Sondag 3 Mei 2020

 

YouTube Boodskap Korona-virus Grendeltyd
Sondag 3 Mei 2020

Vooraf
Orrelspel

Votum
Ons begin vanoggend ons saamwees in die woorde van Ps 119:145-147
145. Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom.
146. Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam.
147. In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord.

Seëngroet
Liewe medegelowiges, ek groet julle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Genade en vrede vir julle.

Bemoediging
‘n Paar lidmate het weer hierdie week laat weet hoe hulle na ons eredienste op Sondae verlang. Ja, ek glo ons almal mis ons saamwees rondom die Here se Woord. Die Bybel leer vir ons in die Ou Testament sowel as in die Nuwe Testament dat gelowiges saam op reis moet wees, en moet saamkom in aanbidding voor die Here. Maar terwyl ons die saamwees mis, het ons gelukkig ons Bybels. Dis vanjaar die Jaar van die Bybel – ons vier die Bybelgenootskap in SA se 200ste verjaarsdag. Dis deur die werk van die Bybelgenootskap dat ons ‘n Bybel het en kan hoor wat die Here vir ons sê. Dank die Here vir die Bybelgenootskap en bid ook sommer vir hulle vir hulle groot taak. Dank die Here ook vir jou Bybel – dat jy in die taal van jou hart die stem van die Here kan hoor. En dank Hom vir die verligting van die Heilige Gees wanneer jy die Bybel lees.
Kom ons bid en vra dat Hy ook vanoggend met ons sal praat.

Gebed
Ewig, onbegryplik’ Wese,
U die Vader, Seun en Gees,
Heer leer my U ken al beter,
U gehoorsaam kind te wees.
Ons wil sing van al U liefde;
In U waarheid wil ons juig.
Amen! Blye evangelie!
Amen, bly my hart getuig.

Boodskap
Vriende, as ons in die Nuwe Testament die briewe van Paulus lees, dan sien ons dat hy soms opgewonde is omdat hy verneem van die mooi dinge wat in gemeentes gebeur – daardie dinge wat getuig van die vrug van die Heilige Gees. Ons sien dit ook in die sewe briewe aan die gemeentes in Openbaring as ons lees van die mooi dinge wat in daardie gemeentes gebeur – die vrug van die Gees.

Nou vriende, ek moet sê ek raak ook opgewonde as ek in hierdie moeilike tyd, in grendeltyd hoor hoe lidmate van die kerk van Jesus die vrug van die Gees dra, die vrug van liefde – deur mekaar te bemoedig, deur vir mekaar te help op allerhande maniere, deur in mekaar se kosnood te voorsien, deur vir mekaar maskers te gee. Daar is soveel mooi stories in ons eie gemeente, maar mens hoor ook van mooi stories in ander gemeentes. Stories wat nooit die koerant sal haal nie, want ons wil dit nie in die koerant publiseer nie. Ons doen dit mos van harte vir die Here, gedring deur sy liefde, en nie om deur mense gesien te word nie.
Ons gemeente se leuse is mos Liefde Leef. En dit is wat nou prakties gebeur – Moedergemeente laat ook in hierdie tyd op ‘n besondere manier die Here se liefde leef.
Nou dit is presies wat dit beteken om godvrugtig te leef. Dis een van daai groot kerkwoorde wat ons gebruik sonder om mooi te besef wat dit beteken – godvrugtig. Maar kom ons dink bietjie daaroor, wat beteken dit: Om Godvrugtig te leef beteken om ‘n lewe in diens van God te leef. ‘n Lewe wat die vrug van die Gees dra. ‘n Lewe wat die vrug van die Gees prakties uitleef.

Maar nou is daar iets wat baie nou saamhang met ‘n godvrugtige lewe, en dit is gebed. Gebed en ‘n godvrugtige lewe is soos twee kante van diesefde munt.
‘n Biddende mens is ‘n mens wat leef met godsvrug.
En as jy die munt omdraai:
‘n Godvrugtige mens is ook ‘n biddende mens.
Gebed en godsvrug loop saam.

Vandag gee die Here se Woord vir ons so ‘n klein stukkie onderrig oor gebed uit 1 Tim 2:1-6(a). Kom ons lees dit saam – die opskrif is dan ook Onderrig oor gebed:
1. Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,
2. vir die wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
3. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser,
4. wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
5. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus
6. wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het.
Ons lees net tot sover.
Hoor mooi wat staan hier: Daar moet met smeking, voorbidding en danksegging gebid word…

Vriende, dit is mos nou iets wat elkeen van ons kan doen. Almal van ons is om verskillende redes miskien nie in ‘n posisie om ander mense se nood te verlig nie – ons het nie almal die middele of geleenthede om kos en klere uit te deel nie. Almal van ons kan selfs nie eers ‘n boodskap van bemoediging aan ander oordra nie – jy’t miskien nie lugtyd op jou foon nie, of nie data om boodskappe te stuur nie. Maar: Almal van ons kan in gebed ons hande saamvou en intree vir ander. En ons het mos nou meer as genoeg tyd om te bid.

