Sondag 28 Junie 2020

 

Oudtshoorn Moedergemeente
YouTube diens vir
Sondag 28 Junie 2020
Ds Smuts van Rensburg

Votum
Dit is goed om die Here te loof,
om u Naam te besing, Allerhoogste,
om elke môre van u liefde te getuig
en elke aand van u trou. (Ps 92:2,3)
Amen

Seëngroet
Liewe medegelowiges, genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Ja, vrede vir julle almal wat in Christus is. (1 Pet 5:14)

Lofsang
Ons gaan nou antwoord op God se genadegroet. Ons gaan ‘n lofsang sing – en jy kan sommer heerlik saam sing daar waar jy is.
Psalmbundel: Ps 146:1 en 6. En kyk net wat sing ons in v6: Hy sal altyd trou ons Heer bly. Dis darem lekker om daarvan seker te wees.

Geloofsbelydenis
Die tweede lied wat ons sing, is ons geloofsbelydenis. Ons sing met ons hele hart dat ons glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees: Lied 260:1,2 en 6

Aankondiging van Skriflesing
Ons gaan vandag uit die Here se Woord saam lees uit Kol 3:1-4. En as jy wil, kan jy van daar af verder lees tot die einde van hoofstuk 3.

Gebed
Maar voordat ons saam lees, gaan ons eers saam met Wian Vos bid as hy sing: Ek wil my gedagtes rig op dít wat daar bo is
Ek wil my gedagtes rig
op dit wat daar Bo is
Ek wil my gedagtes rig
op U, liewe Heer
Ek wil my gedagtes rig
op liefde en vrede
Aan U alleen wil ek
gehoorsaam wees

Meer en meer soos U
Minder van myself
o Here
U ken my denke,
verwagtings en drome
Lei my, o Heilige Gees
Ek wil in opregtheid lewe
Lei my, o Heilige Gees
Ek wil net soos Jesus wees

Skriflesing
Kol 3:1-4

Preek
Vriende, so ‘n paar dae nadat die president teen einde Maart die grendeltyd aangekondig het, het ons in ‘n boodskap uit die Woord gehoor dat ons hierdie tyd moet gebruik om regtig tot stilstand te kom. Om stil te word voor die Here. Om selfondersoek te doen. Om bestekopname van die lewe te doen.
Die een vraag wat elkeen van ons in hierdie tyd vir onsself moet vra is: “Waarmee is God besig in my lewe”?
Maar daarmee saam is daar ook ‘n tweede vraag: “ Waarmee is ek besig?”
En dan is die groot vraag natuurlik of hierdie twee – dít waarmee God besig is in my lewe, en dít waarmee ek besig is, of dit in lyn is met mekaar?

Wanneer ‘n mens oor hierdie vrae nadink, moet jy jouself eers vra: “Waarop fokus ek? Waarop lê my fokus in die lewe? Is my fokus op God self? Is my fokus op dít waarmee God besig is?

In Kol 2:20 herinner Paulus ons dat ons saam met Christus gesterwe het en dus dood is vir ‘n wettiese godsdienstige lewe, en dat ons ook dood is vir ‘n lewe asof ons aan hierdie wêreld behoort.
Maar dan sê hy in hoofstuk 3:1 dat ons ook saam met Christus opgewek is uit die dood.
Hoor mooi: saam met Christus gesterwe, maar ook saam met Christus opgewek! Daarom – so staan dit hier – moet ons strewe na die dinge daarbo waar Christus is. Daarom moet ons ons gedagtes rig op Hom rig, op die dinge van sy koninkryk, op die dinge wat ewigheidswaarde het, en nié op dinge van hierdie aarde nie.
Nou as Paulus dít sê, dan bedoel hy nie daarmee dat ons wêreldvreemd moet leef in dié sin dat ons glad nie moet leef nie. Nee, hy bedoel dat ons wêreldvreemd moet leef deur sekere goed te laat staan en deur sekere goed te begin doen.
Hy noem vanaf v5 dinge wat ons moet laat staan: Dinge soos onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid en sulke dinge. En ook ongehoorsaamheid aan God. Dis ‘n wêreldse manier van doen waaraan ons wat saam met Christus gesterf en opgewek is, nie wil meedoen nie.

