Pinkster 2020 Tema 1 : Loof God vir sy verlossingsdade

 

Pinksterreeks Tema: God se verlossingspad met ons.
Tema 1 : Loof God vir sy verlossingsdade
Skrif : Ef 1:3-14
Teks : Ef 1:3,6,14

Inleiding
Goeidag vriende. Baie welkom by ons Pinksterreeks van 2020.
Ons tema van die week is: God se verlossingspad met ons.
Mag elkeen van ons in hierdie week opnuut deur die rykdom van die Here se Woord gevoed word. Mag ons in ons geloof en ons navolging van Jesus bemoedig en versterk word. Mag die Heilige Gees die diepe waarhede van die Woord aan ons bekend maak, en ons toerus en inspireer om vrug te dra tot eer van die Here en tot uitbreiding van sy koninkryk.

Gebed
Here God, U wat in ewigheid woon,
die hemele verkondig U heerlikheid,
en op die aarde is daar oorvloedige getuienis van U grootheid en goedheid.

Ons kom na U in die Naam van Jesus, in die Naam van Hom wat oor alles en almal heers,
en ons bid dat U uself aan ons sal bekend maak.
Ja, mag ons in hierdie week deel in die hoogte en die diepte, die wydte en die breedte van U genadewerk in ons lewens.
Daarom bid ons en vra ons, dat U self die Woord vir ons sal oopbreek.
Amen

Skrif
Die Skrifgedeelte vir vandag se boodskap wat elkeen van julle kan lees – en lees dit sommer ‘n paar keer deur, is Ef 1:3-14
Ons gaan nou net v3,6 en 14 lees.
3. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
6. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.
14. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Preek
Ek wil raai dat meeste van ons wat hierdie Pinksterreeks gaan volg, mense is wat in die kerk grootgeword het. Ons is mense wat die Bybel en die Bybelse boodskap ken. En tog kan dit gebeur dat ‘n mens in die kerk grootword, en dat jy die Bybel ken, maar dat jy op ‘n dag in alle eerlikheid vir jouself moet sê: Ek het nie sekerheid nie. Ek het nie sekerheid van my verlossing, en van my verhouding met die Here nie. Dit het al meer as een keer in my bediening gebeur dat jongmense, maar ook mense van 60, 70 selfs 80, goeie kerkmense, met my kom gesels het omdat hulle nie sekerheid het van hulle verlossing en hulle verhouding met die Here nie.

Ek wil dit vergelyk met katarakte op ’n mens se oë. ’n Mens sien, en jy sien heel goed, later dink jy jy sien goed, en dan, op ’n dag, besef jy en erken jy teenoor jouself dat jy nie so goed sien nie. En dis eers as die spesialis die katarakte verwyder het, dat jy besef hoe sleg jy eintlik gesien het. En is jy bly omdat jy weer helder kan sien.
Mag die Here deur sy Heilige Gees so werk, dat ek en jy hierdie week weer helder sal sien! Dat ons helder sal sien hoe loop God se verlossingspad met ons!

Nou die heel eerste ding wat ons moet raaksien is, waar begin God se pad van verlossing met ons. Waar lê die oorsprong van God se verlossingspad met ons. Dis baie, baie belangrik om dít raak te sien! As ons dit nie raaksien nie, dan mis ons die belangrikste. En dan is dít juis die rede waarom ons telkens weer onseker raak.

1. Nou Paulus kom sê vir ons in Ef 1 dat die oorsprong, die begin van God se pad met ons, is God self. Die feit dat ons met God op pad kan wees, begin nie by ’n mens nie. Dit begin nie by my geloof, of by my pogings om reg te leef, of by my keuse nie. Dit begin by God. Gaan lees die gedeelte – dan sal jy dit sien. Daarom praat ons nie hierdie week van my paadjie met die Here nie, maar van God se pad met my. Want dit begin alles by God self!

