Pinkster 2020 Tema 6: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

Pinksterreeks: God se verlossingspad met ons
Tema 6: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
sodat ons waarlik vry kan wees
Skrif: Gal 5:1,13-25

Inleiding
Baie welkom by ons sesde boodskap van ons Pinksterreeks. Wat ‘n voorreg om dag na dag toegerus te word uit die kosbare, lewende Woord van die Here. Kom ons buig in gebed voor Hom en vra dat sy Gees ons harte sal aanraak.

Gebed (Lied 442)
Gees van God wat in my woon; breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon, kom en heilig my.
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God kom heilig my – breek die Woord vir my. Amen

Voor Skriflesing
Ons het hierdie week gehoor dat ons God moet loof vir sy verlossingsdade, omdat Hy die inisiatief neem om met ons die verlossingspad te loop. Hy wil ons verlos en seën deur Jesus Christus, sy Seun.
Maar omdat ons vanweë ons sonde so swak sien, het ons gehoor dat ons die groot oogspesialis moet vra om die katarakte van ons oë te verwyder, sodat ons beter kan sien. Ons moet bid dat die Gees ons oë sal oopmaak, ook deur die Woord:
*sodat ons onsself beter kan sien
*sodat ons God in sy liefde en genade kan sien en
*sodat ons kan glo

En nou is die goeie nuus dat as ek God se liefde en genade deur geloof aanvaar en my eie maak, dan stap ek op die verlossingspad saam met Hom as ‘n mens wat vry is. Die Woord sê in Gal 5: 1
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.
Mag die Gees die katarakte van ons oë afhaal as ons vandag uit die Woord hoor wat hierdie vryheid behels.

Skriflesing
Gal 5:1,13-25

Preek
Op ‘n dag vra ‘n kind vir my in die kategese-klas: Oom, wat moet ek hoor as ek hoor dat die Here my verlos het, of dat Hy my vry gemaak het? Weet julle, dis ‘n baie belangrike vraag wat hierdie kind vra. Wat beteken dit om vry te wees? Wat behels die vryheid waarmee Christus ons vry gemaak het? Wat behels die vryheid waarin die Gees ons wil lei?

Wel in die eerste plek beteken dit dat ons vry is van die ou lewe van slawerny.

Kom ons dink ‘n bietjie aan die Israeliete wat in Egipte slawe was. Jy ken mos die verhaal – so, sien in jou gedagtes die prentjie hoe swaar hulle gekry het. Maar dan sien jy ook hoe God hulle uit Egipte, uit die huis van slawerny uitlei. Dink net aan hoe bly hulle was!
En nou sê Gal 5:13 ons is tot vryheid geroep – soos die Israeliete wat uit Egipte wegtrek, weg van die swaar juk wat in Egipte hulle skouers rou geskaaf het.
Ons is tot vryheid geroep. Dit was in die ou tyd die term waarmee ’n slaaf vry verklaar is – jy word tot vryheid geroep. Vir enige slaaf moes dit die mooiste musiek in die ore wees om te hoor: Jy is vry!
God het ons wat slawe van die sonde was, in Jesus Christus vry gemaak, en die Heilige Gees wil ons nou lei om as vry mense te leef. Ons is tot vryheid geroep!

In die tweede plek beteken dit dat ons bevry is van die juk van die wet. (Bevry van sonde, maar ook van die juk van die wet.) Ons is nie meer slawe van die wet nie.
Die wet lê nie meer soos ’n swaar juk op ons nekke, om ons te druk en te skaaf en ons knieë lam te maak en ons bang te maak en ons moedeloos te maak nie. Ons word nie meer deur die wet veroordeel nie.

Maar – nou moet ons mooi luister, dit beteken nie dat ons die gebooie van die Here moet opskeur asof dit nie meer belangrik is nie. Nee, as vrygemaakte mense, vry deur Jesus Christus, geniet ons die vryheid om juis volgens die bedoeling van die wet van die Here te leef. Om as nuwe mense te leef, soos wat God in sy wet van ons vra. Om te leef soos Hy wil hê ons moet leef. Nie omdat ons moet nie, nie omdat ons bang is vir straf nie – en dis die punt! – nee, ons doen dit omdat ons vry is. Omdat ons wil. Omdat Christus ons harte kom nuut maak het en die Gees die liefde van Christus in ons harte laat brand. Ons wil as vry mense volgens die gebooie van die Here leef, ons het sy gebooie lief, omdat die Gees van Christus ons lei in sy wil. Ons leef nie volgens die letter van die wet nie, maar volgens die gees, volgens die diepste bedoelinge van die wet.

Daarom beteken die vryheid wat ek in Christus Jesus ontvang, beslis nie bandeloosheid nie. Dit beteken nie wetteloosheid nie. Ek dink ek was nog ‘n kind toe iemand dit vir my verduidelik het deur die beeld van ‘n trein. Dink ‘n bietjie – wanneer is ’n trein vry? ’n Trein is vry as dit op die spoor loop? Wanneer is ’n vis vry? ’n Vis is vry as dit in die water is. Wanneer is ek as nuwe mens, as verloste mens vry? Ek is vry as ek onder leiding van die Heilige Gees leef! Ek is vry as ek volgens God se wil en God se riglyne, God se gebooie leef.

