding verslap nie.
Wees altyd geesdriftig.
Dien die Here.

Kom, word vir ‘n rukkie stil, en dink oor jou lewe:
Waar staan ek vandag in my toewyding aan die Here?
Het ek nie dalk my verhouding met die Here begin afskeep nie?
Is ek geesdriftig oor my verhouding met die Here? Is ek geesdriftig oor die uitbreiding van sy koninkryk?
Dien ek Hom? Dien ek Hom met my hele hart en met alles wat ek het?
Stilte

Skuldbelydenis
Kom ons bely dat ons nie voluit in toewyding aan die Here leef, en nie álles gee soos wat Hy sy álles gegee het nie. Ons moet telkens opnuut vry gemaak word om te leef as mense wat gedring word deur sy liefde.
Ons sing Lied 232:2

Verkondiging van genade
In Tit 3:5 hoor ons die wonderlike genadewoord:
Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Hy’t ons verlos, Hy’t ons sonde afgewas, en Hy’t vir ons deur die Heilige Gees nuwe lewe gegee – ‘n lewe wat ons aan Hom wil toewy, ‘n lewe wat geesdriftig wil wees vir die dinge van die koninkryk, ‘n lewe van diensbaarheid aan die Here.

Kom ons sing ‘n lied waardeur ons dankie sê vir verlossing en ‘n nuwe lewe – Lied 245

Gebed vir Vadersdag
Ons het gesê vandag is ‘n spesiale dag – dis Vadersdag. Een van ons gemeenteseuns gaan nou vir al die pa’s in gebed aan die Here opdra.

Gebed vir Vadersdag

Hemelse Vader,
dankie omdat U u Seun gegee het
sodat ons die voorreg mag hê om U ‘Vader’ te mag noem.
Dankie omdat U, ons hemelse Vader, vir ons sorg.
Dankie omdat ons nooit aan u Vaderlike liefde hoef te twyfel nie.

Maar Here, vandag wil ons ook kom dankie sê
vir ons vaders hier op aarde.
Dankie omdat U hulle aan ons gee
om namens U
vir ons te versorg,
en vir ons te lei,
en vir ons te leer.
Dankie vir alles wat ons pa’s in ons lewens doen.

Ons bid vanoggend vir al die pa’s –
vir die pa’s van klein kindertjies,
vir die pa’s van tieners,
maar ook vir die pa’s van groot kinders.
Gee asseblief aan hulle alles wat nodig is
om goeie pa’s te wees,
om voorbeeldige pa’s te wees,
om ‘n pa te wees wat ons altyd sal herinner
aan ons hemelse Pa.

En Here, wees asseblief met almal
wat nie meer ‘n pa het nie –
gee dat elkeen van hulle elke dag sal weet
dat U hulle hemelse Pa is
wat vir hulle baie, baie lief is.

Amen
Smuts van Rensburg

Aankondiging van Skriflesing
Die Here se Woord kom vandag na ons uit Mat 5 en Mat 7 – en dit is woorde wat uit Jesus se mond gekom het.

Gebed
Kom ons bid dat Hy ons vandag sal voed met sy Woord.
U het die brood gebreek eens by die meer –
breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer.
Wil steeds u waarheid meer aan my ontvou
tot ek ook in u Woord my Heer aanskou. Amen Lied 253:1

Skriflesing
Vriende, net voor ons lees: Die Here Jesus leer ons in die Ons Vader gebed reg aan die begin om God as ONS VADER aan te spreek.
Nou vra die Heidelbergse Kategismus ‘Waarom het Christus ons geleer om God ONS VADER te noem (vr 120)?’
En dan antwoord die Kategismus: Hy’t dit vir ons geleer sodat wanneer ons bid daar van die begin af ‘n kinderlike vrees en ‘n vertroue op God kan wees – ‘n kinderlike vrees en ‘n vertroue op God. En dan sê die Kategismus – dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het… dat God deur Christus ons Vader geword het.
Kom ons lees saam: Mat 6:5-13 en 7:9-11

Preek
Ek is seker ons almal ken hierdie volmaakte gebed wat Jesus vir ons geleer het. Maar ek wonder hoe gereeld bid ons hierdie gebed? Miskien moet ons dit net weer raaksien dat Jesus dit eintlik as ‘n opdrag aan sy dissipels gee om hierdie gebed te bid. Want kyk wat staan hier – so moet julle bid.
Maar nou is dit tog ook so dat ‘n mens nie maar net die gebed bid omdat jy dit moét bid nie. Jy moet tog ook verstaan wat jy bid. En natuurlik moet jy ook bedoel wat jy bid – dit moet uit jou hart uit kom.

