Dissipelskap-stories: My vreemde leermeesters oor dissipelskap

Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg (Lukas 5:27-28).

Jaco Strydom van Echo-jeugbediening vertel:

By Echo woon ons saam. Sommige is dié wat kom aanklop het vir hulp – jongmense in nood. Van hulle was haweloos of uit kindersorgsisteme, sommige uit rehabilitasiesentrums of selfs die tronk. Die tweede groep is mense wat ingetrek het om te help, onder andere twee boekhouers, ’n grafiese ontwerper, ’n veldwagter, onderwysers en ’n hele paar studente. Hulle het doelbewus gekies om saam met jongmense in nood te kom woon. Vir my is een van die mooiste dinge wat gebeur wanneer dié wat aanklop vir hulp agterkom dat hulle ook kan help, en wanneer dié wat ingetrek het om te kom help ontdek dat hulle baie leer. Deur hulle het ek die waarde van nabywees geleer. Dat jy die boodskap van Jesus die beste kan oordra nie vanuit ’n posisie van mag nie, maar vanuit ’n posisie van weerloosheid.

Ek dink afstand is ’n groot struikelblok vir dissipelskap vandag. Die antieke verhouding tussen ’n dissipel en sy meester is vreemd vir ons Westerlinge. Ons dink gewoonlik aan ’n dosent en student. In die Ooste sien ’n mens wel nog tekens daarvan, soos die verhouding tussen ghoeroes en dissipels in Indië. Die dissipel sal luister na wat sy ghoeroe sê, maar ook dikwels dag en nag letterlik agter hom aanbeweeg. Die dissipels praat nie bloot oor wie hulle ghoeroe is, oor wat hy doen of sê nie, maar volg hulle ghoeroe deur te begin dink soos hy dink, deur te voel soos hy voel en uiteindelik te doen wat hy doen. Van hulle begin selfs lyk soos die ghoeroe en beweeg soos die ghoeroe.

Die wonderlike van Jesus se dissipelskapstyl was juis dit! Hy het nie net vertel nie; Hy het sy dissipels toegelaat om naby aan Hom te kom en saam met Hom te beweeg. ’n Ware dissipel het uiteindelik nie net ’n klomp inligting oor sy meester nie; hy erf ook sy meester se passie! Dissipelskap gaan daaroor dat dieselfde wat in Jesus gebeur het – wat gemaak het dat Hy sy lewe wou gee vir ’n stukkende wêreld – ook in ons gebeur. Sy boodskap aan die godsdienstiges van sy tyd was dat jy nie kan sê jy het God lief as jy nie ook lief is vir die wêreld nie. Jy kan nie jou lewe vir God gee sonder om jou lewe vir die wêreld te gee nie. Godsdiens sonder empatie is godsdiens sonder God (1 Joh 4:8).

Wat die wêreld nodig het, is meer as net Christene wat kan praat oor wie Jesus was of wat Hy gedoen het. Die wêreld het ’n kerk nodig wat doen wat Jesus gedoen het – wat is soos Jesus was. ’n Kerk wat gedurig nader beweeg, wat dit ook waag om “af” te kom.

Here, roer my hart vir dít wat u hart roer. Ek wil ook deur nabywees ’n dissipel van U wees, wat met empatie u liefde en sorg vir ’n stukkende wêreld uitdeel. Gee dan dat ek daar iets nuuts oor U, myself en die wêreld leer. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)