Erediens 10 Januarie 2021

 

Môresê

‘n Dogtertjie in ons gemeente het my hierdie week verras. Toe ek haar vra of sy die lekker lang vakansie geniet, sê sy nee, sy verlang skool toe. Sy verlang om by haar maatjies te wees.

Baie van ons geniet nie die lang “kerk-vakansie” nie. Ons verlang daarna om saam met ons medegelowiges te wees en om saam die Here te dien en aanbid. Ons sal die dag as ons weer eredienste kan bywoon, saam met die Psalmdigter (Ps 122) sê “ek was bly toe hulle vir my gesê het ‘kom ons gaan na die huis van die Here toe’.”

Intussen word ons deur die gevaarlike virus en die inperkingsmaatreëls verhoed om eredienste by te woon. Maar mag ons nooit in ons persoonlike toewyding verslap nie (Rom 12:11). Maak soos wat ons in die kinderliedjie sing: “Lees jou Bybel bid elke dag.” Hou saam met jou gesin huisgodsdiens. Bid vir medegelowiges. En kontak jou medegelowige om hom/haar te bemoedig – dra mekaar se laste. En onthou om oral waar jy as gelowige beweeg die groot opdrag uit te voer – laat Jesus se liefde leef!

Groete en seënwense vir die week wat voorlê!