1. Miskien gaan dit vir ons help om hierdie gebed met ons hele hart te bid as ons altyd in gedagte hou dat die God tot wie ons bid die God van liefde is. En ons kan Hom Vader noem omdat Hy ons liefhet.

As ons na die Ou Testament blaai, dan sien ons dat God Hom aan mense bekend maak met verskillende name. En elkeen van hierdie name van God beteken iets baie besonders.

Ons ken mos die verhaal van Eksodus 3, waar God vir Moses geroep het. En dan staan daar dat Moses vir die volk moet sê dat dit die Here, die God van hulle voorvaders, van Abraham, Isak en Jakob is wat hom na hulle stuur. Nou die naam Here, die God van hulle voorvaders, sal hulle herinner aan die verbond. As ‘n Joodse gelowige sou bid, sou hy bid met die wete dat hy bid tot die Here van die verbond – die Here wat getrou is aan sy verbond, wat getrou in sy liefde.

Maar soos wat die jare aangestap het, het die fariseërs hierdie verbondsnaam blykbaar al hoe minder begin gebruik. Hulle het hulle baie vroom en slim gehou en gedink – sjoe, die naam Here is darem te heilig om sommer so te gebruik. Toe begin hulle om ander mooi name vir God te gebruik. Name soos bv die Ewige. Nou dis ‘n baie mooi, beskrywende naam vir God, om daaraan te dink dat Hy die Ewige is. Van die name wat die fariseërs vir God gebruik het, het op ‘n manier die afstand tussen God en mense beklemtoon. M.a.w. die fariseërs sien in hulle vroomheid al hoe meer vir God as ‘n God wat daar ver is, ‘n God met wie dit moeilik is om kontak te maak, ‘n God met wie dit moeilik is om te kommunikeer.
So, wat moet jy nou doen om by hierdie ver-God uit te kom? Die fariseërs het begin dink jy moet nou soos hulle baie vroom wees om met Hom te kan kontak maak. Jy moet indrukwekkende gebede met baie woorde bid om by Hom uit te kom. Maar die fariseërs het vergeet dat God die God van die verbond is, dat Hy die Here is wat na hulle toe kom en sê Ek het julle lief. Ek wil die verbondspad met julle loop.

Dis interessant dat as Jesus hier in ons Skrifgedeelte sy dissipels leer om te bid, dan begin Hy deur te sê julle moenie soos hierdie skynheiliges, hierdie gemaak vromes wees nie. Julle moet nie dink dat julle met julle vroomheid en indrukwekkende gebede met baie woorde by God kan uitkom nie. Nee, julle Vader weet wat julle nodig het. Bid tot Hom, die Here van die verbond wat na julle kom. Die Here wat in sy trou verklaar het: Ek het julle lief.

En dis wat ons moet onthou: Dít is die God tot wie ons bid… die Here van die verbond, die Here wat ons liefhet. En as ons sukkel om te bid, en ons voel nie so vroom nie, en ons kry nie die regte woorde nie, en ons weet nie mooi hoe om te bid en wat om te sê nie – dan kan ons maar net kom, na Hom, die Here wat sê Ek is julle Vader. Ek is julle Vader wat weet wat julle nodig het. Die Here wat sê Ek het julle lief. Ons noem Hom Vader – omdat Hy ons liefhet. Omdat Hy ons eerste liefgehad het.

2. Daarmee saam gaan dit ons help om hierdie gebed met ons hele hart te bid as ons in gedagte hou dat die God tot wie ons bid aan ons die voorreg gee om in ‘n verhouding met Hom te staan.

Ons weet mos dat die fariseërs baie godsdienstig was. Maar ons weet ook dat hulle verskriklik wetties was – dit moét jy doen, dit mág jy nie doen nie. Omdat hulle so min van God se liefde verstaan het, was dít eintlik waaroor dit vir hulle gegaan het – oor al die moets en moenies. En so het hulle iets gemis. Hulle het iets verskriklik belangrik gemis. Hulle het die hele gedagte van ‘n verhouding tussen God en sy mense gemis. Want dit is waaroor dit in die verbond gaan – dit gaan in die verbond oor ‘n verhouding tussen God en sy mense, sy volk, sy kerk. God en ons.

