SONDAG 7 JUNIE 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
YOUTUBE BOODSKAP IN GRENDELTYD
SONDAG 7 JUNIE 2020

Verwelkoming
Goeiedag vriende op hierdie Sondag – die dag waarop ons opnuut herinner word aan dié Sondag toe die graf leeg was. Jesus het die dood oorwin. Ons dien ‘n lewende Here.
Ja, ons verlange word net al hoe groter – ons verlange na die dag as ons weer skouer aan skouer in die kerkgebou bymekaar kan kom om ons geloof saam te bely, om die Here te verheerlik met ons sang, om stil te word rondom sy Woord, en om saam in aanbidding voor Hom te buig. En om Hom saam te dien met ons offergawes.
Maar omdat ons, soos ons gemeente se leuse sê “liefde wil laat leef”, het ons besluit om ons risiko’s vir blootstelling aan daardie gevaarlike virus so laag as moontlik te hou, en eers op ‘n later stadium ons eredienste in die kerkgebou te hervat. Terwyl ons nog nie bymekaar kan kom nie – kom ons word stil voor Hom, in ons huise… terwyl ons daarvan bewus is dat ons een in die Gees saam met ander volgelinge van ons Here Jesus in sy teenwoordigheid is.

Votum
Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie. Amen

Seëngroet
Liewe medegelowiges,
genade vir julle en vrede van God die Vader
– Hy sorg vir ons,
en van sy Seun
– Hy het waarlik opgestaan,
en van die Heilige Gees
– Hy leef in ons.

Geloofsbelydenis
Kom ons verenig met mekaar en met miljoene medegelowiges oor geslagte heen, en oor die wêreld heen, as ons ons geloof bely. As jy wil, kan jy dit sommer hardop doen saam met jou huisgenote waar julle bymekaar is:
Ek glo in God die Vader
die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus
sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan
‘n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe.

Lofsang
Kom ons loof die Here met die bekende Lied 464:1,3
Dink net daaraan – as jy nou daar in jou huis met jou hele hart en uit volle bors sing, is daar baie ander wat ook in hulle huise hierdie lied sing.

Die wil van die Here
Kom ons hoor vandag opnuut weer wat die Woord vir ons leer, hoe behoort die liefde te lyk wat ons as volgelinge van Jesus in hierdie wêreld moet leef.
Lees: 1 Kor 13:4-7

Toewyding
Ons weet ons kan nie hierdie liefde uit onsself leef nie. Hierdie liefde is die vrug van die Gees. Daarom moet ons hierdie liefde in gebed van die Here vra. Kom ons bid Lied 334:1,3,4

Gebed
Voordat ons saam luister na die Here se Woord en die verkondiging daarvan, buig ons in aanbidding voor Hom.
Here, ons oë is op U gerig.
U is ons hoop, ons krag, ons inspirasie.
By U vind ons wysheid.
Ja Here, U is ons alles
– die sin en die doel van ons bestaan.
Ons wil vanoggend vra dat U ons sal help
– dat ons nie ons oë sal laat afdwaal
na die storms en die golwe om ons nie.
U weet, ons is maar net mense Here,
dit gebeur so maklik.
Help ons om ons oë op U gerig te hou.
Om net aan U vas te hou.
Meer nog, om te weet, te glo,
dat U ons vashou.
U, die troue Verbondsgod,
die God aan wie se liefde daar geen einde is nie,
hou ons vas.
Hoe wonderlik om dit te weet
– om dit juis in hierdie tyd te weet.
Here, by U, by U alleen, vind ons rus.

Kom dan ook vanoggend Heer,
Kom deur u Gees,
en raak ons harte aan
as ons rondom u Woord stil word.
Wek in ons geloof.
Brei ons harte tot toewyding aan U alleen.
Ons bid dit in Jesus Naam. Amen

Woordverkondiging
Ek wens ons kon in hierdie tyd bietjie met mekaar gesels oor die vraag: Wat beteken hierdie grendeltyd vir jou – geestelik? Wat beteken hierdie tyd vir jou in jou verhouding met die Here? Wat het jy in hierdie tyd ontdek, of miskien herontdek: Van jouself? Van God? Van jou verhouding met God? Wat het jy geleer van die verlossingspad wat Hy met jou loop?

Die Boodskap wat ek vandag uit die Here se Woord aan julle bring, broei in die grendeltyd al ‘n paar weke lank in my eie hart. Dít wat ek in hierdie Skrifgedeelte leer, is ‘n ou waarheid. Maar dis asof ek net weer opnuut begin verstaan watter belangrike ding die Here hier vir ons, vir my wil leer.

Verlede jaar, so by September se kant, het ek saam met die skriba van ons gemeente die kerk se almanak vir 2020 gereed gekry. Ons het vooruit gekyk en die jaar se beplanning gedoen. En toe, aan die begin van die jaar, toe gaan sit ek met die almanak langs my dagboek, en ek skryf alles in my dagboek wat in die jaar moet gebeur en wat gedoen moet word. Ek het ek sommer ook uitgewerk wanneer ek verlof gaan neem. En toe het ek en Mariaan sommer klaar besluit waar ons met ons verlof wil gaan, en ons het klaar ons kampplekke bespreek en deposito’s betaal.

