So oefen jy die regte dringendheid in

Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer ’n bewys van genade kon ontvang. Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe (2 Kor 1:15-16).

John Kotter is ’n wêreldleier op die gebied van verandering in organisasies. In sy boek A Sense of Urgency skryf hy dat tot 70% van alle mislukkings in tye van verandering toegeskryf kan word aan ’n gebrek aan dringendheid by mense. Die meeste organisasies wat nooit hulle indrukwekkende planne of drome kan deurvoer nie, verwar dringendheid met gejaagdheid. Daarom waarsku Kotter teen vals dringendheid.

Jerry Seinfeld, een van my gunsteling-komediante, help my ook met die regte soort dringendheid. Hy vertel dat hy ’n kalender in sy huis het waarop hy elke dag ’n groot X maak wanneer hy ’n stukkie humor neergepen het. Die geheim, sê hy, is om een deurlopende rooi X op die jaarkalender te hê. Dringendheid is die regte vuur in jou binneste wat jou elke oggend laat opstaan. Dringendheid laat jou nie een aand gaan slaap sonder dat jy aan jou hemelse drome gebou en groei beleef het nie.

Doodgewone mense wat buitengewone lewens in die Here se oë leef, verstaan alte goed van dringendheid. Vra maar vir Maria. Sy kon nie anders as om aan Jesus se voete te gaan sit nie. Niks anders het vir haar saak gemaak nie. Sy wou nie vir Hom ’n onvergeetlike ete kook of Hom beïndruk met al die wonderlike dinge wat sy doen nie. Maria wou net stil-stil aan haar Heer se voete sit.

In 2 Korintiërs vertel Paulus hoe buigsaam hy moes wees om sy planne te verander na die Here se wil. Daarom is dié woorde van Len Sweet so treffend: “If I can tell you where I will be a year from now, I will be in control of my life. And I am not. I just follow Jesus.” Moenie so haastig wees en so fyn beplan dat jy dit vir jouself moeilik maak om vandag al vir Jesus te volg nie. Maak eerder met dringendheid tyd om by Jesus se voete te sit sodat jy sal weet waarheen Hy jou lei.

Here, gee my die dringendheid om nie uit te stel nie, om vandag al by u voete te sit en vandag reeds te volg waar U lei, al beteken dit ek moet my eie planne verander. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)