Besluit van kerkraad i.s. die huwelik en selfdegeslagverhoudinge

NG Kerk Oudtshoorn (Dolerend)
Besluit van kerkraad i.s. die huwelik en selfdegeslagverhoudinge

Die kerkraad van die NG Kerk Oudtshoorn (ook bekend as Moedergemeente), het op 18 November 2019 vergader en eenparig die volgende besluit geneem:

1. Die kerkraad glo dat die Skrif ons leer om saam met die kerk oor eeue te getuig
1.1 dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, wat mekaar met die liefde van Christus versorg;
1.2 dat seksuele gemeenskap buite die huwelik soos alle ander sondes, teen God se wil en plan is, en dus nie aan die eise van ‘n Christelike lewensstyl voldoen nie. Vir álle sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die soenverdienste van Jesus Christus;
1.3 dat geen mens minderwaardig behandel moet word nie, inteendeel, dat daar met respek en liefde teenoor álle mense opgetree moet word, en dat die gelykwaardigheid van álle mense, ongeag seksuele oriëntasie, erken moet word;
1.4 dat die gemeente se deure oopstaan vir álle mense om hulle met die liefde en deernis van Christus te ontvang;
1.5 dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, en die belydenis van die kerk onderskryf, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is; en
1.6 dat elke doop- en belydende lidmaat, en veral dié wat geroep is om in die besondere ampte te dien, hoe langer hoe meer vanuit die verlossing in Christus in ware geloof, en uit dankbaarheid in gehoorsaamheid moet leef aan die wil van die Here soos geopenbaar in sy Woord.

2. Die kerkraad aanvaar opnuut die roeping, voorreg en verantwoordelikheid
2.1 om met liefde en deernis die evangelie van verlossing, vrymaking en ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan die Here en die eise van sy Woord, te verkondig; en
2.2 om in lyn met die Skriftuurlike getuienis soos in 1.1 tot 1.6 genoem, die bediening in die gemeente te bestuur.

3. Op grond van die kerkraad se Bybelse verstaan van die huwelik (1.1) en die beoefening van seksuele gemeenskap (1.2), is die praktiese implikasies vir ons gemeente dat:
3.1 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie tot die ampte van ouderling en diaken verkies kan word nie;
3.2 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie as kategeet of in enige ander lerende hoedanigheid kan dien nie;
3.3 daar nie erkenning gegee word aan selfdegeslagverbintenisse wat as burgerlike verbintenisse bekend staan nie;
3.4 ons nie ruimte skep vir ons leraar(s) om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te kan bevestig nie;
3.5 ons nie ons kerkgebou beskikbaar stel vir voltrekking of inseëning van selfdegeslagverbintenis/-verhouding nie;
3.6 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal beroep en bevestig as predikant van die gemeente nie;
3.7 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal nooi om die Woord of die sakramente in ons gemeente te bedien nie.

4. Die kerkraad neem met teleurstelling, hartseer en afkeur kennis van die Algemene Sinode 2019 se besluit in verband met selfdegeslagverhoudinge en verklaar dat die gemeente van nou af ‘n dolerende (treurende) gemeente is, en as sulks bekend sal staan. Die gemeente sal dolerend bly totdat dit blyk dat die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-Kaapland tot inkeer gekom en teruggekeer het om te buig voor die gesag van die Bybel as Woord van God (2 Tim 3:14-17).
4.1 Die kerkraad sal van tyd tot tyd besluite neem oor die implikasies van dolering, byvoorbeeld vir die gemeente se betrokkenheid by en bywoning van byeenkomste van die Ring van Oudtshoorn en die Sinode van Wes-Kaapland, die gemeente se finansiële bydraes aan die Ring van Oudtshoorn, die Sinode van Wes-Kaapland en die Algemene Sinode, die bywoning van VBO-kursusse deur die leraar, ens.
4.2 Die kerkraad is nie ten gunste van kerkskeuring nie en dit is ons bede dat dit nie sal gebeur nie. Daarom bly die gemeente voorlopig binne die verband, biddend dat die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-Kaapland tot inkeer sal kom en sal terugkeer na die Woord. Wanneer dít gebeur, sal die gemeente haar dolerende status kan ophef om weer volledig te kan inskakel by die werksaamhede van die Ring van Oudtshoorn en die Sinode van Wes-Kaapland.