Erediens 14 Maart 2021

Môresê liewe lidmate, familie en vriende.

Dit is en bly vir my ‘n baie groot voorreg om die Woord van ons Heer te verkondig. Covid19 het ons gelei en gedwing om die Woord deur nuwe kanale te verkondig. Ja, mens kan eintlik ons Vader dank vir whatsapp en Youtube, ens. Dankie omdat jy my toegelaat het om die Woord op hierdie manier met jou te kon deel.
Maar hierdie moontlikhede moet vir ons maar net hulpmiddele bly. Dit is nie die ideaal nie. Dit kan en mag nooit die fisiese saamwees (waarvan Covid19 ons beroof het) vervang nie.
Die Israeliete wat deur die Here uit die slawehuis van Egipte bevry is, het nie virtueel saam deur die woestyn getrek nie. Nee, hulle was fisies saam op reis… op pad na die beloofde land. Die Nuwe Testamentiese gelowiges het nie, na hulle Jesus ontmoet het, elkeen by die huis gesit en hulle op hulle eie in hulle nuutgevonde vergifnis verbly nie. Nee, hulle het hulle by die ander gelowiges gevoeg en saam met hulle gesing, aanbid, brood gebreek, en hulle het mekaar bemoedig. Volgelinge van Jesus wil SAAM op weg wees – op pad na die beloofde land! En ons het mekaar baie, baie nodig tydens die moeilike woestynreis…

Met hierdie woorde wil ek sê – mag ons almal, wanneer die virus en regulasies en ons gesondheid dit moontlik maak, terugkeer na die samekomste van die gemeente. Mag ons met nuwe oorgawe en ywer, en met diensbaarheid en offervaardigheid, meeleef. (Ek dink nou sommer aan Hebr 10:25)
Mag ons Youtube as wonderlike hulpmiddel gebruik, maar mag dit nooit vir ons die nuwe (gemaksugtige) normaal word nie!

Oudtshoorn Moedergemeente is in lyn met veiligheidsmaatreëls stadig maar seker op pad na “normaal” – 100 mense daag vir die erediens in ons groot kerkgebou op, ons saai die eredienste per TV na twee ouetehuise uit, en ‘n groot getal kinders woon Sondae kategese by in die saal en in die buitelug.
Hierdie is dus my laaste Youtube erediens. (Behalwe as ons deur veiligheidsmaatreëls weer strenger inperking beleef.)

Mag die Lydenstyd en komende Paastyd vir ons almal tot ware seën wees, en ons tot nuwe toewyding aan ons Heer en Heiland bring.

Groete en seënwense.
Smuts