As ’n mens in die Griekse Bybel na ons Skrifgedeelte van vandag gaan kyk, dan sien jy dat vers 3-14 is een lang sin. ’n Lang sin waarin Paulus ’n klomp woorde op mekaar stapel om iets te probeer sê van God se heerlikheid. Dis asof Paulus nie remme het as hy oor die heerlikheid van God begin praat nie. Dis asof die woorde van lofprysing oor God uit sy hart en sy pen vloei. Vers 3: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Dan, tot vers 13 borrel ’n klomp dinge uit sy pen. En dan sê hy in vers 14: Daarom moet ons sy grootheid prys.

Nou hoekom gee Paulus aan God die Vader al die lof? Hy begin deur in vers 3 te sê omdat: Hy… ons in Christus geseën het met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. M.a.w., Hy moet geloof word, want Hy is die bron, die oorsprong van alle seëninge wat ons geniet. En as Paulus dan van vers 4-14 vir ons kom sê wat die seëninge alles behels, dan val die klem elke keer op God, en op dit wat Hy vir ons gedoen het.
Vers 4 : Hy het ons in Christus uitverkies.
Vers 5 : Hy het in sy liefde dit bestem dat ons deur Christus sy kinders kan wees.
Vers 6 : Hy skenk aan ons, deur Christus, sy genade vryelik.
Vers 7 : Deur Christus is ons verlos en ons oortredinge vergewe.

Hoor dit vandag weer: Ons is uitverkies, ons is sy kinders, ons leef uit sy genade, ons is verlos – en dit kom alles van God! Dit begin by God. Dis Hy wat die inisiatief neem. Dis Hy wat besluit het om hierdie pad met ons te loop.

Die gedagte om met God in ’n verhouding te leef, om kinders van God te wees, is nie deur ’n mens uitgedink nie. Vers 11 sê dat dit sy oorsprong het in God se raadsbesluite. Hy’t besluit om met ons ’n pad te loop.
Dit was van die begin af so. God besluit in sy liefde om die mens as sy beelddraer, sy verteenwoordiger te maak (Gen 1,2). En as die mens dan in ongehoorsaamheid sy rug op God keer, en vir Hom wegkruip, is dit Hy wat in sy liefde die mens kom opsoek (Gen 3). Adam, Eva, waar is jy?
En so begin die Nuwe Testament ook – dis God wat vanuit sy liefde na die wêreld kom. Want so lief het God die wêreld gehad… Hy stuur uit liefde sy Seun om die mensdom te kom verlos. Dis elke keer God wat die inisiatief neem. Dink ‘n bietjie aan die verbond in die Ou Testament, en die teken van die verbond, die besnydenis. Dis God wat na Abraham kom om met hom en sy nagesag ‘n verbond te sluit, en dis God wat die teken van die verbond, die besnydenis gee. ‘n Kindjie van agt dae oud kon nie een milimeter na God beweeg nie. Dis God wat na ‘n kind toe kom. Dis dieselfde met die verbondsdoop in die Nuwe Testament. Dis God wat na ‘n mens kom en sê Ek wil met jou ‘n verbond sluit, Ek wil met jou ‘n pad loop. En Ek gee vir jou die teken van die water om te bevestig dat Ek met jou ‘n pad wil loop. ’n Klein kindjie kan nie een tree na Hom gee nie.
Ons moet onthou, ons as mense is só sondig van aard, dat ons nie eers daaraan sou dink om vir God op te soek om met Hom ’n pad te loop nie. En dis wat die evangelie so aangrypend maak, só dat mens maar net saam met Paulus kan uitroep: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! (v3) Want die pad wat Hy met my loop, het begin by Hom. Dit het begin in sy ewige, liefdevolle, genadige, uitverkiesende raadsbesluite. Daarom moet ons sy grootheid prys (v14).

2. Die tweede baie belangrike ding wat ons moet raaksien as Paulus met ons praat oor God se verlossingspad met ons, is die fondament waarop hierdie pad gebou is. En as mens die gedeelte lees, dan sien ons dat Paulus dit herhaaldelik sê dat Jesus Christus is die fondament van die verlossingspad wat God met ons loop.

