Paassondag – 12 April 2020

 

Paassondag – 12 April 2020
Erediens in tyd van lockdown (Korona-virus)

Toetrede
Goeie môre vriende op hierdie vreugdevolle Sondagoggend – Paasondag. Ja, as ons vanoggend in ‘n erediens bymekaar was, sou ons met oorgawe en van harte saam gesing het. Ons sou liedere sing soos
Lied 423:
Kom laat ons almal vrolik voor God die Here sing!
Laat heel die aarde juigend aan Jesus hulde bring!
Ons Heiland is oorwinnaar, Christus is oorwinnaar,
Hy’t waarlik opgestaan!

Ons sou seker ook Lied 421 sing – en ek hoor sommer in my gedagtes hoor hoe sing die gemeente dit dat die dak lig:
Lied 421:
Die Here Jesus lewe, Hy het die dood oorwin.
Met krag is Hy oorwinnaar; ons toekoms het begin.

Terwyl die melodieë en woorde van hierdie oorwinningsliedere by ons wil uitborrel, buig ons voor die Here.

Votum
Die Heer het opgestaan!
Die Heer het waarlik opgestaan!

Moenie skrik nie.
Julle soek Jesus van Nasaret.
Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
Hy is uit die dood opgewek.
As Christus nie opgewek is nie,
is ons prediking en julle geloof sonder inhoud.

As ons net vir hierdie lewe
ons hoop op Christus vestig,
is ons die bejammerenswaardigste
van alle mense.

Dood, waar is jou angel?
Doderyk, waar is jou oorwinning?

Die dood is vernietig.
Die oorwinning is behaal.
Die koningskap oor die wêreld behoort
aan ons Here en sy Gesalfde
en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid

Die Heer het opgestaan!
Die Heer het waarlik opgestaan! Amen

Seëngroet
Die Heer wat leef groet ons:
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle!

Skriflesing
Kom ons lees vanoggend weer rustig die verhaal van Joh 20:1-18
Lees Joh 20:1-3,11-17

Boodskap
Paasfees of nie Paasfees nie – ons sit in lockdown en een van die dae is dit hopelik verby, en dan gaan alles maar net weer aan. Die vraag is: Maak Paasfees enige verskil – in lockdown of daarna? Het dit wat meer as 2000 jaar gelede gebeur het enigiets te doen met ons deurmekaar op-die-kop-gekeerde wêreld in 2020? Wie gee om wat Maria vir Jesus gesê het, of wat Jesus vir Maria gesê het?

Miskien moet ons begin by Maria Magdalena. Het dit wat daardie Sondagoggend gebeur het enige verskil gemaak in haar lewe?

Kom ons kyk wat gebeur het. Maria het daardie Sondagoggend so ’n bietjie in die verlede probeer leef. Sy wou die verlede vashou. Sy wou met haar herinneringe uit die verlede by Jesus se graf gaan stil word. Lukas sê sy’t reukolie saamgevat graf toe – seker om Jesus se liggaam te gaan salf. Sy wou die verlede salf. Dis mos maar hoe ons almal maak, veral as ons moeilike tye of krisisse beleef – ons gryp gedurig terug na die verlede. Ons verlang na die goeie ou dae. Ons sukkel om met nuwe werklikhede vrede te maak. Ons sukkel om aan te pas, om in nuwe omstandighede nuwe planne te maak. Ons sukkel met die nuwe goed wat na ons kant toe kom – soos nou. Ons wil na die verlede teruggaan en daaraan vashou – net soos Maria Magdalena.
Ons teks sê dit was nog donker toe sy die Sondagmôre graf toe gegaan het. Nou dis miskien metafories van Maria se lewe, want sy het donker geken. Luk 8:2 vertel dat daar ’n donker tyd was toe sy deur sewe bose geeste beset was. Sommige sê sy was die vrou waarvan Luk 7:37 praat – die “vrou wat ’n sondige lewe gely het”, ’n straatvrou – ook in hierdie opsig ’n vrou met ’n donker verlede.

Maar toe het Jesus oor haar pad gekom, en deur haar ontmoeting met Jesus het dinge vir haar verander. In Luk 7:48 spreek Jesus haar vry: “Jou sondes is vergewe.” Luk 8:3 sê dat Jesus haar van die bose geeste bevry het. So, dinge het vir haar ten goede verander – van donker na lig.

Maar toe, toe het hierdie ding gebeur. Hulle het vir Jesus gevang en Hom weggevat uit haar lewe. Hulle het Hom gekruisig. Sy was daar toe dit vir drie ure donker geword het en Hy die laaste asem uitgeblaas het. En nou is die donker op ’n manier in haar lewe terug.

Dit was ook donker toe sy by die graf gekom het, maar nie donker genoeg om te kon sien dat die klip voor die graf weggerol is nie. Sy dink onmiddellik dat iemand Jesus se liggaam kom steel het. En as Jesus later naby aan haar staan dan is dit so donker in haar gemoed en haar dikgehuilde oë is so donker, dat sy Jesus nie eers herken nie. Sy dink dis die tuinier. “Waarom huil jy?” vra die tuinier. En dan verduidelik Maria (luister mooi wat sê sy) sy soek ’n lyk. Sy soek Hom wat was, maar wat nou dood is. Sy wil weet waar Hy nou is. Sy soek berusting, sy soek na Hom wat in die verlede was.

