Boodskap 31 Maart (inperkingstyd)

n Boodskap vir nadenke in die tyd van “lockdown” agv die Korona-virus
31 Maart 2020

Goeiedag vriende! Hoop dit gaan goed met julle almal in hierdie tyd van afsondering!

Bly positief – daarom, hou jou met positiewe dinge besig! Hou moed – daarom, bemoedig mekaar! Behou jou sin vir humor – daarom, geniet die mooi en vrolike en alles wat jou laat lag en glimlag! En behou jou geloof – daarom, voed jou geloof deur die Here se Woord en gebed.

Ek glo dat baie van julle ook soos ek hordes whatsapp-, sms- en e-pos-boodskappe in hierdie tyd kry. Dis goed dat ons vir mekaar boodskappe stuur – ek dink ons help mekaar. Sommige van die boodskappe laat my lekker lag – dankie daarvoor! Ander boodskappe laat my kopkrap – dis goed, dit hou my verstand besig. En ander boodskappe laat mens dieper dink – dankie ook daarvoor, want ek dink inderdaad hierdie tyd van afsondering gee vir ons tyd om ‘n bietjie stil te sit en na te dink… sommer oor baie dinge.

So kry ek vanoggend op my broer- en suster whatsapp-groep die volgende boodskap wat my sommer vroegoggend diep aan die dink gesit het. Ek deel dit met julle, met die gebed dat dit jou ook aan die dink… en aan die bid sal sit. Die boodskap wat ek gekry het lui so:
We slept in one world and woke up in another.
Suddenley, Disney has no more magic, Paris is no longer romantic, and in New York everyone sleeps and the Chinese Wall is not a fortress anymore.
Suddenly, hugs and kisses become weapons, and not visiting parents and grand parents becomes an act of love.
Suddenly we realized that power is not that valuable and money is not that powerfull.

Ek weet nie wie dit geskryf het nie, maar dis so waar. Kom ek lees dit weer vir jou – herhaal.

Toe ek dit lees, toe besef ek hierdie Korona-virus het alles verander. Dit het alles in die hele wêreld verander. Niks is meer diesellfde nie, en niks gaan die dag as die virus onder beheer is, weer dieselde wees nie. Die normaal van gister, gaan nie meer normaal wees nie.

Natuurlik hoop ons almal daar is sekere dinge wat weer na normaal kan terugkeer – dat dit weer kan wees soos voor die Korona-virus.
Maar weet julle, ons moet regtig as gelowiges bid dat alles wat voor die Korona-virus ‘normaal’ was, dat dit nie weer deel van ons bestaan sal wees nie. Te veel dinge wat nooit moes gewees het nie, het oor die jare heen ‘normaal’geword. Ons het begin dink dat dit maar reg is so. Ons het dit aanvaar, daarmee saam geleef, daaraan meegedoen. Ons het as samelewing, en as individue, weg beweeg van God se normaal. Van dit wat vir God se kinders reg, en goed, en edel, en heilsaaam, en heilig is.

Ons moet hierdie 21 dae van afsondering benut deur ‘n nuwe soeke na God se wil, God se normaal.

Ds Cornie van der Merwe het Sondag in sy preek gepraat van die man wat vir hom gesê het: Weet jy, miskien is die Here besig om die wêreld te reset. Miskien wil Hy die ou dinge net weer heel en nuut maak, om te wees soos wat dit sy bedoeling was. Miskien is die Here besig om sy kerk te reset. Of miskien wil die Here hierdie virus en hierdie tyd van afsondering gebruik om my te reset. Reset na God se normaal.

In Handelinge lees ons van die vervolging van mense wat in Jesus glo, want dit was nie in die wêreld van daardie tyd normaal om in Jesus te glo nie. Van die apostels is selfs gevang en in die tronk gestop omdat hulle teen die normale ingegaan het. Maar dan verskyn daar ‘n engel in die nag daar in die tronk aan hulle en sê “Gaan verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Hand 5:20) Gaan verkondig die boodskap van nuwe lewe, die boodskap van Jesus, die boodskap van God se normaal. Want dit is waarvoor Jesus na hierdie wêreld gekom het – om dinge weer heel en reg en goed te maak, soos God dit bedoel het: God se normaal.

Miskien moet daar in die wêreld, miskien moet daar in die kerk, miskien moet daar in my ‘n nuwe wedergeboorte plaasvind – ‘n geboorte van dit wat nuut, en goed en heel is. ‘n Geboorte van God se normaal. En dis net die Here self wat deur sy Gees hierdie normaal kan gee. Titus 3:5 sê Hy doen dit deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees nuwe lewe gee.

Is dit nie juis die boodskap van Paasfees nie – ja, ons vier binnekort Paasfees. In 1 Petrus 1:3 word al die lof en die eer aan God, die Vader van ons Here Jesus gegee, omdat Hy deur die opstanding van Jesus aan ons nuwe lewe gee. Nuwe lewe – wedergebore, gereset na dit wat goed en reg en heel is. Gereset na God se normaal.

Terwyl ons in hierdie tyd almal hoop dat alles tog so gou as moontlik weer na normaal kan terugkeer, moet ons tog ook hoop, en bid, dat alles nié na die normaal wat ons geken het sal terugkeer nie. Ons moet bid vir die wêreld, vir die kerk – ook vir die NGK, ons moet bid vir ons self vir ‘n wedergeboorte, ‘n reset, ‘n nuut word, ‘n terugkeer na God se normaal.
Mag die Heilige Gees dit doen – in die wêreld, in die kerk, in my en jou lewe.

Kom ons gaan dink bietjie oor die normaal wat ons deur die jare aan gewoond geraak het, maar waarvan ons moet wegstap.
Maar kom ons gaan dink ook weer oor God se normaal – sy wil.
Maar die heel belangrikste, kom ons bid vir ‘n wedergeboorte, ‘n reset na God se normaal.

Seënwense tot ons weer gesels.
Pas julleself mooi op.