Gespreksdokument oor selfdegeslagverhoudinge

Kerkraad Oudtshoorn Moedergemeente
Gespreksdokument oor selfdegeslagverhoudinge

Agtergrond van hierdie dokument
Die Sinode van Wes-Kaapland (Mei 2019) en die Algemene Sinode (Oktober 2019) het besluit dat elke kerkraad self moet besluit wat hulle siening en waardes is rondom dieselfdegeslag verhoudings.
Die kerkraad van Moedergemeente het op ‘n vergadering op 20 Mei 2019 die volgende besluit geneem: Ds Smuts, Jan Loubser en van die ander kerkraadslede wat hul beskikbaar stel, sal voorbereiding doen in hierdie verband en ‘n konsep met die volgende kerkraadsvergadering voorlê.

Hierdie dokument wil uitvoering gee aan die besluit van die kerkraad. Op hierdie stadium dien dit bloot as gespreksdokument. Die idee is dat kerkraadslede aan die hand van die Skrif hieroor moet besin en bid, waarna die kerkraad ‘n besluit kan neem. Mag die bespreking altyd plaasvind in deernisvolle en liefdevolle luister na mekaar, maarmag die bespreking en enige besluit wat geneem word, altyd ook geskied in gehoorsaamheid aan die Heer soos wat Hy dit in sy Woord aan ons openbaar.
Mag alle besprekings en besluite alleen maar wees tot eer van sy Naam en tot heil van die gemeente van die Here!

INLEIDENDE OPMERKINGS
Ons mag nie stilbly nie
Albert Mohler, president van die Baptist Theological Seminary in Louisville, Kentucky in die VSA, het ‘n boek geskryf met die titel We cannot be silent. Die subtitel van die boek is Speaking truth to a culture redifining sex, marriage, & the very meaning of right & wrong. In ‘n tyd waarin die Bybelse waardes van die huwelik en van seks, en van reg en verkeerd, al hoe meer deur ‘n wêreldse gees bedreig en verswelg word, moet ons as kerk en Christene opnuut weer hoor wat die Bybel vir ons leer, en mag ons te midde van al die dwaalstemme in die wêreld nie oor wat die Woord vir ons leer, stilbly nie.

Ons moet ons deur die Bybel as Woord van God alleen laat lei
Die belangrikste wat ons vir mekaar moet sê is: Alleen die Bybel as die Woord van God moet vir ons lei in ons nadenke oor enige saak, en as ons oor dinge praat, asook in ons dade. Daarom moet die Bybel alleen ook ons rigtingwyser wees ten opsigte van die huwelik, seks en selfdegeslagverhoudinge. Vir ons as gereformeerde gelowiges is daar ‘n groot en belangrike waarheid wat vasstaan, ‘n waarheid wat ons deur die eeue gelei het en op die pad vorentoe moet lei: Sola Scriptura. Die Bybel alleen moet vir ons normatief wees vir ons ganse lewe. Terwyl ons van ander stemme kennis neem, mag geen ander stem ons lewe bepaal nie – nie die stem van mense nie, nie die wetenskap nie, en nie enige wetgewing (soos die grondwet van die land) nie. Die Bybel is immers nie net maar ‘n mensewoord oor God nie, dit ís die Woord van God – God se woord in mensetaal (2 Tim 3:16). Sy Woord is is die lamp vir ons voet en die lig vir ons pad vir alle tye.

