Sondag 17 Mei 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
YOUTUBE BOODSKAP IN GRENDELTYD
SKRIF: MAT 14:22-33

Vooraf
Goeiedag vriende. Ja, ek weet julle sou vandag wat wou gee om vandag hier te kon wees, in hierdie gebou waar ons as gelowiges gereeld bymekaar kom om die Here te dien en aanbid. Maar terwyl ons nou nie kan nie, laat ons stil word rondom die Woord, daar waar ons is – en laat ons bemoedig word en versterk word, om in die geloof te volhard. Mag God, deur sy Woord en sy Gees, ons daarmee help.

Votum
Ons begin vandag ons stilword voor die Here in die woorde van Ps 27:1
Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? Amen

Seëngroet
Ek groet julle in die Naam van die Vader – Hy wat ons gemaak het,
in die Naam van die Seun – Hy wat ons verlos het,
en in die Naam van die Heilige Gees – Hy wat ons nuut maak en in die waarheid lei.
Genade en vrede vir julle.

Aankondiging van Skriflesing
Die Here se Woord kom vandag na ons uit Mat 14:22-33 – waar ‘n baie bekende verhaal, ‘n verhaal wat ons van ons kinderdae af ken, aan ons vertel word. Hierdie verhaal speel hom af op die aand van ‘n ander baie bekende verhaal – die verhaal van die eerste vermeerdering van die brode en vissies.

Gebed
Kom ons bid en vra dat hierdie ou bekende verhaal vandag ons harte en lewens opnuut sal aanraak.
Bring my die ou-ou tyding, die tyding van Gods heil.
Van Jesus sondaarsliefde, dié liefde sonder peil.
O, bring dit my eenvoudig, soos vir ‘n kindjie klein,
want ek is swak en nietig, ja, hulploos en onrein.
Bring my die ou-ou tyding, die boodskap van Gods heil.
Amen

Skriflesing
Mat 14:22-33
Onderstreep ‘n paar woorde
Kom ons onderstreep net ‘n paar woorde in hierdie verhaal:
v24 – deur die golwe geteister
v24 – wind was van voor
v26 – groot geskrik
v26 – dis ‘n spook!
v26 – angs
v26 – hard begin skreeu
En dan v27 – Wees gerus, dit is Ek, moenie bang wees nie.
En dan sluit die verhaal met v33: Hulle het voor Jesus gekniel en gesê: U is waarlik die Seun van God.

Boodskap
Vriende, in hierdie verhaal het Jesus se dissipels te doen met die werklikheid van ‘n donker nag op die see, en die bangmaak-werklikheid van ‘n storm wat opsteek, en met die werklikheid van golwe wat gevaarlik aan die opbou is en dreig om hulle skuit om te dop. En in hierdie werklikheid sien hulle ‘n spook. Ja, wil jy nou meer – toe die werklikheid van donker en ‘n storm en golwe Jesus se dissipels tref, het hulle sowaar gewys dat hulle nog in spoke glo. En, so lees ons, hulle het van angs hard begin skreeu. Wat gebeur het, is dat die dissipels se werklikheid, hulle realiteit, hulle laat vergeet het van ‘n ander Werklikheid – ‘n ander Werklikheid wat mens met ‘n hoofletter skryf.

Dis mos iets wat so maklik kan gebeur – dat die werklikhede waarmee ons te doen het, die realiteite van die lewe, dat dit ons kan laat vergeet van die ander Werklikheid, van God. Die donker, en storms, en golwe wat dreig om ons lewensbootjie om te dop, laat ons spoke sien, en vul ons met angs – in plaas daarvan dat ons steeds die groot Werklikheid, vir God, sien.

Die dissipels het oor ‘n tyd baie van Jesus se wonderwerke gesien. Hulle het beleef hoe blindes weer sien, dowes weer hoor, keupeles weer loop. Net voor hierdie gebeure het hulle gesien hoe Jesus met 5 brode en 2 vissies vir duisende mense kos gee. Maar daardie selfde aand, as die werklikheid van die storm hulle tref, en hulle word rondgeskud in hulle skuit, en die sproeireën waai in hulle oë, dan sien hulle nie meer die groot Werklikheid raak nie. En dan raak hulle bang. En hulle sien ‘n spook. Dit is wat die storms van die lewe met ‘n mens doen. Dit eis jou sintuie op. Dit eis jou oë, jou ore, jou alles só op, dat jy nie meer die ander Werklikheid kan sien nie. En dan… dan raak jy bang, en dit vul jou met angs.

