Gebed – ’n probleem vir baie

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:12-14).

Die Engelse uitdrukking “many a true word is spoken in jest” wil dit hê dat ons dikwels groot waarhede met humor kan verwoord. Die volgende het nogal baie oor gebed te sê:

Daar word vertel dat ’n dogtertjie een oggend dinge in die kerk so gesit en dophou het. Toe die predikant inkom en die kansel bestyg, het hy oudergewoonte op die tweede trappie gaan staan, sy hoof gebuig en saggies gebid. Die dogtertjie was gefassineer. Sy het oorgeleun na haar ma en gevra: “Mammie, wat doen die dominee nou?” Haar ma het saggies gefluister: “Hy vra liewe Jesus om hom te help.” Waarop die dogtertjie heel hoorbaar gevra het: “Nou maar hoekom help liewe Jesus hom nie?”

Miskien het jy ook al gewonder hoekom ons bid. As dit waar is dat God weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra, hoekom dan vra?

Ons bid omdat die Bybel op soveel plekke sê ons moet bid. Ons lees: “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid” (Jak 5:13), en: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking” (5:16b). Hiermee saam sê Jakobus: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie” (4:2b), en: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (1:5). Lees hiermee saam Jesus se woorde in Johannes 14:13: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”

’n Mens hoef egter nie ver te soek om selfs gelowiges te kry wat uiters skepties teenoor gebed staan nie. En laat ons maar eerlik wees, vir talle is hulle gesindheid gebore uit die pynlike ervaring van gebede wat “teen die plafon vasgeslaan het”. Ander se gebede is nooit verhoor nie of het dit geen (waarneembare) verskil gemaak nie. Ons dink (te) maklik oor gebed op ’n pragmatiese manier. As gebed “werk”, is dit goed en gaaf. As dit (skynbaar) nie “werk” nie, is dit allermins goed en gaaf.

Maar is dit werklik die regte maatstaf vir gebed? Allermins! Lees ons Jesus woorde in Johannes 14 wanneer Hy oor gebed praat, vind ons ’n geweldige belofte in vers 12: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” Jesus het Hom nie hier verspreek oor gebed nie, maar hier vir ons die raamwerk gegee waarbinne ons oor gebed moet dink. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (14:13-14).

Here Jesus, leer my om volgens u wil te bid en om in u voetspore te leef. Ek het wysheid van U nodig om U ook deur my gebedslewe te verheerlik en te dien. Amen.

(Annes Nel – Boodskap vir Vandag)