Ons moet nie ‘n wêreldse bril opsit as ons die Bybel lees nie
Terwyl baie gelowiges sal saamstem met dit wat hierbo gesê is, sal sommige tog dadelik die vraag vra: Maar hoé en met watter bril lees jy die Bybel? Dit is ‘n baie belangrike vraag, want baie mense lees die Bybel met ‘n bril van eie voorkeure en wêreldse waardes en beginsels. Daarom is daar talle wat sal sê “ja, die Bybel praat oor homoseksualisme / selfdegeslagverhoudings, máár die Bybel praat nie met ons oor dieselfde soort selfdegeslagverhoudinge as wat ons vandag ken nie. Daarom is die Bybelgedeeltes wat hieroor praat nie meer in ons tyd van toepassing nie.”
Prof Jan van der Watt noem hierdie benadering die hermeneutiek van suspisie – ‘n hermeneutiek wat twyfel wil saai oor of die Bybel met ons in hierdie moderne wêreld nog oor ‘n saak praat, en of dít waaroor die Bybel praat enigsins nog in ons werklikheid van toepassing is.Mense met hierdie benadering sal sommer gou vir jou sê dat jy fundamentalisties, wetties en liefdeloos is as jy sekere Bybelse riglyne en beginsels nog as belangrik ag.

Lidmate én teoloë word deur die Gees gelei om die Woord duidelik te hoor
Gelukkig leef ons vandag nie voor die reformasie nie. Na die reformasie is die Bybel vertaal en is die Bybel in die hand van “gewone lidmate” – gewone lidmate wat ook die Gees van God het, die Gees wat verhelder om die Woord te verstaan en te glo. Die Woord is immers deur die Gees geïnspireer, en dit is die Gees wat die Woord aan gelowiges bekendmaak. Deur die verligting van die Heilige Gees is daar duisende der duisende gelowiges wêreldwyd en in baie Christelike kerke wat getuig dat die Woord baie duidelik met ons praat oor selfdegeslagverhoudinge.
En ja, gelukkig is daar óók baie geleerde teoloë, betroubare Skrifuitleggers, eksegete in ons eie kerk (bv proff Jan vd Watt, Jan du Rand, Stephan Joubert en ander), maar ook in baie ander Christelike kerke wêreldwyd, wat met verantwoordelike Skrifuitleg helder en duidelik getuig oor wat die Here se Woord vir ons oor selfdegeslagverhoudinge leer.

Die Here lei sy kerk al oor eeue om sy Woord en wil te ken
Maar daarmee saam is daar nog ‘n stem oor wat die Woord leer, en ook hierdie stem moet ons nie gering ag nie – die stem en getuienis van die kerk oor 2000 jaar. Reeds vir 2000 jaar getuig gelowiges dat die stem van die Here vanuit sy Woord duidelik oor die huwelik en oor selfdegeslagverhoudinge praat. Proff Don Fortson (professor in kerkgeskiedenis by Reformed Theological Seminary by Charlotte) en Rollin Grams (professor in Nuwe Testament by Gordon Conwell) skryf hieroor in hulle boek Unchanging witness: The consitant Christian teaching on homosexuality in Scripture and tradition. En dan vra hierdie twee teoloë die belangrike vraag: Hoe is dit moontlik dat ons nou, na 2000 jaar, die Here vir die eerste keer oor hierdie saak reg kan hoor? Hulle sê dan: Die probleem is dat ons in ons konteks van ‘n moderne wêreld oor hierdie Woord van God ongemaklik raak. En daarom swig ons voor die druk deur stil te bly. Ons mag nie stilbly oor die waarhede van die Woord nie!

Ons moet eerstens oor die huwelik en oor seks buite die huwelik praat
Wat verder baie belangrik is, is dat ons nie net oor selfdegeslagverhoudings opsigself kan praat nie. Ons moet eerstens oor die huwelik praat. Daarmee saam moet ons praat oor seks buite die huwelik. Voor ons oor selfdegeslagverhoudinge wil praat, moet ons op grond van die Woord twee dinge helder en duideliksê:
(1) In ‘n wêreld waarin die huwelik erg bedreig word, moet ons as kerk opnuut helder en duidelik sê hoe die huwelik lyk wat God ingestel het. Ons moet opnuut bevestig dat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is. (Sien ook die huweliksformulier wat reeds oor eeue op grond van die Woord helder en duidelik oor die huwelik praat.)
(2) En in ‘n wêreld waarin seks/seksuele gemeenskap sy goddelike doel verloor het, moet ons as draers van die Woord ook helder en duidelik sê dat die seksuele daad buite die huwelik sonde is.  As die kerk dit nie meer wil sê nie, wie moet dit sê?