Maar dan kom Jesus, die groot Werklikheid, en Hy stap op die water na sy dissipels, na daar waar hulle te doen het met die werklikheid van ‘n storm, en hoor wat sê Hy vir hulle “Wees gerus. Moenie bang wees nie. Dit is Ek.” Dit is Ek, die ander Werklikheid, wat in julle storm na julle toe kom.

Vriende, te midde van die harde werklikheid, die realiteit van ‘n dodelike virus, en die slegte werklikheid van inperking, en die harde werklikheid van ‘n ekonomie wat dreig om baie mense se skuite om te dop, en die golwe van eensaamheid wat oor baie slaan, stap Jesus vandag in ons werklikheid in en sê “Wees gerus. Moenie bang wees nie. Dit is Ek.” Dit is Ek, die ander Werklikheid.

Ek gesels hierdie week met ‘n 77-jarige man. Hy vertel van die werklikhede van sy lewe – hoe hy as driejarige seuntjie dodelik siek was. Die dokters het vir hom geen hoop gehad nie. As student was hy weer dodelik siek. ‘n Klompie jare later het hy as getroude man die storms van ‘n lewe saam met ‘n baie siek vrou beleef – hy het vir jare soveel ure in die hospitaal langs ‘n siek vrou gesit, tot hy haar aan die dood afgestaan het. En hier gesels hy hierdie week met my as ‘n man wat leef en lewensvreugdes ken, en hy getuig: Deur alles was die Here – die ander Werklikheid, daar. Dis hierdie ander Werklikheid wat hom tot hier gebring het. Dis Hy, die ander Werklikheid, wat hom geleer het: “Wees gerus. Moenie bang wees nie. Dit is Ek.”

Die verhaal vertel dan verder van Petrus wat op die water na Jesus geloop het. Vir ‘n paar treë is sy oë op Jesus, die groot Werklikheid. Maar dan weer, as hy oorval word deur die werklikheid van die sterk wind, en die dreigende golwe, dan word hy bang, en as hy sink roep hy uit “Here, red my!” En dan steek Jesus sy hand uit na die kleingelowige Petrus.

Soos wat Hy ook vandag na ons sy hand uitsteek – na ons wat ook die wind van voor kry, na ons wat die golwe van ekonomiese rampspoed sien nader kom, na ons wat spoke sien en angstig raak. Hy steek sy hand na ons uit.

Mag ons ook, as Hy saam met ons in die skuit klim, mag ons ook dan saam met Petrus en die ander, in hierdie tyd voor Hom kniel en bely: Ons glo nie in spoke nie. Ons is nie angstig nie. Ons is nie bang vir die donker nie. Ons skrik nie vir stormwinde en dreigende golwe nie. Nee, ons glo in U, die groot Werklikheid. Ons glo in U, Jesus. U is waarlik die Seun van God. Ons buig voor U. Amen

Gebed
Kom ons bid.
Here, help ons om te midde van al die werklikhede van siektes en eensaamheid en swaarkry, en van ‘n sinkende ekonomie, vir U raak te sien.
Help ons om te hoor as U, die groot Werklikheid, vandag by ons kom staan en vir ons kom sê: “Wees gerus. Moenie bang wees nie. Dit is Ek.”
Ons buig voor U. Jesus, U is waarlik die Seun van God. Amen

Geloofsbelydenis
Ons gaan vandag sluit met ‘n geloofsbelydenis – ons belydenis van ons geloof in die ander, die Groot Werklikheid. Ons gaan ons belydenis doen in die woorde van Lied 491
‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag.
Hy sal in angs en nood my nooit verlaat nie.
Hy bly my redder al het ek nie raad nie.
Hy maak my vry van skuld en sondemag.

Hom het ek lief, Hy lei my op sy pad
en rig daarop my kinderlike treë.
Hy ken die hindernisse op my weë
en voor ek val, het Hy my hand gevat.

Seën
Ontvang die seën van die Here, en gaan leef met hoop, en met vrede in jou hart – en met jou oë gerig op Jesus, die groot Werklikheid:
Die Here sal julle seën en julle beskerm,
die Here sal tot julle redding kom en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee. Amen