Nee, as ons ons gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, op Christus, op sy koninkryk, dan groei daar in ons ‘n nuwe lewenswyse. ‘n Lewenswyse wat deur nuwe dinge gekenmerk word. Hy noem hierdie dinge vanaf v12. Hy noem dinge soos om meelewend te wees met ander, om goedgesind te wees teenoor ander, om nederig te wees, sagmoedig, verdraagsaam, geduldig, om te vergewe. En bo alles om mekaar lief te hê (v14). En om altyd dankbaar te wees (v15).

Maar dan gaan hy nog verder vanaf v18. Hy sê as jy jou gedagtes rig op Christus, as Hy jou fokus is, dan leef jy ook nuut in verhoudinge. En hy begin by die verhouding van ‘n man en ‘n vrou teenoor mekaar in die huwelik. ‘n Man en ‘n vrou tree op ‘n spesifieke manier teenoor mekaar op as hulle gedagtes op die Here en sy koninkryk gerig is. Ouers en kinders sê hy, tree ook op ’n sekere manier teenoor mekaar op, en so ook eienaars en slawe teenoor mekaar.

Om jou gedagtes te rig op die dinge daarbo waar Christus is, beteken dus nie dat jy sewe dae van die week in jou kamer moet sit met jou Bybel op jou skoot nie. (Dit sou goed wees as mens dit soms kon doen.) Maar dit beteken dat jy in die wêreld moet uitgaan en op ʼn nuwe manier gaan leef. Voluit gaan leef – terwyl jou oog die hele tyd op Christus gerig is.
Ons kan voluit leef, en die gawes en geleenthede wat die Here oor ons pad bring ten volle benut en ten volle geniet, ons kan in ons verhoudinge voluit leef – terwyl ons oë en ons gedagtes op die Here gerig is.

Terwyl ek voorberei, toe dink ek skielik aan motor bestuur. Dis mos nou wat jy moet leer as jy bestuur – jou oë moet die hele tyd op die pad wees. Jy moét ook ander dinge waarneem… en jy kan die rit geniet, en rondkyk… maar eintlik moet jou oë die hele tyd op die pad wees. Ek het seker daaraan gedink omdat ‘n leerlingbestuurder hierdie week amper voor my ingery het. Ek het dit sien kom, want ek het so in die hoek van my oog gesien dat die leerlingbestuurder afkyk na die rathefboom wat hy moet verander, in plaas daarvan dat sy oë op die pad bly.

Julle sien, as ʼn mens se oë op Christus gerig is, as Christus ons fokus is, dan leef ons op ‘n nuwe manier, met nuwe waardes. As ons oë op Christus gerig is, soek ons in alles die eer van sy Naam. As ons oë op Christus gerig is, sien ons alles teen die agtergrond van God se koninkryk, en dan sien ons alles teen die agtergrond van die ewige lewe. Ons kyk nie net meer vas in dit wat ons hier sien nie. Ons klou ook nie meer vas aan wêreldse dinge wat in elk geval sal vergaan nie.
En as ons fokus op Christus is, dan bekommer ons ons ook nie so erg oor dinge wat in elk geval nie so belangrik is nie. Dis mos wat Jesus ook geleer het – moet julle nie so kwel oor alles nie.

As ons oog op Christus is, op sy koninkryk, as ons dinge teen die agtergrond van die ewigheid sien, dan gebruik en geniet ons nog die aardse dinge wat god vir ons gee, maar ons gebruik en geniet dit op ‘n ander manier, volgens ander waardes, met ‘n ander lewenstyl, met ‘n ander doel. Ons kyk met ander oë na dinge, na mense, na verhoudinge. Want Christus is ons fokus, Hy is ons lewe.
Paulus skryf aan die Filippense: Vir my is die lewe Christus. (1:21)
En hy skryf aan die Galasiërs: Dis nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. (2:20)
Wat Paulus sê, is dat Christus is nie net die belangrikste in die lewe nie, Hy ís die lewe. Daarom, rig julle gedagtes op Hom. Fokus op Hom. Hou Hom voor oë. Fokus op Hom en op dit waarmee Hy in jou lewe besig is.