Die kerk se deure staan oop vir almal
Maar daarmee saam moet ons as kerk met ‘n liefdevolle en evangeliese stem ook helder en duidelik sê:
Ons moet met woorde en met opregte dade van liefde sê dat die kerk se deure oopstaan vir álle mense, ongeag wie hulle is, om in die midde van medegelowiges onder die geklank van die Here se Woord te kom en die gemeenskap van gelowiges te beleef.
Ons moet opnuut helder en duidelik sê dat elkeen wat sy geloof in die Here Jesus bely en die belydenis van die kerk onderskryf, ‘n lidmaat van die kerk is.

Die evangelie wil almal vry- en nuut maak
Maar terselfdertyd moet die kerk die evangelie van vergifnis en van ‘n nuwe lewe en oorwinning in Jesus Christus, weer waarlik glo en met geloof en oortuiging verkondig. Ons moet glo dat die evangelie kragtig is om vry en nuut te maak. En ons moet ons in hierdie moderne wêreld nie skaam vir hierdie evangelie nie (Rom 1:16), al sou die wêreld oordeel dat ons dwaas is (1 Kor 4:10).
Die Bybel en belydenisskrifte leer vir ons van skepping, sondeval, versoening en vergifnis. Maar dan leer die Bybel en die belydenisskrifte ons ook van ‘n nuwe lewe van oorwinning, van dankbaarheid, en van gehoorsaamheid aan die wil en leiding van die Here.
Daar is talle gay georiënteerde persone wat getuig van ‘n lewe van vrymaking en oorwinning deur selibaat te leef. So is daar ander persone wat getuig dat hulle geglo het dat hulle gay is, maar wat nou in ‘n heteroseksuele verhouding/huwelik leef, om hulle deur Christus vry gemaak is en die Gees hulle gelei het na ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid.
Ons moet ons in hierdie mense se getuienis verheug – want dit is ‘n getuienis van die krag van die evangelie van Jesus Christus wat bevry en nuut maak.

Die vraag is: Glo ons nog soos die Bybel ons leer?
Die vraag is: glo ons nog as die Woord met ons praat oor sonde? Glo ons nog die wonder van die evangelie van regverdigmaking en versoening deur Jesus Christus alleen? Glo ons ook regtig dat die evangelie ons kan vry maak en dat die Gees ons kan lei tot ‘n lewe van oorwinning en gehoorsaamheid aan die Woord van die Here?

SKRIFGEDEELTES WAT ONS HELP OM GELOWIG NA TE DINK OOR SELFDEGESLAG-VERHOUDINGE
Soos hierbo genoem, glo ons dat die Skrif alleen vir ons normatief moet wees in ons nadenke, besluite en optrede ten opsigte van alles in die lewe, ook ten opsigte van selfdegeslagverhoudinge. Hieronder volg Skrifgedeeltes wat ons daarin wil lei – lees en oordink hierdie Skrifgedeeltes biddend.
2 Tim 3:14b – 17:
Jy weet tog wie jou leermeesters was
15. en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
16. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,
17. sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Open 22:18 – 19:
18.Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is;
19. en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Lev 18:22:
22. Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde.

Nota: Levitikus verwys in hoofstuk 18 na allerlei verbode seksuele verhoudings. In vers 22 word homoseksualiteit by name aangespreek en word dit genoem ‘n “afstootlike sonde”. Ons sou kon vra waarom sommige slegs die verbod op homoseksualisme as nie meer van toepassing beskou, maar wel die ander?

