SONDAG 20 SEPTEMBER 2020

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
YOUTUBE EREDIENS
SONDAG 20 SEPTEMBER 2020
SKRIF: Mat 6:25-33 en Luk 11:1-4 & 9-13
TEMA: Here, leer ons bid (n.a.v. Luk 11:1 se woorde)
(Opvolg op Mark 1:32-39 Teks v35 In Jesus se gebedspore)

Votum
Goeiedag liewe vriende. Wat ‘n voorreg om deur die Woord en in die Heilige Gees in die Here se teenwoordigheid te wees – een van hart saam met baie medegelowiges wat die knie buig voor die Drie-enige God.

Die Woord lê voor ons oop by Kol 3
1. Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
2. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,
3. want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Strewe na die dinge daarbo. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.
Amen

Seëngroet
Ek groet julle in die woorde van Kol 1:9:
Mag ons Vader deur die wysheid en die insig van die Gees gee dat julle sy wil duidelik sal ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag Hy julle sterkte gee om in alle omstandighede in geloof te volhard. (Kol 1:9e.v.)

Toewydingslied
Kom ons luister biddend na ‘n pragtige lied – maar mag ons nie net met die ore luister nie. Mag ons harte vandag met nuwe oorgawe saam met hierdie lied getuig: My lewe behoort nie aan myself nie, maar aan U Here. Want U het die hoogste prys betaal om my van my sonde te verlos. Daarom kom ek vandag Here en gee myself, gee ek my álles opnuut in u hande oor.
Video met lied My life belongs to you

Gebed
Here, ek eer U omdat U aan my
oë van geloof gegee het –
geloof om na die kruis van my Verlosser te kyk en te weet:
Hy het dit vir my gedoen;
geloof om na die leë graf te kyk en te weet:
die dood is oorwin;
geloof om na U op te kyk en U as Vader te sien.
Geloof – wat sien dat ek in U geanker is.

En tog, Here, wil ek vandag bely –
my geloof is soms so swak, so wankelrig,
my geloofstreë struikelend,
my terugvalle na kleingeloof so gereeld.

Daarom bid ek:
Kom, Gees van God, kom opnuut en blaas
die hemelse vonk van geloof tot ‘n gloeiende, vurige vlam aan!

Want wanneer my geloof insluimer
bedink my hart onrein dinge,
my lewe word ‘n boom wat slegte vrugte dra.

Daarom vra ek, biddend, wek my geloof,
voed my geloof met nuwe vertroue,
met nuwe oorgawe en toewyding –
só, dat ek U alleen sal aanbid, met hart en siel,
só, dat ek getrou in die voetspore van my Leidsman sal bly stap.
Ek bid dit in sy heilige Naam.
Amen

Woord voor aankondiging van Skriflesing
Verlede Sondag het die Woord ons opgeroep en aangemoedig om Jesus na te volg op die gebedspad wat Hy geloop het. Om in sy gebedspore te trap. Julle onthou die teks: Mark 1:35 “Die oggend vroeg, toe dit nog nag was, het Jesus opgestaan en na ‘n eensame plek gegaan en daar gaan bid.” Gebed was vir Jesus baie belangrik. Daarom het Hy tyd gemaak vir gebed. En omdat sy tye van gebed vir Hom so kosbaar was, het Hy eensame plekke, stil plekke opgesoek om in gesprek met sy hemelse Vader te tree. Ons is verlede week deur die Woord en Gees opnuut opgeroep om as dissipels van Jesus vir Hom na te volg op die gebedspad wat Hy geloop het.

Maar nou wil die Here vandag seur sy Woord ook met ons praat oor ons gerigtheid, oor die fokus van ons gebede.

Aankondiging van Skriflesing
Mat 6:25-33
Luk 11:1-4 & 9-13

Kom ons luister saam na wat die Here Jesus self vir ons leer in Mat 6 en Luk 11. Ons gaan net enkele verse lees – julle kan hierdie twee gedeeltes volledig lees.

Skriflesing
Mat 6:25-26,28-29,31-33
Luk 11:1-4,9-13

Teks/fokus
Ons teksverse is
Mat 6:33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God…
En Luk 11:2 Wanneer julle bid sê dan: Vader, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom…

Preek
Vriende, wanneer ons bid – waaroor gaan dit vir ons in ons gebede? Wat is die gerigtheid, wat is die fokus van ons gebede? Dis belangrik, want dit bepaal ook die inhoud van ons gebede.

Die twee gedeeltes wat ons saam gelees het en waarin Jesus self aan die woord is, wil vir ons help met die fokus van ons gebedslewe.

