Sondag 14 Junie 2020

 

Oudtshoorn Moedergemeente
YouTube Boodskap Ds Smuts van Rensburg
Sondag 14 Junie 2020
Skrif: Ps 116

Votum (Lied 188:1)
Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande;
loof Hom wat wonders doen tot in die verste lande.
Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar
en tot vandag toe nog geseën en gespaar. Amen

Seëngroet
Vriende, ek groet julle
In die Naam van die Vader wat vir ons sorg,
In die Naam van Jesus Christus deur wie ons verlossing gevind het,
In die Naam van die Heilige Gees wat in ons woon en werk.

Die Sanger Piet Smit en die skilder Kobus Möller het die gawes wat die Here vir hulle gegee het bymekaar gesit om die Here te aanbid. Kom ons luister daarna in ‘n gees van verwondering en aanbidding.

VIDEO van Piet Smit

Aankondiging van Skriflesing
Vriende, ons fokus vandag net op een ding: Dankbaarheid.
Te midde van die virus en grendeltyd en ‘n struikelende ekonomie en onseker politieke gebeure en hoe hierdie dinge ook al ons lewe raak, noem maar op, gaan ons fokus op dankbaarheid. Ons gaan saam lees uit die Here se Woord uit Ps 116

Skriflesing
Ps 116

Teks
Kom ons onderstreep net ‘n paar sinne hier vanaf vers 12:
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?
Ek wil U loof met ‘n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk. Amen

Boodskap
Dink vir ‘n oomblik aan ’n tyd in jou lewe waarin iets gebeur het waarvoor jy teenoor die Here baie, baie dankbaar was. Iets waarvan jy vir jouself gesê het: Hiervoor sal ek vir die Here nooit, nooit genoeg kan dankie sê nie.

Daar kom mos sulke tye in ‘n mens se lewe wanneer jy terugdink aan iets wat in verlede gebeur het, en dan kom daar so ’n gevoel van diepe dankbaarheid wat dwars oor jou kom lê.

Dit wil vir my lyk dat dit is wat met die Psalm-digter gebeur het – en toe hy terugkyk oor sy lewe, oor wat gebeur het, toe word hy oorweldig deur dankbaarheid, en toe skryf hy Ps 116.

As mens die Psalm lees dan kom jy agter dat hy in sy lewe in ’n situasie was waar hy regtig diep in die moeilikheid was, ‘n situasie waarin hy benoud was, bekommerd, waar sy lewe bedreig was deur die dood. Hy het toe na die Here geroep. En die Here het hom uit sy nood verlos.

Dit wil lyk of hy in sy nood ook by mense hulp gesoek het, maar hy’t ontdek dat mense hom nie kan help nie.
v11(b) Ek het besef, ek kan op geen mens staat maak nie.

Maar toe hy na die Here gedraai het en by die Here hulp gesoek het, het hy antwoord gekry.
v2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
v5 Die Here is genadig… ons God ontferm Hom oor ons.
v6 Die Here beskerm… Hy het my gered…
v8 U het my van die dood gered. U het ‘n einde gemaak aan my trane. U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.

En nou is die Psalm-digter so diep dankbaar oor dit wat gebeur het, oor dit wat die Here in sy nood vir hom gedoen het, dat hy homself afvra in ons teks – v12 Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?

Weet julle, as ons dink aan wat die Here vir ons gedoen het toe Hy sy Seun gegee het om in ons plek te sterf, om ons te red uit ons diepe noodsituasie van verlore wees in sonde, dan kan ons ook maar net sê:
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?
As ons hoor “My genade is vir jou genoeg, Ek verlos jou, ek gee aan jou my vrede” – as ons dit hoor, kan ons maar net sê Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?

Nou as mens die Psalm rustig deurlees, dan sien jy dat dít wat die Here vir die Psalmdigter gedoen het, dring hom tot (1) dankerkenning, tot (2) dankbetuiging en tot (3) dankbetoning.

1) Kom ons begin by dankerkenning
Dankerkenning gaan oor dít wat in my hart leef. Om in my hart te erken dat dit wat met my gebeur, dit wat ek ontvang – ek erken, dit kom van die Here af.
Om hier binne in my hart te weet en te besef dat my redding, my gesondheid, my prestasies, my sukses, dis nie in die eerste plek uit eie vermoë nie, dis nie deur my eie goedheid nie, dis nie deur my eie toedoen nie, dis nie toevallig nie, dis nie dat die dice vir my reg geval het nie. Alles, al die goeie dinge wat ek ontvang het en wat met my gebeur, kom slegs van die Here af. Dit gaan daaroor dat ek dit hier binne in my hart, in my gedagtes erken.