Lev 20:13:
13. Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
Nota: Lev 20:10 ev verwys nogeens na verbode seksuele verhoudings en word homoseksualiteit ‘n “afskuwelike sonde” genoem. Daar sou gevra kon word waarom wil ons net die eerste gedeelte van dié vers van toepassing maak, maar nie die tweede wat handel oor die straf nie. Vir ‘n antwoord moet ons nie slegs eksegeties nie, maar ook teologies vanuit die verstaan van die HELE Skrif daarna kyk.
In die OT was daar ten minste 2 soorte wette, naamlik rituele wette en sedelike/etiese wette. Die Here Jesus het aan die rituele (straf-) wette hulle volle betekenis gegee en daarmee het hulle dus verval. Omdat Hy aan die kruis sy lewe gegee het vir ons sondeskuld, hoef geen dier of mens meer doodgemaak/geoffer te word nie. Die sedelike/etiese wette is egter nooit deur die Here Jesus nietig/ongeldig verklaar nie – inteendeel, die Here Jesus het oa in die bergpredikasie nog dieper betekenis daaraan gegee. ‘n Goeie voorbeeld hoe dit in die vroeë kerk toegepas is, vind ons in die besluit van die eerste “sinode”: Hand 15:28.Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29.dat julle nie vleis moet eet wat aan ‘n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg.
Gelowiges uit die heidendom hoef dus nie meer vir hulle te laat besny nie (‘n rituele wet wat in Christus se kruisdood sy volle betekenis gekry het), maar moes steeds “onsedelikheid vermy” (sedelike/etiese wette).

Deut 23:17 – 18:
17.Jy mag nie prostitute by die tempel aanhou nie, of dit nou vrouens of mans uit Israel is.
18. Wanneer jy ‘n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van ‘n prostituut, of dit nou die van ‘n man of ‘n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het ‘n afkeer van hierdie twee dinge.
Nota: Dié gedeelte verwys duidelik na tempelprostitusie teenoor die gedeeltes in Levitikus waar dit gaan oor homoseksualisme in die algemeen.

Rom 1:24 – 28:
24 Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.
25. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.
26. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang.
27. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.
28. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.
Nota: Sommige wil dié gedeelte ook afmaak as irrelevant omdat dit volgens hulle hier ook gaan oor tempelprostitusie. Daar is egter voldoende en oortuigende eksegese wat daarop wys dat dit nie die geval is nie.

1 Kor 6:9 – 10:
9. Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (NDV: “manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer”.
10.of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

1 Tim 1:8 – 11:
8. Ons weet dat die wet goed is as ‘n mens dit op die regte manier gebruik.
9.’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, die wat vader of moeder doodmaak, moordenaars,
10.ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, die wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. (NDV: “vir manlike prostitute, vir mans wat met mans intiem verkeer”)
11.Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.

Matt 19:4 – 5:
4. Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? {Vgl. Gen. 1:27}
5.Daarby het Hy gesê: `Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ {Gen. 2:24}

Nota: Dié uitsprake is uit die mond van die Here Jesus! Dit is hoe die Here dit oorspronklik bedoel het om te wees.

Enkele ander punte:
 Die “verskynsel” van selfdegeslagaangetrokkenheid was nie deel van God se oorspronklike skeppingsordeninge nie. Hy het immers nadat Hy die man en vrou geskep en hulle bymekaar gebring het, gesien dit is baie goed.

 Die Here Jesus Christus het met sy dood en opstanding herskepping moontlik gemaak. Paulus, die vyand van Christus en sy kerk, word herskep tot ‘n nuwe mens. Hy sê self hy leef nie meer nie, maar Christus leef in hom. Hy sê vir gelowiges “vroeër was julle……nou is julle….”, en “vroeër het julle….. (dan noem hy die verkeerde wat hulle gedoen het)”, nou moet julle….(dan noem hy hoe hulle nou anders moet leef vanuit die vergifnis wat hulle ontvang het). Ons kan nie die tragiese gevolge van die sondeval omhels en vier nie, maar moet dit oorwin en daaroor heers in Christus deur sy Gees.
 Gal 5:13, 16 – 17, 19 – 25:
13.Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
16.Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
17.Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.
19.Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,
20.afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,
21.afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.
22.Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
23.nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.
24.Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.
25.Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

