Kindwees

Lees Psalm 107:17-22.

Party het dwaas opgetree … (v 17).

Daar is min twyfel daaroor dat gelowiges wat hulle deur die eeue tot God gewend het om hulle asseblief te help, dikwels die argi­tekte van hul eie ondergang was. Dat hul ellende nie sommer aan die duiwel, die noodlot, slegte geluk, toeval – of wat ook al; kies jy maar jou verontskuldiging – toegeskryf kan word nie. Dat die skuldige se gesig geraam is in die spieël waarin jy jou kommer­plooie tel.

Hulle weet dit. Dit is daarom dat hulle verwonder staan voor ’n God wat optree, wat ingryp, wat hulle bevry. Wat hulle van hulleself red. Daarom word sy “genade, onbeskryflik groot” so graag besing. Sluit die frase “nie uit verdienste nie, maar uit genade” menige gebed af. Waarlik: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Hierdie uittreksel uit die psalm help ons om ’n bepaalde aspek van die eindelose Goddelike liefde beter te verstaan: dit ruim op. Ja, dat God soos ’n vader, ’n moeder, die kinders se gemors agter hulle optel. Die foute wat hulle gemaak het, regstel.

Die minste wat hulle dus kan doen, is om dankie te sê. En dan nie met ’n argeloosheid wat goedkoop woorde voortbring nie. Tog nie met ’n kinderagtige “ek sal nooit ooit weer nie”, maar met die soort berou wat dankbaarheidsdade tot gevolg het.

Laat daar tog by ons ’n dieper besef groei oor wat dit God gekos het om in te gryp. ’n Dankbare wete wat uitgroei in woorde soos: Hier is ek, u geredde kind. Wys my waar ek genesing kan bring, soos ek genees is.

Stuur my, Here, na waar my ingryping ’n verskil kan maak. Hou my bewerige hand vas, skoei my onwillige voete.

Barend Vos
Boodskap vir Vandag