Dissipels kuier graag by hulle nuwe helde

Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” … Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord (Johannes 1:43-45).

Pieter Breytenbach, gemeentebestuurder van Moreletapark, vertel:

Ek en my seun is op pad rugby toe. Groot is die opwinding toe hy sy helde, Pierre, Bryan en Morné, sien speel. Maandag, by die verkeerslig, sien ek die bekende bedelaar. Geïrriteerd begin ek met hom praat. Hy bly in die plakkerskamp daar naby. Ja, sê hy, hy ken die Here en die Here sal my seën as ek vir hom iets gee. Yeah right, dink ek, gooi ’n geestelike sousie oor jou bedel. Loop werk eerder!

Later gesels ek met die leiers van die plakkerskamp langs ons kerk. Ek doen moeite om hulle name te probeer onthou: Israel, Donald … die res is weg uit my geheue.

Tyd stap aan. Ek het ’n vergadering met van die bekendste sangers in ons land. Later gebruik ek hulle name in gesprekke en ek kan die jaloesie sien omdat my gespreksgenote dié mense nie kon ontmoet nie: Bobby, Juanita, Theuns …

Weer kry ek die naamlose bedelaar. Vandag is ek nie lus vir hom nie en kyk anderpad. Ek sit en dink aan my toer Israel toe. Ek is regtig geseënd om op Jesus se voetspore te kan gaan stap. Groot is my verbasing toe ek uitvind Nasaret was aan die verkeerde kant van die treinspoor. Jesus het in ’n grot gebly, grootgeword in ’n “plakkerskamp”. Sy pa, ’n no name skrynwerker, moes dalk ook op ’n straathoek bedel …

Toe verstaan ek die Skrifgedeelte wat sê dat niks goeds uit Nasaret, ’n “plakkerskamp”, kan kom nie. Jesus het nie eens ’n huis gehad of ’n bed om sy kop op neer te lê nie.

My gedagtes word verder deurmekaargekrap met ’n teksboodskap: “Anyone can be polite to a king; it takes a great man to be polite to a beggar.” Ek besef skielik ek is nie ’n great man nie. Al die “groot” name ken ek, maar naam van die verkeersligbedelaar en die name van die leiers van die plakkerskamp onthou ek nie. Hulle is nie my heroes nie.

Skielik besef ek dat ek in Jesus se tyd heel moontlik Pontius Pilatus, die skrifgeleerdes en die Fariseërs se name sou geken het; dat ek met die kruisiging dalk ook eerder vir húlle sou wou please en die bekende gevangene sou vrygelaat het in die plek van die onbekende man uit die Nasaret-plakkerskamp. Sê nou maar die verkeersligbedelaar of die leiers van die plakkerskamp is nie wie ek dink hulle is nie? Hoe kies ek teenoor wie ek polite is? Sê nou net … die man van die plakkerskamp is Jesus van Nasaret vandag?

Here Jesus van Nasaret, U het geen menslike eer gekies om onder ons te kom woon nie. Help my om U raak te sien in mense sonder aansien, om by hulle te leer en om almal met u liefde en respek te behandel. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)