 Die Here stel besondere eise aan mense in die ampte. Kyk bv na 1 Tim 3:1 – 13; 4:6 – 16; 2 Tim 2:15 – 16a; Titus 1:6 – 9; Heb 13:7; 1 Pet 5:2 – 3; en veral Jak 3:1.
 Op talle plekke in die Bybel word Christus se verhouding met die kerk vergelyk met die verhouding van die bruidegom teenoor die bruid.
 Ons hoor dikwels dat mense sê ons moet nie oordeel en veroordeel nie, want Jesus sou gesê het dat dié wat sonder sonde is eerste ‘n klip moet optel om die sondaar te gooi. Dit is waar – maar daar is ook ‘n ander waarheid. Jesus self het ook gesê “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou het, vergewe hom.” (Luk 17:3 – lees die hele gedeelte.)
Daarmee saam kan 1 Kor 5 gelees word, waar dit gaan oor onsedelikheid en die oproep om tug toe te pas. (Tug beteken ‘optel’en ‘terugtrek’ na die Here.)

Moontlike besluit van die kerkraad van Oudtshoorn Moedergemeente

1. Die kerkraad van Oudtshoorn Moedergemeente glo dat die Skrif ons leer om saam met die kerk oor eeue te getuig
1.1 dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, wat mekaar met die liefde van Christus versorg;
1.2 dat seksuele gemeenskap buite die huwelik soos alle ander sondes, teen God se wil en plan is, en dus nie aan die eise van ‘n Christelike lewensstyl voldoen nie. Vir álle sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die soenverdienste van Jesus Christus;
1.3 dat geen mens minderwaardig behandel moet word nie, inteendeel, dat daar met respek en liefde teenoor álle mense opgetree moet word, en dat die gelykwaardigheid van álle mense, ongeag seksuele oriëntasie, erken moet word;
1.4 dat Moedergemeente se deure oopstaan vir álle mense om hulle met die liefde en deernis van Christus te ontvang;
1.5 dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, en die belydenis van die kerk onderskryf, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is; en
1.6 dat elke doop- en belydende lidmaat, en veral dié wat geroep is om in die besondere ampte te dien, hoe langer hoe meer vanuit die verlossing in Christus in ware geloof, uit dankbaarheid in gehoorsaamheid moet leef aan die wil van die Here soos geopenbaar in sy Woord.

2. Die kerkraad aanvaar opnuut die roeping, voorreg en verantwoordelikheid
2.1 om met liefde en deernis die evangelie van verlossing, vrymaking en ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan die Here en die eise van sy Woord, te verkondig; en
2.2 om in lyn met die Skriftuurlike getuienis soos in 1.1 tot 1.6 genoem, die bediening in die gemeente te bestuur.

3. Op grond van die kerkraad se Bybelse verstaan van die huwelik (1.1) en die beoefening van seksuele gemeenskap (1.2), is die praktiese implikasies vir ons gemeente dat:
3.1 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie tot die ampte van ouderling en diaken verkies kan word nie;
3.2 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie as kategeet of in enige ander lerende hoedanigheid kan dien nie;
3.3 daar nie erkenning gegee word aan selfdegeslagverbintenisse wat as burgerlike verbintenisse bekend staan nie;
3.4 ons nie ruimte skep vir ons leraar(s) om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te kan bevestig nie;
3.5 ons nie ons kerkgebou beskikbaar stel vir voltrekking of inseëning van selfdegeslagverbintenis/-verhouding nie;
3.6 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal beroep en bevestig as predikant van die gemeente nie;
3.7 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal nooi om die Woord of die sakramente in ons gemeente te bedien nie.