Weet julle, dit kan so maklik gebeur dat ons daai fokus verloor en op ander dinge fokus.
Ons kan op negatiewe dinge fokus – en dan verloor ons uit die oog dat Christus die dood oorwin het. Ons kan op goed fokus wat ons moedeloos maak – en dan raak ons terneergedruk en ons voel ons wil handdoek ingooi. Ons kan te veel op onsself fokus, op wat vir my goed en reg en lekker en die beste is – en dan vergeet ons dit gaan oor Hom, oor die eer van sy Naam. Ons kan te veel op wêreldse plesiere en rykdomme fokus – en dan vergeet ons dit gaan oor sy koninkryk.

In hierdie tyd van stil word en nadenke moet ek myself afvra:
– Wat is die dinge wat my aandag van Christus, van die dinge daarbo, van die koninkryk aftrek? Wat is die dinge wat ek miskien ʼn bietjie moet laat staan, of waarmee ek selfs heeltemal moet breek, sodat ek net op Hom kan fokus?
– Ek moet myself ook afvra, wat kan ek doen om my fokus op Christus sterker te maak? Wat kan ek doen, wat gaan my help, om meer gerig op Hom, op die koninkryk, op dinge met ewigheidswaarde, te leef? Watter geloofsdissiplines is daar wat my met my fokus kan help?
– En dan moet ons as gelowiges ook gaan dink: Hoe kan ons mekaar help om meer en meer op Christus te fokus? Hoe kan ek my vrou mekaar help, hoe kan ouers en kinders mekaar help, hoe kan familie, vriende, kollegas mekaar help om gedagtes te rig op dít wat daar bo is?
– Maar, dan moet ons ook bid, ons moet regtig bid dat die Here ons sal help om ons oë weg te draai van onsself, van ons eie begeertes, van ons eie sieninge en oortuigings, van ons eie belange. Ons moet dit ernstig en volhardend bid, want ons is van nature maar daartoe geneig om op onsself te fokus, op wat ék wil hê, op wat my pas, op wat vir my goed en lekker en reg is. En natuurlik moet ons bid dat die Gees ons ook sal help om ons oë weg te draai van wêreldse sieninge en menings – na Hom alleen.
Kom ons hoor vandag opnuut hierdie woord soos die Here dit vir ons laat opteken het. Miskien is dit vandag vir jou ʼn woord van aanmoediging – jy’t miskien hierdie woord net weer nodig gehad om jou aan te moedig om op die regte plek te fokus. Miskien is dit vandag vir jou ‘n woord van teregwysing – omdat jy iewers langs die pad fokus verloor het.

Hoor vandag opnuut:
1. Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
2. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,
3. want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Amen

Gebed
Here, ons dank U omdat U ons in hierdie tyd tot stilstand gebring het.
Omdat U vir ons ʼn tyd gegee het om diep asem te haal, om bietjie terug te staan en te kyk – na onsself, na die lewe, na ons verhoudinge, na ons prioriteite… na waarmee U in ons lewe besig is en waarmee ons besig is.
En dankie Here omdat U ons vandag opnuut herinner aan waar ons gedagtes, ons fokus moet wees.
Ons bely Here dat ons so vasgevang is in ons eie wêreldjies, in ons eie belange, in ons eie insigte.
Ons bely dat ons deur die Satan en wêreld verlei word om ons gedagtes op verkeerde plekke en dinge te fokus.
Kom, o Gees van God, kom, en draai ons oë en ons harte weer na die dinge daarbo waar Christus is…
Want, genadiglik!, het ons saam met Christus gesterwe, en is ons saam met Hom opgewek om nuut te leef. Daarvoor eer en dank ons U.
Amen

Seën
Ontvang nou die seën van die Here soos wat dit aan ons bedien word deur Anneli van Rooyen saam met die dowe leerders van Trans Oranje.