Boodskap in Lydenstyd (7e Lydensweek) en Korona-virus 5 April 2020

 

Boodskap in Lydenstyd (7e Lydensweek) en Korona-virus – 5 April 2020
Ds Smuts van Rensburg – Oudtshoorn Moedergemeente

Votum en seëngroet
Ek kyk op na die berge. Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.
My hulp kom van Hom wat trou bly tot in ewigheid.
Ja, my hulp kom van Hom wat nooit, nooit die werk van sy hande laat vaar nie.
Amen

Geliefdes, ek groet julle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Genade en vrede vir julle.

Geloofsbelydenis
Vriende, dis so wonderlik dat ons in hierdie onseker tyd geanker kan wees in die geloof. Ja, dat ons geanker kan wees in die Here self. Want ons kan saam met die kerk oor eeue bely, en ons kan dit vandag in hierdie onseker wêreld saam met miljoene medegelowiges bely, dat ons in Hom glo en aan Hom behoort.
Ons kan in die woorde van die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus vanoggend bely:
My enigste troos in lewe en dood, is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Ja, ek weet, ek glo dat Hy met sy bloed vir my sondes betaal het.
En ek weet dat Hy my bewaar, en dat sonder die wil van my Vader geen haar van my hoof kan val nie.

Gebed
Kom ons bid saam.
Vader, ons buig voor U in aanbidding. U is die Heer van alle here, die Koning van alle konings.
U is die troue God en Vader wat ons tot hier gebring het. U is die een uit wie se hand ons van dag tot dag leef. U is ons leidsman vir die lewe. Ja, U is die een wat ons lei op die pad van ware lewe – op die pad wat ons lei na die bestemming van die ewige lewe.
Here, ons Here, ons hoop is op U alleen gevestig.
Ons bid dat U ons in hierdie tyd sal bewaar – teen versoekinge, teen gevare, teen moedeloosheid en hopeloosheid, teen bygeloof, teen kleingeloof, teen enigiets wat tussen U en ons kan kom staan.
Ons bid, o Gees van God, dat U ons in hierdie tyd opnuut sal aanraak in u genade, u liefde, u trou.
Ons bid vir ‘n gees van toewyding en ‘n soeke na u wil.
Ons bid dat ons ‘n godvrugtige lewe sal leef, tot eer van u Naam.
Amen

Skriflesing
Ons gaan vanoggend eers net vier verse uit die Bybel saam lees. Die eerste is die kosbare woorde van 2 Tim 3:14-16
Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was
15. en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
16. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,
17. sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Kom ons herhaal net die woorde van v16: Die hele Skrif is deur God geïnspireer.

En dan lees ons ook in Psalm 1:1,2
Dit gaan goed met die mens… wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Kort boodskap
Die hele Skrif is deur God geïnspireer…. en… Dit gaan goed met die mens wat in die Woord sy vreugde vind en dit dag en nag oordink.

Vriende, ek het in die laaste klompie maande net weer baie, baie bewus geword van die waarde van die Woord, die Heilige Skrif, ons Bybel.
Hierdie Bybel is nie net ‘n klomp woorde oor God nie. Dit ís die Woord van God. Deur sy Gees geïnspireer. Dis die Woord van waarheid – die volle waarheid. Dis die Woord van verlossing, van lewe, van ‘n lewende hoop. Dis die Woord wat ons lei in groen weivelde. Dis die Woord wat ons bring by water van rus en vrede.
Dis waarom ons hierdie Woord moet lees en lees en lees… en, soos Psalm 1 sê: Dis waarom ons die rykdom van die Woord moet oordink. Ons moet dit herkou. Ons moet dit biddend oordink.

Want deur die Woord ontmoet ons vir God. In die Woord ontdek ons die rykdom van sy beloftes. In die Woord ontdek ons meer en meer sy wil vir ons lewens – sodat ons ‘n lewe kan leef tot eer van sy Naam en tot uitbreiding van sy koninkryk.

Leonard Sweet vertel die storie van ‘n sesjarige dogtertjie wat tydens ‘n erediens by haar gemeente ‘n Bybel persent gekry het. Na die erediens kom ‘n gemeentelid na haar toe om haar geluk te wens met haar nuwe Bybel. Die persoon vra toe aan haar of hy maar die Bybel mag sien. Sy sê toe ja, maar sy sê toe ook dadelik dat hy nie die Bybel moet oopmaak nie. “Hoekom nie?” vra die persoon. “Jy sal God laat uitkom” was haar antwoord.

Dis wat gebeur as ons ons Bybels oopmaak en lees: God kom uit. God kom uit om ons te ontmoet, om ons aan te raak.

Ons moenie vergeet dat hierdie tyd van wegkruip vir die Korona-virus ook Lydenstyd is nie. Ja, Sondag is dit reeds die sewende Lydensondag. Vrydag is Goeie Vrydag en Sondag vier ons Paasfees.
Gebruik hierdie tyd van afsondering om jou Bybel te lees. Jy’t mos nou baie tyd. Lees in hierdie dae weer biddend die verhale oor Jesus se lyding, en sy sterwe aan die kruis. Lees die laaste hoofstukke van die evangelies van Matteus of Markus of Lukas of Johannes. Gaan sit met jou Bybel en lees en lees… en oordink…
As jy dit biddend doen, sal Jesus uit die bladsye van die Bybel uitstap om jou te ontmoet.

Mag jy Hom in hierdie komende Paastyd, by die kruis en by die leë graf waarlik ontmoet – vir die eerste keer, of vir die dusiendste keer.
En mag jy, as jy Hom ontmoet, soos die dissipels op die skuit destyds, of soos Petrus, op jou knieë voor Hom val en bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Amen

Gebed
Here, dankie vir u Woord. U Woord wat leef en laat leef. Ontmoet ons in hierdie Lydenstyd deur u Woord as ons die verhale van Jesus se lyding en sterwe lees. Ja, kom Here Jesus – raak ons aan deur u Woord en u Gees. Amen

Onthou om in die week wat kom die verhale van Jesus se lyding en sterwe in Matteus of Markus of Lukas of Johannes te lees.

Wegsending en seën
Ek gaan vir julle ook ‘n pragtige en gepaste lied uit ons Liedboek stuur – Lied 465. Ontvang die seën van die Here, en gaan luister dan biddend na hierdie besondere lied vir ons krisistyd.

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, is en bly met julle. Amen