Sondag 19 April 2020

 

Sondag 19 April 2020
Skrif: Joh 20:19-25
Teks: Joh 20:19(b)
Tema: Die opgestane Jesus gee sy vrede vir dié wat opgesluit is

Votum
As ons op hierdie Sondagoggend stil word, lê die Woord van die Here oop by Klaagliedere 3:21-23.
Maar dít sal ek ter harte neem, en om dié rede bly ek hoop:
Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.
Amen

Seëngroet
Ek groet julle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Mag Hy deur die wysheid en die insig van die Gees gee dat julle sy wil duidelik sal ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag Hy julle sterkte gee om in alle omstandighede – ook in hierdie tyd – in geloof te volhard. (Kol 1:9e.v.)

Geloofsbelydenis
Saam met miljoene gelowiges wêreldwyd weet ons op wie ons hoop gevestig is. Ons weet dat, soos Klaagliedere sê, dit deur die Here se liefde is dat ons nie vergaan nie.
Kom ons bely vanoggend opnuut saam met miljoene gelowiges dat ons in Hom glo – jy kan dit in jou hart bely, of jy kan dit sommer hardop bely:
Ek glo in God die Vader
die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus
sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan
‘n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe.

Aankondiging van Skriflesing
Ons het verlede Sondag Paasfees gevier – Goeie Vrydag het ons daaraan gedink dat Jesus aan die kruis gesterf het, en Sondag het ons die fees van Jesus se opstanding gevier. En nou gaan ons vanoggend lees uit Joh 20:19-25.

Gebed (Epiklese)
Maar voordat ons saam lees uit die Here se Woord, kom ons bid saam:
Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig vas en waar.
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar!
Woord, betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar –
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In dié Woord het ons die lewe.
T’rus tot in die grys verlede
bou Gods Woord vir ons ‘n brug;
oor die troebel van die hede
open dit ‘n toekomsvlug.
Spreek die Here, word die tyd
oomblikke van ewigheid.
Deur sy Gees laat God, verhewe
ook in ons sy woorde lewe. (Lied 255:1,2)
Amen

Skriflesing
Joh 20:19-25

Teks
Joh 20:19(b)

Boodskap
Ons almal weet mos wat die uitdrukking beteken as die mat onder jou uitgepluk word.
Weet julle, soos wat die jare aanstap, verstaan ‘n mens al hoe meer hoe onverwagse gebeure, goed wat skielik op jou afkom, of onbekende goed wat op jou afkom, die mat sommer so vinnig-vinnig onder ‘n mens kan uitpluk.  En nou dink ek dit was die ervaring van Jesus se dissipels – dat die mat onder hulle uitgepluk is.

Dink nou net wat gebeur het. Hulle het ‘n besondere paadjie saam met Jesus geloop. Hulle het geluister na al die wonderlike dinge wat Hy leer/preke/gelykenisse. Hulle het sy wonderwerke gesien. Hulle het alles gelos en Hom gevolg.  En toe gebeur dinge sommer so vinnig – Jesus is gevang, Hy’s verhoor en Hy’s gekruisig, en toe is Hy in ‘n verseëlde graf gebêre. Alles het so vinnig gebeur. Onverwags. En nou hoor hulle nog berigte van die vroue en van sekere dissipels wat die graf besoek het, dat die graf leeg is.

Die mat is onder hulle uitgepluk. G’n wonder nie dat hulle daardie Sondagaand gaan wegkruip het agter geslote deure. Nou ons Skrifgedeelte sê hulle was bang vir die Jode. Maar ‘n mens kan jou maar net indink dat hulle ook so ontsteld en so verward sou wees, dat hulle veel veiliger sou voel agter geslote deure.

Maar dan gebeur die wonderlike – Jesus kom staan, ten spyte van die geslote deure!, by hulle. Hy kom tree in die ruimte van hulle ontsteltenis, en onsekerheid, en verwarring en miskien – twyfel. En juis in daardie ruimte waar hulle al hierdie onsekerheid en spanning en twyfel beleef, groet Hy hulle met die besondere woorde wat Hy twee keer herhaal: “Vrede vir julle!”

Nou hierdie groet was die tradisionele vredesgroet waarmee mense in die Midde-Ooste mekaar gegroet het en waarmee hulle wou sê dat hulle nie gekom het om onheil te bring nie, maar dat hulle in ‘n goeie gesindheid kom. So, Jesus groet hulle dus met ‘n bekende groet.

Maar as Jesus dan net die volgende oomblik vir hulle sy hande en sy sy wys, dan gee Hy aan hierdie vredesgroet nuwe betekenis.
Die vredesgroet van Jesus het alles te make met die merktekens van sy kruisiging en sy dood. Hy bring die vrede waarvan die engele by sy geboorte gesing het. Dis die vrede waarvan die bejaarde Simeon na Jesus se geboorte gepraat het. Maar Simeon het mos ook gepraat van ‘n swaard wat deur die siel moet gaan.
En dít is presies wat toe oor die Paasnaweek gebeur het – om die ware vrede te bewerk, het sy lewe gekos. Ja, die vrede wat Jesus die Sondagaand na sy dissipels bring, is ‘n vrede wat geen mens kan bewerk nie. Dis ‘n vrede wat geen geld koop nie. Dis ‘n vrede wat nêrens anders nie as net by Jesus, die gekruisigde en opgestane Jesus, te vind is.