Maria gryp terug na die verlede, maar sy kry nie waarna sy soek nie.
Maar dan kom die beslissende moment in haar lewe: “Maria!”. Die stem van Jesus wat opgestaan het – “Maria”.

Die beslissende moment in Maria se lewe, in enige mens se lewe – die moment wat die lig vir jou laat deurbreek – is as jy hoor dat die lewende Jesus jou op jou naam noem.

Die stem van die tuinier het vir Maria die stem van die lewende, die opgestane Jesus geword! Die verlede kry skielik nuwe lewe – en in hierdie oomblik breek daar ’n nuwe toekoms voor Maria oop.

Vriende, dít is waaroor Paasfees gaan. Dit gaan nie maar net oor ’n leë graf nie. Dit gaan nie maar net om te weet Hy’t opgestaan nie, om te sê ek glo Hy het opgestaan nie. Dit gaan oor die teenwoordigheid van Hom wat lewe en wat ook joú naam noem. Dit gaan om die stem van Hom wat lewe en wat deur sy lewende teenwoordigheid voor jou kom staan om jou vry te spreek, of om jou te vertroos, om vir jou nuwe hoop te gee, om vir jou van die verlede te laat wegkyk na ‘n nuwe toekoms. Paasfees gaan om die moment waarop jy vir Jesus, as die lewende ontmoet.
En dan, as Maria Hom as die lewende ontmoet? Wel, ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar dit wil volgens vers 17 lyk of Maria op die een of ander manier aan Jesus wou raak. Want Jesus sê “Moet My nie vashou nie.” Miskien wou sy aan Hom raak om seker te maak dat dit Hy is, dat Hy regtig leef. Miskien wou sy op ‘n manier haar blydskap wys. Miskien wou sy op ’n manier die verlede vashou.

Maar Jesus bring afstand tussen Hom en haar. Jesus bring afstand tussen verlede en toekoms. Sy moet weet, sy kan Jesus nie vashou nie, want daar’s ‘n nuwe toekoms – Hy gaan weg hemel toe. Sy moet aan beweeg. Sy moet nou gaan om te vertel dat sy die lewende Jesus gesien het.

Ons sou dieselfde kon doen op Paassondag – Ons sou in ons gedagtes net ’n draai by Jesus se graf kon maak. Maar die opgestane Jesus sê ook vir ons: beweeg aan, daar wag nou ’n nuwe toekoms. Gaan leef hierdie nuwe toekoms as iemand wat ‘n ontmoeting met die lewende Jesus gehad het.

En dan moet ons ook uitgaan om hierdie nuwe toekoms met ander te deel.
Op daardie selfde dag waarop Maria hierdie ontmoeting met die lewende Jesus gehad het, het Hy vir sy dissipels gesê “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook!” Jesus stuur vir Maria weg uit die tuin, en Hy stuur sy dissipels weg, na ’n stukkende, hopelose, donker wêreld om in sy Naam ook vir ander ’n nuwe toekoms oop te breek.

As die lewende Here Jesus vanoggend voor ons staan, en ons op ons naam noem, en die lig oor die toekoms vir ons laat deurbreek, is dit ook wat Hy vir ons sê “Gaan”.
Ons wat vandag Paasfees vier moet gaan om vir mense wat ingeperk is – op allerhande manier ingeperk is – in ‘n sondige lewe, in ‘n slegte huwelik, in moedeloosheid… om vir hulle die boodskap van hoop en lewe te bring. Ons moet na mense wat in donker sit die lig wat vir ons deurgebreek het weerkaats. Ons moet vir mense vertel van Hom wat ons gesien het, die opgestane Jesus – sodat hulle ook in Hom ‘n nuwe toekoms kan vind.

Na Paasfees kan die lewe, mag die lewe, wil die lewe nie maar net aangaan, soos altyd nie. Ons hoef nie in lockdown te sug asof daar geen hoop en geen toekoms is nie.
Nee vriende, dis Paasfees. Jesus hét opgestaan en Hy leef. Daar ís ’n nuwe toekoms. Die lewende Jesus noem jou op jou naam. Gaan leef die nuwe toekoms… en gaan deel hierdie nuwe toekoms met ander. Die opgestane Jesus vra dit van ons: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle…”
Amen

Gebed
Hoor jy die Paasfeesklokke?
Hul lui van vroegdag af;
hul jubel oor die wêreld:
die Heer is uit die graf!
Hy, Christus, die oorwinnaar,
is uit die donker uit!
Die Heer, die sleuteldraer,
sal ook my graf ontsluit.
Amen

Seën
Die opgestane Jesus is ons toekoms.
Wie in Hom bly sal lewe tot in ewigheid.
Amen