God vergeet; hoekom onthou jy?

Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is (Pred 9:4).

Jy skuld jouself vandag. Soos Prediker 9 sê, ’n lewende hond is beter as ’n dooie leeu. Nou ja, jy ook. Jy leef! Jy is hier. Al het jy dalk jou werk verloor of ernstig siek geword, God het gekies dat jy vandag steeds leef.

Jou waarde het nie skielik afgeneem omdat die geld in jou sak verdwyn of jou gesondheid dramaties verander het nie. Of omdat ’n maatskappy jou dienste te beëindig of jou huwelik of ’n kosbare vriendskap op die rotse geloop het nie. Jy is nie vandag ’n mislukking omdat hierdie dinge gebeur het nie. Nie eens al die verkeerde dinge wat jy gedoen of die skewe paadjies wat jy gister gekies het, kan vandag teen jou tel as jy in die Here se hand leef en sy vergifnis ken nie.

Jy leef vanuit die genade van God. Jy is kosbaar in God se oë. Gister se foute en gebreke is minstens ’n nagreis ver agter jou. Saam met gister wat verby is, is gister se seer, swaar, verkeerde besluite, struikeling en pyn ook verby. God het gekies om oor en voor met jou te begin. Hoekom dan weier om sy genade te ontvang? Hoekom weier dat God jou opnuut met sy liefde en deernis omvou? Hoekom vasklou aan bitterheid of selfbejammering?

Moenie die leuens glo dat jou waarde net in geldterme gemeet kan word nie, of dalk net aan die nut wat jy vir ander het nie. Jy is so kosbaar dat God jou nie oorgeslaan het toe Hy vanoggend aan al sy geliefdes hier op aarde brood uitgedeel het nie. Ook is jy nie afgeskeep toe nog ’n porsie nuwe lewe deur die Gees oor sy kerk uitgegiet is nie. God het besluit om jou flou gister te vergeet; hoekom hou jy dit dan nog lewend? Moenie toelaat dat vals verhale oor gister en eergister jou gevange hou nie. Ontsnap uit jou selfopgelegde vonnis. Raak vry. Leef vandag!

Dankie, Here, dat U vandag as geskenk aan my gegee het. Help my om gister se mislukkings, seer en spyt aan u voete neer te sit sodat ek nou, vandag, vry kan leef. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)