Ja, mense praat dikwels van vrede. Mense praat van vredesonderhande-linge, van vredesinisiatiewe, maar daar is dikwels verskuilde motiewe, bymotiewe op die spel. Ons sê mos ook baie kere “vrede, vrede”, terwyl daar eintlik geen vrede is nie.
Maar as Jesus sy dissipels hier groet, dan is dit die vredesgroet wat gegrond is op die soenoffer wat Hy met Paasfees gebring het. Deur sy soenoffer het Hy die oorsaak van die onvrede wat ons beleef – ons sonde – dit het Hy kom verwyder.
Joh 14:27 sê vir ons dat hierdie vrede, hierdie vrede wat Jesus bring, lyk anders as die vrede wat die wêreld gee.
Paulus probeer dit definieer as hy dit beskryf as ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Die vrede wat Jesus bring is die soort vrede waarvan die Psalmdigter in Ps 85:11 sê dat geregtigheid en vrede mekaar omhels – want in hierdie vrede kry elke ding sy regte plek omdat die verhouding met God reggestel is. En weet julle, dis die kruks, dis waarin die ware vrede lê – in ‘n verhouding wat met God reggestel is. ‘n Verhouiding met God wat heel word. Om met God vrede te vind.
Ons teks sê:
Alhoewel die deure gesluit was… het Jesus, die opgestane gekruisigde, gekom en tussen hulle gaan staan, en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

Die wonderlike is dat hierdie Jesus wat sy lewe as soenoffer gegee het, Hy wat opgestaan het, dat Hy ook vandag in jou huis, daar waar jy toegesluit is, daar waar jy agter ‘n toe deur wegkruip vir die Korona-virus, dat Hy voor jou kom staan. Hy kom staan voor jou, en jou gesin, en Hy strek sy hande oor jou en jou gesin uit, en Hy sê ook vir julle: “Vrede vir julle!”

Vriende, kom ons wees eerlik – ons beleef hierdie “lockdown” (grendeltyd) ook as ‘n tyd waarin die mat onder ons uitgepluk is. Ons het nog nooit so iets beleef nie – dis vir ons ‘n vreemde tyd. Dis vir ons vreemd dat ons agter toe deure en maskers moet wegkruip. Dis vir ons vreemd dat die kerk se deure toegesluit is. Ons is afgesonder van almal daarbuite – ook van almal vir wie ons lief is. Dis vir ons ‘n moeilike tyd. Dis ‘n ontstellende tyd. Dis ‘n tyd wat ons ook verwar… onseker maak… selfs soms bang maak.

Maar die opgestane gekruisigde Jesus kom tree op wonderbaarlike, onverklaarbare wyse verby die toe kerkdeure en verby die lockdown-deure van ons huise. Hy kom staan in die ruimte van ons vrese, onsekerhede, van al die goed wat ons op hol jaag, van al die goed wat die mat onder ons uitpluk, en Hy steek sy verwonde hande oor ons uit: “Vrede vir julle!”

Vrede vir julle wie se saak deur Jesus reggestel is by God. Vrede vir julle wat deur die opgestane gekruisigde met God versoen is.  Omdat jou saak met God reggestel is, ontvang jy ‘n vrede wat in álle omstandighede oor jou die wag hou. Jy ontvang ‘n vrede wat – in jou omstandighede, eintlik alle verstand te bowe gaan. En daarom kan jy vanaand, in die woorde van Ps 4:9, jou kop rustig op die kussing neersit, en onbesorg aan die slaap raak.

Die opgestane gekruisigde, Jesus, kom deur die toe deure van lockdown en groet ons: “Vrede vir julle!”
Amen

Gebed
Jesus, ons buig voor U – die opgestane gekruisigde. Ons aanbid U. U is waarlik die Seun van God, die Verlosser van die wêreld.
Deur U is ons saak by God reggestel.
Ons dank U omdat U vandag ook – in ‘n tyd waarin die kerkdeure gesluit is, en ons agter die toe deure van ons huise moet wegkruip, dat U by ons kom staan en U hande oor ons uitstrek, en dat U ons seën met U vrede.
Help ons om ons oë dag vir dag net op U gerig te hou.

Ons bid vandag en vra dat U ons wêreld, ook SA, genadig sal wees. Help ons in ons stryd teen hierdie virus en ander siektes. Ons bid vir almal in die gesondheidsektor wat ‘n stryd voer teen hierdie siekte. Ons bid vir beleidmakers en besluitenemers – oor hoe hierdie krisis hanteer moet word. Ons bid in die besonder vir ons president.

En ons bid Here, vir almal wat swaar kry, en bekommerd is. Vir hulle wat deur die virus geaffekteer word. Vir hulle wat agv die virus op ander maniere geraak is – spesifiek vir almal wat honger is en wie se werk en inkomste op die spel is. En vir hulle wat eensaam is.

Here, wees ons genadig.

En gee Here dat ons wat U vrede ontvang het, draers van hoop sal wees. En dat ons U vrede met die wêreld sal deel.
Ons bid dit in Jesus Naam.
Amen

Seën
Die Here sal julle seën en julle beskerm;
Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! (Num 6:24-26)