Bv: Ek was siek, ek het ‘n groot operasie gehad… om te erken dit was nie in die eerste plek die dokter wat so goed was nie. Ja, die Here gebruik ‘n dokter as instrument, Hy gebruik mediese tegnologie, Hy gebruik medikasie, maar… dis eintlik net die Here se genade. Dit kom van Hom af.
Dink maar aan ‘n gevaarlike situasie waarin jy was, miskien ‘n krisis, jy was diep benoud, jy’t om hulp geroep – en die Here het jou gehelp. Erken dit. Ja, miskien het Hy iemand na jou gestuur om te help – maar dis van die Here.
Dink maar aan enige prestasie wat jy behaal het, aan enige toekenning wat jy gekry het – dit kan t.o.v. jou werk wees of t.o.v. sport of wat ook al – om binne in jou hart te erken dis nie uit myself, dis nie deur my eie briljantheid nie – nee, dis net deur die Here se genade. Ja, ek moes hard werk, maar dat ek gesond was, dat ek die geleentheid gehad het – dis ook mos maar net genade. Dis ook van die Here.
Of miskien het ek ‘n goeie oes gehad, ek het my werk behou, ek het ‘n kontrak gekry – weereens moet ek hier in my hart die erkenning gee – “Here, dit kom alles van U af, net van U!

En dat ons verlore sondaars was – maar nou is ons verlos, vry gemaak, ons is nuut gemaak. Nee, dis nie deur my goeie werke nie. Dis ook nie omdat ek eintlik nie só sleg is nie – nee Here, ek weet, dis net genade!

Die Psalm-digter gee in Ps 116 aan die Here erkenning dat dit Hy is wat hom verlos het uit sy situasie. En dis wat ons ook moet doen – om elke dag in ons harte erkenning te gee aan Hom.

2) Dankbetuiging
Maar dan gaan die Psalm-digter se dankerkenning ook oor in dankbetuiging teenoor die Here. Met ander woorde, hy dink dit nie net dat hy dankbaar is nie, nee, hy sê dit ook in woorde vir die Here dat hy dankbaar is.

As jy weer die Psalm gaan deurlees, gaan jy sien die hele Psalm is eintlik ‘n gebed van dankbetuiging teenoor die Here. As ons saam met die Psalmdigter vra “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?”, dan is dit goed om dankbaar te wees in jou hart, om dankbaar te voel en in jou hart aan Hom erkenning te gee, maar dan is dit ook belangrik om dankie te sê.
Die Heidelbergse Kategisme Son 45 vr 116 vra die vraag: “Waarom is gebed vir Christene nodig?”
En dan kom die antwoord: “Omdat dit die belangrikste deel van ons dankbaarheid is wat God van ons eis.”
Ons almal ken mos die gelykenis van die tien melaatses wat deur die Here gesond gemaak is (Luk 17). Kan julle onthou hoeveel van die tien wat Hy gesond gemaak het, het terug gekom om vir Hom dankie te sê? Net een!

Vriende, ons moet in ons binnekamers ingaan en bid en vir die Here dankie te sê. Hoor mooi, nie net ‘n klomp goed vra nie, maar dankie sê. En moenie dink ‘aag, die Here weet dat ek dankbaar is nie’. Nee, sê dankie. Gaan maak ‘n lys van dinge, van seëninge waarvoor jy die Here kan dank – en dan vat jy daardie lys, en dan sê jy vir Hom dankie vir elkeen van daardie dinge. En sê sommer ook weer elke dag dankie omdat Hy jou van jou sonde verlos het, en omdat jy sy kind mag wees.

Die Psalm leer vir ons van
1)Dankerkenning – om te leef met ‘n gesindheid van dankbaarheid. 2)Dankbetuiging – om vir die Here dankie te sê.

3)Dankbetoning
Maar nou leer die Psalm-digter ons nog ’n belangrike ding – hy leer ons iets van dankbetoning:
v13 Met ‘n drankoffer sal ek van sy redding getuig
v14 My geloftes aan die Here sal ek betaal…

Vriende, ons kan mos nie nou maar net ‘n warm gevoel van dankbaarheid in ons harte hê, of net met ‘n vinnige gebedjie vir die Here dankie sê, en dan’s dit klaar nie. Nee, ons moet ook vir die Here deur ons dade wys dat ek dankbaar is.
Luister weer na v13 & v14.
v13 Met ‘n drankoffer sal ek van sy redding getuig
v14 My geloftes aan die Here sal ek betaal…

Ek moet my dankbaarheid wys deur die offers wat ek bring. Nou as ons dít hoor, moet ons altyd dink aan Rom 12:1 En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God (omdat God so goed is vir jou): Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Ek moet my dankbaarheid betuig deur myself te offer. Ek moet my dankbaarheid betuig deur my getuienis. Ek moet my dankbaarheid betuig deur my diensbaarheid.

Slot
1. Gaan sit op hierdie Sondag en skryf op ‘n stuk papier, of op jou rekenaar: Vir wat in jou lewe wil jy uit dankbaarheid vir die Here erkenning gee?
2. Sê dan vir die Here dankie vir wat Hy in jou lewe gedoen het.
3. En besluit dan: Hoe gaan jy prakties aan die Here jou dankbaarheid betoon?
Amen

Gebed

Seën
Ontvang die seën van die Here en gaan leef in hierdie week opnuut uit dankbaarheid:
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en in die waarheid lei.