Paulus skryf hier aan Christene wat in ‘n samelewing leef waarin die volgelinge van Jesus maar in die minderheid was. Hulle was ook nie mense met mag en invloed nie. Hulle het wel ‘n mate van godsdiensvryheid geniet, maar hulle was eintlik net vedra, solank hulle net nie die sosiale orde versteur nie. Maar nou was hulle dikwels daarvan beskuldig dat hulle juis dít doen, omdat hulle probeer leef het soos wat Jesus vir hulle gewys en geleer het. En mense wat soos Jesus probeer leef en soos wat Hy leer, leef mos anders as wêreldse mense. Dis veronderstel om so te wees. En dit gee baie keer vir wêreldse mense aanstoot .
En nou wil Paulus vir hierdie volgelinge van Jesus sê: As julle teenstand beleef omdat julle leef soos wat Jesus geleer het, moenie in opstand kom nie. As julle te midde van teenstand ‘n rustige en ‘n stil lewe wil leef, moenie in opstand kom nie. Nee – BID!
Bid. Want die gebed van gelowiges het groot krag. Gebed verander dinge.
Bid, dan sal julle as gelowiges ‘n rustige en stil lewe kan leef in volkome toewyding aan God, en in alle eerbaarheid.

Bid.
Hier staan: Bid vir almal. Ja bid vir almal, want God wil graag dat almal gered word deur Jesus Christus. Onthou dit: Bid vir almal, en vir almal se redding.
En dan vra hy spesifiek: Bid vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen.

Vriende, dit is wat ons nou moet doen. In hierdie Korona-virus tyd, hierdie moeilike tyd vir almal, moet ons bid vir almal se redding, en ons moet in besonder bid vir dié wat regeer en dié wat gesag uitoefen. Ons moet bid met smeking, voorbidding en danksegging.

Julle weet ons kan ure daaraan spandeer om te kerm en te kla oor ons situasie. Ons kan ure mors deur die hantering van die situasie rondom die Korona-virus te kritiseer.
Die Here se Woord sê vanoggend vir ons ons moet eerder bid vir hulle wat regeer. Ons moet bid vir hulle wat besluite neem. Bid vir hulle vir wysheid – hulle het baie wysheid nodig. Maar bid ook vir almal wat gesag uitoefen – bid vir ‘n sin van regverdigheid, geregtigheid en integriteit in hulle optrede.

Miskien het julle ook hierdie week die whatsapp gekry wat vertel van die ervaring van die dominee van Carletonville wat in hierdie tyd een van sy lidmate, ‘n tannie met bloedkanker, vervoer het sodat sy bloed kan kry. Hy vertel dat hy by ‘n padblokkade deur die polisie afgetrek is. Hy dink toe – o aarde, hier’s nou moeilikheid. Hy wys toe sy permit vir die polisie, en hy verduidelik hoekom hy met die tannie op pad is. En toe vra die polisieman, ‘n kaptein vir hom watse werk hy dan doen? Hy sê toe hy’s ‘n maruti, ‘n predikant. En toe roep die polisiekaptein al sy personeel by die padblokkade bymekaar, en hy vra vir die dominee – bid asseblief vir ons, ons het dit baie nodig. Bid asseblief vir ons.

Gaan jy dit doen? Gaan jy vandag, gaan jy in hierdie tyd, tyd maak om besonder te bid: Vir almal, maar ook in besonder vir ons regeerders en vir almal wat gesag uitoefen?
In die Bybel in Praktyk staan hierdie kort opmerking: God is almagtig en alwetend, en het in sy voorsieningheid alles beskik wat gebeur. Tog wil Hy dat ons deur ons gebede meewerk aan die uitvoering van sy raadsplan. Hoe dit werk, weet ons nie. Ons weet net dat ons voorbidding groot krag by God het. Dink net hoe nodig het ons land se regeerders op alle vlakke ons volgehoue voorbidding!

Ek wil sluit deur vir ons die Blye Boodskap se vrye vertaling van ons Skrifgedeelte, 1 Tim 2, te lees.
Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God daarvoor dankie. Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ‘n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef. So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. God wil hê dat alle mense na Hom toe moet kom en by Hom leer wat waar is. Daar is mos net een God en daar is net Een wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Jesus Christus. Hy het Homself daarvoor gegee.
Amen

Gebed
Here, as ons vandag voor U buig, moet ons bely – ons bid te min.
En as ons bid Here, moet ons dit maar erken – ons gebede draai so om onsself en ons eie behoeftes.
Ons wil vandag opnuut vra: Here, leer ons bid.
Ja, vandag leer U ons om te bid vir alle mense – omdat U alle mense deur Jesus Christus wil red. Vader, ons bid dat die wonderlike evangelie mense se lewens nuut en vry sal maak. Soos wat U hierdie week vir ons ‘n heerlike bui reën gegee het sodat daar lewe en vrug en hoop kan wees, bid ons vir geestelike reën – vir geestelike lewe en vrug en hoop.
Maar U leer ons ook vandag om te bid vir almal wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen. Ons bid Here vir alle besluitnemers – gee asseblief wysheid en onderskeidingsvermoë, ja gee alles wat nodig is om besluite te neem wat inpas by U raadsplan. Ons bid ook vir almal wat gesag uitoefen – Here gee asseblief ook vir hulle alles wat nodig is om só op te tree, dat dit daartoe kan bydra dat ons ‘n rustige en stil lewe kan leef, in volkome toewyding aan U. Ons bid opnuut ook vir almal in die gesondheidsdienste en alle dienste waardeur ons gemeenskap gedien word.
Here, ons wil vra – wees ons, wees ons land, wees die mensdom genadig.
Ons bid dit alles in sy heilige Naam
Amen

Seën
Mag die Here elkeen van ons ‘n instrument van sy vrede maak.
Mag ons liefde saai waar daar haat is.
Mag ons vergifnis aanbied waar daar onreg is.
Mag ons geloof versterk waar daar twyfel is.
Mag ons hoop bring waar mense hoop verloor het.
Mag ons sy lig laat deurbreek in duisternis.
En mag ons vreugde bring waar daar hartseer is.
Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader,
en die gemeenskap van die Heilige Gees, is en bly met ons.
Amen