16 Desember 2020

Liewe gemeente

16 Desember is al vir baie jare ‘n publieke vakansiedag in Suid-Afrika. Dit was altyd bekend as Geloftedag, maar met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, het dit verander na Versoeningsdag.

Omdat Geloftedag gevolg het op die gebeure by Bloedrivier in 1838, toe die Voortrekkers ‘n gelofte aan God afgelê het, is die 16e Desember deur die nasate van die Voortrekkers as ‘n godsdienstige vakansiedag (soos ‘n Sondag) gevier. Dit is waarom ons vandag nog in baie gemeentes op 16 Desember ‘n erediens hou. Hier in Oudtshoorn hou al die NG-gemeentes saam ‘n erediens in Moedergemeente.

By vanoggend se erediens het ds Andries Potgieter van Welgeluk die Woord bedien uit Jeremia 29:1-11. Dit handel oor die volk van die Here wat hoor dat hulle vir 70 jaar in ballingskap sal wees. Sjoe, dis nogal slegte nuus om te kry. Maar dan sê die profeet van die Here dat hulle moet voortgaan met hulle lewe, en dat hulle (anders as die heidene om hulle) die Here, die Almagtige, daar in ballingskap moet dien. In die slegte en moeilike tye wat ons beleef (Covid19, politiek, ekonomie, ens), moet ons voortgaan met ons lewe hier in Suid-Afrika, hier waar die Here ons kom plant het, en ons moet as gelowiges (anders as die heidene) die Here, die Almagtige, en sy koninkryk hier dien.
Gaan lees gerus Jer 29:1-11 en dink na oor hierdie boodskap.

Maar terwyl die Gelofte van die Voortrekkers voor die slag van Bloedrivier vanoggend gelees is, het ek gedink – die Voortrekkers se lewens was in gevaar teen die oormag van die vyand. Hulle het hul in geloof na God gedraai. Hy was hulle enigste hoop op uitkoms. Ons is vandag omring deur ‘n onsigbare vyand (Covid19), ons voel bedreig deur onstabiele politiek en ‘n wankelende ekonomie, moet ons ons nie juis nou weer, in die taal van die Gelofte, na God draai nie? Wil jy en jou gesin nie weer vandag opnuut na die Here draai met die gelofte in die hart dat julle Hom alleen wil dien nie?

Ek stuur vir jou ‘n musiekvideo met die woorde van die gelofte van die Voortrekkers (soos voorgehou deur Sarel Cilliers) voor die slag van Bloedrivier.
Seënwense.
Ds Smuts van Rensburg