En so het ons die jaar met entoesiasme afgeskop en begin doen soos ons beplan het en soos ons gedroom het… En toe – net so, op ‘n dag in Maart, kom daar ‘n onsigbare virus en trek ‘n streep deur al ons beplannings en drome vir 2020. Dwarsstrepe deur die almanak, deur my dagboek en deur my drome.

En in hierdie tyd van dwarsstrepe oor al my planne en drome, kom die Here deur sy Woord en herinner my in Jak 4:13-17 aan hierdie belangrike ding.

Lees: Jak 4:13-17

V13 sê “Julle wat sê ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en … ons sal so lank daar bly… en ons sal so en so maak…”
Dis wat ek doen. Ek stel die almanak op. Ek doen my beplanning en skryf alles in my dagboek. Ek doen my besprekings, betaal my depositos. Ek droom wat ek alles gaan doen.
En dan sê v14: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie.”

Wat Jakobus hier doen, is om ons te herinner aan die nietigheid en onsekerheid van die lewe. Hier staan “Ons lewe is maar soos ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en dan in ‘n oomblik verdwyn.” As ek dié vers lees, sien ek altyd daai wasem op my motor se voorruit, en dan draai ek die verwarmer aan en – sommer so, in ‘n oomblik, is dit weg. So is ons lewens – nietig. ‘n Klein, onsigbare virus kom en vee al my beplannings en drome uit.

Nou hierdie gedagte, kan mens nogal onseker maak. Dit kan jou selfs bang maak. Dit kan maak dat jy die vraag vra: Maar moet ‘n mens dan nou nie beplan nie. Moet ons dan nou nie ‘n almanak hê en ‘n dagboek met inskrywings, en moet ons nie ‘n jaar vooruit besprekings doen en deposito’s betaal nie? Is dit dan nou verkeerd?

Nee, luister wat sê v15: “Julle moet eerder sê ‘As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen’.”

Ja, natuurlik mag ons beplan en droom. Ons moét beplan – ‘n gelowige het ‘n verantwoordelikheid om te beplan en ons moet dit ordentlik doen. En ons moét droom – oor wat God alles in ons en met ons en deur ons wil doen. Maar – en dit is die belangrike punt: Ons moet in al ons beplannings en drome met God rekening hou.

“As die Here wil en ons lewe” – staan hier. Vroeër jare het ons dikwels in briewe en geskrifte gesien dat daar geskrywe staan DV – wat staan vir Deo Volente.

En dit beteken “as die Here wil”. Mense het mekaar laat weet of in briewe geskryf ons gaan vergadering hou, of ons gaan soontoe of soontoe ry, of ons gaan vakansie hou, of ons gaan by julle kom inloer – en dan eindig hulle die sin met DV – Deo Volente = As die Here wil.

Gelowiges het dit geskryf om daarmee te sê ‘ons beplan, máár ons hou met God rekening’. Dit gaan gebeur, as Hy wil.

Hierdie gedeelte gaan daaroor dat daar in ons hart ‘n gesindheid van nederigheid en afhanklikheid voor God moet wees. Nederigheid en afhanklikheid.

Hoor wat staan hier in v16: Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot.
Daai selfversekerdheid, daai grootpratery, daai bravade van “man, ek gaan dit en dat doen, ek gaan so en so maak…” dit hoort nie by ons as volgelinge van Jesus nie. Wat by ons hoort is ‘n gesindheid van nederigheid, afhanklikheid. Ek kan beplan en ek kan droom – maar ek is klein voor die Here. Hy’s die Almagtige voor wie se aangesig ek leef, Ek leef uit sy hand. En ek moet dit die hele tyd besef. Ek kan beplan en ek kan droom, maar in alles moet ek onthou, en moet ek sê, en in alles moet ek bid: Here, as dit U wil is, beplan ek om so en so te maak, en om daarnatoe of daarnatoe te gaan.

‘n Onsigbare virus het in grendeltyd vir my weer die groot waarheid van Jak 4:13-17 onderstreep van wat my gesindheid in my hart moet wees, en wat my houding voor die Here moet wees. Ek moes opnuut leer van nederigheid, van afhanklikheid, van rekening hou met die Here.
Amen

Gebed
Here, hierdie tyd is vir meeste van ons nie ‘n lekker tyd nie. Dis vir meeste van ons nie ‘n maklike tyd nie. Ons beplanninge en drome vir 2020 lê aan’t skerwe.
Maar dankie Here, omdat ons U in hierdie tyd opnuut leer ken. Dankie omdat ons U beter leer ken, en wat u wil vir ons lewens is.
Dankie Here omdat U ons vandag weer leer van nederigheid voor U, van beplanning en droom in afhanklikheid voor U. Here, help ons om in alles, in álles in die lewe met U rekening te hou. Want U is God. En ons is maar net mens. Klein. Nietig. Verganklik.
Hou ons vas Here, hou ons asseblief styf vas. Amen

Ons gaan nou Lied 280 sing – ‘n lied wat sê dat God toesig hou oor ons lewenspad, en dat Hy die een is wat in sy liefde en genade ons hand vashou op hierdie pad.

Seën
Here, maak my ‘n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar daar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.

Mag die genade van ons Here Jesus Christus,
en die liefde van God ons Vader,
en die gemeenskap van die Heilige Gees met ons wees en bly.
Amen

Video 9
Orrelspel van ‘n Liedboek lied (52sek)