Terwyl die fariseërs hulle so vreeslik vroom hou en op die strate staan en bid sodat mense hulle kan sien, en hulle fokus so op alles wat jy moet doen en nie mag doen nie, kom Jesus en leer sy dissipels wat dit beteken om regtig te bid. Hy leer sy dissipels dat om met God te praat nie maar net is om mooi godsdienstige woorde te gebruik, en om God te probeer beïndruk en om te probeer kontak maak met indrukwekkende gebede met baie woorde nie. Nee, Jesus leer sy dissipels om in gebed met God te praat as mense wat die voorreg beleef om in ‘n verhouding met Hom te staan.

Ons moet altyd onthou dat Jesus nie gekom het om die verbond van die Ou Testament te ontbind nie. Nee, Jesus het gekom om die ou verbond, dit wat in die Ou Testament staan, om dit te vervul, om dit waar te maak, om dit vol te maak vir ons. Jesus het gekom om ‘n verhouding tussen die groot en almagtige en heilige God en ons as kleine swakke sondaarmensies waar te maak. Jesus kom maak dit waar dat God ons Vader is, en ons sy kinders. Dis mos presies wat in Joh 1:12 staan: Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Onthou dit, ons wat Jesus as Verlosser aangeneem het, ons wat in Jesus glo, kan onsself kinders van God noem. Ons kan in hierdie besondere verhouding met Hom staan. Ons mag bid: Ons Vader. Ons kan, ons mag in ons gebede met Hom praat as sy kinders wat weet dat Hy ons hemelse Vader is.

Vriende, kan daar ‘n mooier naam wees as dít wat Jesus ons hier leer om te bid – ons Vader? Is daar ‘n naam wat meer kan sê as die naam Vader?

As jy weer bid, gebruik hierdie wonderlike Naam met die wete dat Hy jou Vader is wat jou baie liefhet. Dat Hy jou Vader is wat sy verbondsbeloftes deur Jesus in jou lewe wil waar maak. En bid dit met die wete dat Hy wat jou Vader is, dat Hy vir jou wil sorg.

Miskien hoor jy vandag hierdie boodskap en dink by jouself – ek weet nie so mooi nie, want ek het droog gemaak, ek het gesondig, ek het afgedwaal, daar’s lankal nie meer iets van ‘n verhouding tussen my en Hom sprake nie, ek bid nie eers meer nie…
Weet jy wat… weet jy wat, jy kan na Hom terugkom. Want soos enige vader wat sy kind liefhet, sal Hy jou met ope arms terug verwelkom. Dink maar altyd aan die verlore seun van Lukas 15. As daar nou ‘n kind was wat erg droog gemaak het, en gesondig het, en sy pa se hart in stukke gebreek het, was dit hy. Maar toe hy huis toe gaan, wat gebeur toe? Toe wag sy vader vir hom met ‘n sambok? Nee, toe wag sy vader vir hom met ope arms.

Ons kan in gebed na Hom kom en Hom Vader noem (1)omdat Hy ons so verskriklik liefhet en (2)omdat Hy as Vader ons as sy kinders in sy verbondsarms wil toevou.

3. Maar dan kan ons hom ook Vader noem met die grootste vertroue. Ons kan al ons vertroue op Hom plaas.

So twee weke gelede het ons hieroor gesels, oor wat vertroue beteken. Ons het gesê vertroue is om met jou hele menswees, met alles wat jy is en met alles wat jy het, in God se arms te spring – omdat jy Hom vertrou.
Vertrou Hom – jou hemelse Vader. Bid… gee oor… spring….

Slot
En nou, nou’s dit Vadersdag. Is daar nie miskien iets wat ons as aardse vaders by ons hemelse Vader kan leer nie? Ons is tog aangestel as sy verteenwoordigers hier op aaarde. Dis by ons, aardse vaders, waar ons kinders so ietsie, al is dit net ‘n klein, klein bietjie moet leer van ons hemelse Vader. Sal ons kinders by ons, hulle aardse pa’s iets leer van liefde, en van ‘n verhouding, en van vertroue?
Amen

Gebed
Lied 266

Seën
Die Here sal julle seën en julle beskerm;
Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! (Num 6:24-26)