1)Vry van die ou, sondige lewe waar ek ‘n slaaf van sonde was.
2)Vry van die swaar juk van die wet

Maar dan beteken vryheid ook in die derde plek dat ek bevry word van dinge wat my lewe vernietig, en ook my verhoudinge vernietig en ook ander mense se lewe vernietig.

Ons word deur Jesus Christus bevry van slegte, afbrekende, skadelike, verslawende, onaangename dinge. Die Woord noem vir ons hier in Galasiërs die dinge waarvan Christus ons vry maak. Hier staan Hy maak ons vry van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Gaan lees dit ‘n bietjie weer nadat jy na hierdie boodskap geluister het – v19-21. Die dinge wat hier genoem word is alles dinge wat ‘n mens se lewe vernietig. Maar dit is ook dinge wat jou verhoudinge vernietig, en wat ander mense vernietig, en wat natuurlik ook jou verhouding met God vernietig. Hierdie dinge is beslis nie tot eer van God nie. Dis nie wat Hy wil hê nie. Maar wanneer Christus in ons woon, wanneer ons ons deur die Gees van Christus laat lei, maak Hy ons vry van hierdie dinge.

Hy bevry ons van hierdie dinge om onder beheersing van die Gees met nuwe vrug te leef.

Ja, vryheid in Christus, vryheid onder leiding van die Gees beteken om waarlik vry te wees. Dit beteken om vry te wees om as ‘n nuwe mens te leef. Vry om nuwe vrug te dra. Vrug wat getuig van lewe. Vrug wat vreugde bring – vir jouself, vir ander, en boweal vir God.

Vryheid onder die leiding van die Gees voeg waarde aan lewe toe. Dit maak heel. Dit bring dinge na vore wat die lewe die moeite werd maak. Dinge wat die lewe makliker maak, mooier, aangenamer dit versier die lewe soos die Bybel sê – maar, Let Wel, nie net vir myself nie, maar ook vir mense rondom my. Maar hierdie vrug voeg ook waarde toe aan verhoudinge met ander mense.
V22 en 23 noem hierdie vrug, hierdie mooi dinge wat onder die beheer van die Gees in my lewe na vore kom – en gaan dink ‘n bietjie wat doen dit aan jouself, en aan ander, en aan jou verhoudinge met ander – die vrug wat die Gees na vore kom is: Liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.
‘n Mens wat hierdie dinge leef, wat hierdie vrug dra, is mos waarlik vry!
Maar weet jy, die belangrikste is dat hierdie vrug is ook tot eer van die Here! Deur hierdie vrug te dra, leef jy eintlik volgens God se bedoeling, volgens sy wet, tot sy eer. V23 eindig met die woorde: Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Maar dan beteken vryheid in Christus, vryheid onder leiding van die Gees nog iets. Vryheid beteken ook dat ek ander mense wil dien. Vir ‘n ongelowige sal dit na ‘n teenstrydigheid klink, maar dit is wat gebeur as die Here jou vry gemaak is, en jy deur die Gees gelei word – dan wil jy ander mense dien.

Aan die een kant is ons nie meer slawe nie – ons is vry. Maar aan die ander kant wil ons slawe wees, ons wil mekaar se bediendes wees. Ons is só vry dat ons mekaar vrywillig wil dien.
Vers 13 sê: Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

Die woord wat met dien vertaal word, beteken om slawediens te lewer aan ander. Maar hierdie diensbaarheid is nie omdat ek moet nie, dis omdat ek dit wil doen – uit dankbaarheid vir my vryheid in Christus! Dis diensbaarheid met ’n heel nuwe gesindheid. Wanneer Christus my vry gemaak het, en die Gees van Christus my lewe beheer, kom die gesindheid van Christus al hoe meer in my lewe na vore. Dan wíl ek dien, soos Christus. Dan wíl ek ander se laste dra, soos Christus. En dit is waarvan Gal 6 praat. Dan wíl ek, omdat die lewe nie net meer om myself gaan nie, maar om die koninkryk van God, om die eer van God en om ander mense. Dis die wonderlike, dat Christus my ook van myself en van my eie klein koninkrykie wil vry maak. Ek wíl dien… omdat ek aan die Here wat my liefhet, my liefde wil bewys. Ek wíl dien, omdat ek aan die God wat aan my genade geskenk het, my dankbaarheid wil toon. Ek wíl dien, omdat ek sy liefde en genade met ander wil deel.

Mag die Gees van Christus wat ons vry gemaak het ons in die ware vryheid lei! Ons moet bid dat die Heilige Gees ons so sal lei.
Amen

Gebed
Vader, ons dank U vir die kosbare bloed van u Seun
vir die duurste prys wat betaal is
sodat ons vry kan wees – waarlik vry
vry van die slawerny van sonde
vry van die las en oordeel van die wet
vry van ‘n lewe wat slegte vrugte dra
Ons dank U vir die inwoning en leiding van u Gees
sodat ons goeie vrug kan dra
vrug tot eer van u Naam
Kom o Gees van God, vul ons en lei ons
tot dienbaarheid
sodat ons u genade en liefde aan ander om ons kan uitdeel.
Ons bid dit alles in Jesus Naam.
Amen