Wanneer Jesus met ons praat in Mat 6, wil Hy ons oogklappe afhaal en wil Hy ons bevry van tonnelvisie.
Ons weet almal dat perde oogklappe dra sodat dinge wat in ‘n wyer gesigsveld lê nie hulle aandag aftrek of hulle laat skrik nie. Hulle moet net voor hulle in die pad kyk.
Hulpmiddel: Rol papier op. Ons weet ook wat tonnelvisie is – dis soos om deur hierdie papier te kyk – jy sien nie die breër prentjie nie.

Nou kom ons sê dit maar vir mekaar – ons almal loop maar met oogklappe. Ons almal ly in ‘n mindere of meerdere mate aan tonnelvisie. Ons kyk na die lewe is beperk. Ons kyk vanuit ons eie klein wêreldjie, vasgevang in ons eie-ek-wêreldjie na die lewe. Maar die Heilige Gees wil ons oogklappe afhaal, sodat ons wyer kan kyk. Die Heilige Gees wil ons van tonnelvisie bevry – Hy wil ons help om dinge in breër perspektief te sien. Ja, die Gees wil ons help om die lewe, om alles wat gebeur, in koninkryksperspektief te sien.

Nou een ding wat vir ons tonnelvisie gee, is ‘n beheptheid met aardse dinge. Ons kan so vaskyk in wat moet ons eet, wat moet ons drink, wat moet ons aantrek, dat ons ons daaroor bekommer. En as ‘n mens jou hieroor bekommer, dan kan jy só daarop fokus, dat die gevaar bestaan dat jy nie meer vir God kan raaksien nie. Jy kan nie sien waarmee God besig is nie. Jy kyk só in hierdie dinge vas dat jy die groter prentjie van God se koninkryk mis.

Nou dit gebeur só maklik omdat ook ons as volgelinge van Jesus maar net mense is. Ons probeer ook om ‘n bestaan te voer, om ‘n lewe te maak. Of jy nou ‘n boer/sakeman/ onderwyser/huisvrou/petroljoggie of wat ook al is, jy moet ‘n bestaan voer. Jy moet tog dink en beplan en voorsiening maak vir dinge soos kos en klere. En daarmee saam moet ons ook sê dat daar tog nie fout is daarmee as jy as kind van die Here aandag gee aan lekker kos en om dit mooi en smaaklik voor te sit nie, en daar’s nie ‘n probleem daarmee om jouself goed te versorg en mooi aan te trek nie, en daar’s ook nie fout daarmee om jou huis en tuin mooi te maak nie. Hierdie dinge is immers gawes uit die hand van ons Heer wat ons met dankbaarheid kan geniet.

Maar die vraag is – en dit is die belangrike! – wat gaan in jou hart aan? Hoe belangrik is hierdie dinge vir jou? Is hierdie dinge jou hele lewensfokus? Jou alles? Eis hierdie dinge jou só op dat God uit die prentjie verdwyn, dat God uit jou gesigsveld verdwyn. Kyk jy só in hierdie dinge vas dat jy nie meer die groter toneel van die dinge van God se koninkryk kan sien nie?

Interessant dat Spreuke vir ons sê dat dít kan gebeur met ‘n mens as jy te min het, maar dit kan ook met jou gebeur as jy te veel het. In Spr 30:9 staan daar “moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê ‘Wie is die Here?’ nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Of jy te veel het, en of jy te min het, dit kan maak dat jy só daarin vaskyk – tonnelvisie – dat jy nie meer kan sien dat die lewe draai eintlik om God en die koninkryk van God.

Die Here Jesus wil ons vry maak van ons tonnelvisie as Hy sê: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God. Stel julle altyd ten eerste in op wat in belang is van God se koninkryk. Want dit is waaroor alles gaan – nie my koninkrykie nie, maar God se koninkryk.

Miskien is dit iets waarvoor elkeen van ons kan bid: Here, haal asseblief my oogklappe af. Here, bevry my asseblief van tonnelvisie. Help my om wyer te kyk, om die groter prentjie van u koninkryk te sien.

Nou in die tweede gedeelte wat ons saam gelees het, Luk 11, gaan dit spesifiek oor gebed. Jesus was besig om te bid, toe een van sy dissipels vir Hom vra “Here, leer ons bid”.
En kyk nou mooi, wat leer Jesus dan: “Wanneer julle bid, sê dan:
– Vader, laat u Naam geheilig word
– Laat u koninkryk kom

Wanneer my oogklappe af is en ek van my tonnelvisie bevry is, sien ek dat alles nie om myself gaan nie, maar dat alles om Hom gaan – om sy Naam, om sy eer. Daarom die gebed: Laat u Naam geheilig word! Wanneer my oogklappe af is en ek van tonnelvisie bevry is, gaan dit nie meer oor my ou klein wêreldjie nie, alles draai nie maar net om die koninkrykie wat ek vir myself probeer bou en waar ek koning op my eie mishoop kan sit nie. Nee: Laat U koninkryk kom.
Interessant – en ons moet dit raaksien: Eers sy Naam wat geëer moet word, sy koninkryk wat moet kom, en dan kom die volgende bede: Gee ons elke dag ons daaglike brood. Nie eers my brood en dit wat ek nodig het nie. Nee, eers God, die eer van sy Naam, sy koninkryk – en dan my daaglikse brood.