Alles wat God vir ons gedoen het, het Hy in Jesus Christus vir ons gedoen. Dit wat God aan ons skenk, skenk Hy deur Jesus Christus aan ons. Die volle rykdom van sy seëninge, kom deur Jesus Christus na ons.
‘n Mens hoor dikwels dat mense hulle seëninge net in aardse terme meet. Dinge soos die Here seën my met goeie gesondheid, met oulike kinders, met goeie finansies. Maar wat gebeur as my gesondheid ingee? Of as my kind my teleurstel? Of as ek finansieël swaarkry? Wat gebeur dan? Dan begin ek twyfel. Want as hierdie seëninge weggevat word, dan begin ek dink dat God sy rug op my gekeer het. Dis waarom ons moet raaksien dat die seëninge waarvan Paulus praat is seëninge, is sekerhede, dis dinge wat niks en niemand van my kan wegvat nie. Niks en niemand kan my daarvan skei nie, sê Paulus in Rom 8. Wat ook al my omstandighede. Wat ookal met my gebeur. Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (v3). Vers 4 sê weer dat Hy ons in Christus uitverkies het. Vers 5 sê dat Hy ons in Christus Jesus sy kinders gemaak het. En niks en niemand kan dit van ons wegvat nie.
Dit kan so maklik gebeur dat ons ons sekerheid probeer vind in ons eie pogings om goed en reg te probeer leef. En dan kom daar ’n tyd in jou lewe wat jy wonder of jy nou genoeg gedoen het om God te beïndruk. En dis dan wat jy begin twyfel.
Luister wat staan hier, dis nie deur jou verdienste, deur jou mooi lewe, deur jou goeie keuse wat jy kind van God is nie. Dis alleen maar deur Jesus Christus dat ons sy kinders kan wees (v5). Vers 6 bevestig dit verder dat dit deur Christus is wat ons genade ontvang. En vers 7 dat dit deur die bloed van Christus is wat ons sonde vergewe word.

Alles, alles draai om die Seun van God, om Jesus Christus. Hy’s die fondament van God se wonderlike verlossingspad met ons. Vers 11 sê ook dat dit deur Hom is dat ons die voorreg ontvang om deel van sy volk, sy kerk te wees.

Hoor as God aan die begin van hierdie week opnuut vir jou herinner aan dít wat Hy reeds aan jou beseël het toe jy gedoop is: Hy wil ’n pad met jou loop. Die Verlossingspad. Die Pad waarop Hy die oorvloed van sy seëninge in Christus Jesus met jou wil deel.

3. (1) God neem die inisiatief om ’n pad met ons te loop. (2) Jesus Christus is die fondament van hierdie pad wat God met ons loop. (3) En dan sien ons wat gebeur – Paulus kan nie anders kan nie as om God te loof!
Weet julle, as ’n mens vanuit die geloof dit snap, as die Gees jou oë oopmaak om te sien dat dit God is wat jou gekies het om met jou die verlossingspad te loop, dan kan jy nie anders as om God te loof nie. Dan borrel dit by jou uit, soos by Paulus.

Paulus besing in Ef 1:3-14 God se heerlikheid. Hy besing God se goedheid en genade, omdat Hy gekies het om met ons die verlossingspad te loop. Hy besing God se grootheid omdat Hy gekies het om in Jesus Christus die rykdom, die keur van sy seëninge oor ons uit te stort.
Kan ons dan anders as om in aanbidding voor Hom te buig, en saam met Paulus uit te roep: Aan God, die Vader van ons Here Jesus, kom al die lof toe (v3)… daarom moet ons sy grootheid prys (v14).
Amen

Gebed
Kom ons loof die Heer vir sy verlossingdade in die woorde van Lied 450:
Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid
kan verwoord, u lof besing met ‘n aardse stem?
Eer die Vader, eer die Seun, eer die Gees as God en Heer.
Eer ons God as Majesteit; loof Hom tot in ewigheid.

Woord uit Woord, Lig uit Lig, kom as mens op aarde.
Bo begrip, bo ons verstand is u grootheid, Heer.
Eer die Vader, eer die Seun, eer die Gees as God en Heer.
Eer ons God as Majesteit; loof Hom tot in ewigheid
Amen