Hy is die hoof van die kerk

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan (Kol 1:18).

Ons bely nie net dat ons aan ’n “heilige” en “algemene” kerk glo nie, maar voeg ook by ’n “Christelike” kerk. Kerkhistorici sê dié woord bely niks wesenlik nuuts nie, want dit beteken ook “heilig” en “algemeen”. Buitendien, kan die kerk iets anders as Christelik wees? Is dit nie toutologie nie? Tog staan dit daar! Wat bedoel ons dan wanneer ons sê ons glo in ’n Christelike kerk?

Eerstens en by herhaling: Christus is die hoof van die kerk. Hy is die Een wat die kerk in die lewe geroep het, dit deur die eeue heen bewaar het, en dit eendag ten volle sal verheerlik. “Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan” (Kol 1:18). ’n Troosryke gedagte! Die kerk kan nooit deur die Bose of die wêreld oorwin word nie, want ons is in Christus se hand.

Hieroor kan ons so bly wees dat ons daaroor wil sing: “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede! As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede” (Ges 218:1).

Tel daarom jou kop op en kyk vorentoe. Sing oor die heerskappy van ons Here. Want die kerk waaraan jy behoort, is Christelik.

Die kerk sal nooit deur die Bose oorwin kan word nie.

Here, wees ook my Hoof en Herder. Amen.

Johan Cilliers

Johan Cilliers is verbonde aan die Kweekskool van die Universiteit Stellenbosch. Sy vakgebied is Homiletiek en Liturgie. Johan is die skrywer van talle akademiese publikasies en artikels asook populêre godsdienstige boeke. Vanjaar se dagstukke vir Boodskap vir Vandag kom uit Johan se jaardagboek Die dag is vol genade.