In Joh 14 praat Jesus met sy dissipels, en dan sê Hy vir hulle dat Hy na die Vader gaan waar Hy vir ons as voorspraak sal intree. En dan nooi Hy ons om te bid en te vra. Maar dan sê Hy “wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat (luister nou mooi: sodat…) die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” So, die boodskap is: bid, vra, Hy wil vir ons dinge gee sodat die Vader se Naam verheerlik kan word. Sodat Hy as Koning van die koninkryk die eer kan ontvang wat Hom toekom. Dít is waaroor alles gaan. En dit is waaroor alles in ons gebede behoort te gaan: Sy Naam! Sy eer! Sy koninkryk!

Dis waarom ons in die eerste plek vir geestelike dinge moet bid – vir geestelike groei, vir die vrug van die Gees in ons lewe – sodat die Here se Naam verheerlik kan word en sy koninkryk kan kom. Bid, vra dat jy as volgeling van Jesus ‘n geestelike mens sal wees. Bid en vra dat jy ‘n koninkryksmens sal wees – een wat jou beywer vir sy koninkryk.

Ja, ons mag ook bid vir ander dinge – vir ons boerdery, besigheid, gesondheid, kinders, ens. Dis natuurlik nie verkeerd nie. Trouens, ons moet ook oor hierdie dinge bid, om daardeur ons diepe afhanklikheid van die Here te bely. En ons moet oor hierdie dinge bid om daarin ook sy wil en leiding te soek. Moenie ophou om oor hierdie dinge te bid nie. Maar – onthou die fokus: bid dat dit alles sal inpas in die groter prentjie van God se koninkryk, sy koninkryksplan. Bid dat dit alles sal wees tot eer en verheerliking van sy heilige Naam.

As dit vir jou om die eer van sy naam gaan, en om sy koninkryk, sal jy dit natuurlik nie net vir jouself bid nie. Jy sal dit ook vir jou kinders bid. Waarvoor bid ons as ons vir ons kinders bid? Ons bid vir hulle veiligheid, gesondheid, studies, werk sal kry, beroep/loopbaan, ens.
Dis reg, ons mag daarvoor bid, ons moet daarvoor bid. Maar meer as alles moet ons bid vir ons kinders se verhouding met die Here, vir hulle geestelike lewe. Wat help dit as ons kinders ‘n suksesvolle loopbaan het en ‘n bank vol geld, maar hulle is geestelik arm? Bid dat jou kind ook die groter prentjie van God se koninkryk sal sien… dat jou kind sal ontdek dat God hom/haar iewers in sy koninkryksplan wil gebruik. Bid dat jou kind ‘n mens sal wees wat hom/haar beywer vir die koninkryk van God, sodat die Naam van die Here ook uit sy/haar lewe verheerlik kan word.

Maar kom elkeen van ons bid dit ook vir die gemeente, vir die kerk. Bid dat die gemeente waarvan jy deel is ‘n gemeente sal wees wat hom beywer vir die koninkryk van God. Bid dat jou gemeente se bestaan sal wees sodat die Naam van die Here geheilig kan word. Die doel vir die bestaan van die gemeente is tog nie die geboue of projekte of programme of finansies of wat ook al nie – die gemeente bestaan sodat die koninkryk kan kom en die Here se Naam geheilig en geëer sal word.

Laaste, maar beslis nie die minste nie – dit is ook waarom jy ‘n biddende hart vir sending en vir die verkondiging van die Woord moet hê. ‘n Hart wat brand vir die verkondiging van die Woord – sodat die gesaaide Woord vrug kan dra, en God se koninkryk kan kom, en sy Naam geheilig kan word.
Amen

Gebed
Here, haal asseblief ons oogklappe af. Bevry ons van ons tonnelvisie.
Laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom.
In Jesus Naam. Amen

Slotlied in antwoord op die Woord
Lied 471 Soek allereers die koninkryk van God

Seën
Here, verlig ons hart en dit wat ons bedink.
Here, verlig ons oë en die manier waarop ons na dinge kyk.
Here, verlig ons verstand en ons interpretasie van dinge wat met ons en om ons gebeur.
Verlig alles in en om ons – sodat ons u koninkryk kan sien.

Mag die genade en vrede van die Drie-enige God met ons wees.
Mag ons in die ruimte van sy koninkryk leef. Amen