Stukkend

Lees Markus 10:2-16.

“En hulle twee sal een wees … Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie” (v 8-9).

Ook by hierdie Jesuswoorde staan hedendaagse lesers verleë. Ons enigste skrale troos is dat ons nie die eerstes is wat graag van hierdie verse wil wegkom nie. Die Fariseërs het na ’n Mosesreëling gegryp, die dissipels het Hom later eenkant daaroor uitgevra.

Maar op geen manier laat Jesus hulle – en ons, eeue later – toe om van daardie bitter woord ontslae te raak nie. Egbreuk. Egskeiding. Sy redenasie by sowel die opportunistiese geleerdes as by sy verwar­de volgelinge is rotsvas: God het dit so gemaak. Van die begin af was dit sy bedoeling. Onbeweeglik. Onverbreekbaar. En jy en ek en hulle en julle mag dit nie ongedaan maak nie.

Maar ons doen dit. Ons, gelowiges, godvresendes, ons breek wat God goed gemaak het. Ons trap op wat Hy verhef het. Ons verflenter wat heel was en maak ’n bespotting van wat heilig is. Ons verset ons teen die mees basiese wet wat die Here ons gegee het. Ons mors met die liefde.

Ons droom dan allerlei verskonings op, amper almal van die stukkend-soort: my gebreekte hart, die ander een se verbreekte beloftes, die uitmekaarval van belange. Ons vroom en goedklin­kende gunsteling: die skepping se gebrokenheid.

Ons kom nie by Jesus se beginselvaste argument verby nie. Ons sal ’n ander uitweg moet soek, een wat die toets van die koninkryk kan deurstaan.

Dit is dalk net hier waar die Markusevangelie se daaropvolgende episode ons help, dié oor die kindertjies. En Jesus se verbysterende uitspraak: Die koninkryk is juis vir mense soos hulle. Hulle met die flenterharte; hulle, die stukkende slagoffers; hulle met die littekens.

Maak U tog heel wat ek gebreek het, asseblief.

Barend Vos
(Bybel Boodskapper)