Besluite van die Algemene Sinode: Moet ons treur of moet ons lag?

Besluite van die Algemene Sinode: Moet ons treur of moet ons lag?
(Die vraag is: Treur God? Of glimlag God?)

Inleiding
Die Algemene Sinode is die sinode wat aan die NG Kerk leiding moet gee oor leer en lewe. Die Algemene Sinode word hierin gebind deur die heel belangrikste – ons gedeelde geloof in die Drie-enige God, ons geloof in die Bybel as die Woord van God, en ons kerk se belydenis wat gegrond is op die Woord alleen.

Alle besluite moet dus geneem word uit die geloofsoortuiging – dít is wat die Woord van God vir ons leer. Daarom sal besluite ook in ooreenstemming wees met die belydenis van die kerk oor eeue. Oor sulke besluite sal God glimlag, en kan die kerk juig en jubel.

Besluite van die Algemene Sinode
Oor die afgelope klompie jare het die Algemene Sinode al hoe meer geneig om besluite te neem wat nie met sekerheid op die Woord van die Here alleen gegrond is nie. Daar word toenemend gesê: “Ons is nie seker wat die Woord vir ons leer nie. Ons mag maar daaroor verskil. Laat ons liewer die eenheid bewaar en besluite neem wat almal se standpunte akkommodeer.”

‘n Goeie voorbeeld van so ‘n benadering, is die besluit wat ‘n paar jaar gelede geneem is oor die bestaan van die duiwel. Die besluit kom daarop neer dat ons in die kerk ruimte moet laat vir mense wat glo dat die duiwel bestaan, sowel as vir mense wat nie meer glo dat die duiwel bestaan nie. Die nuutste besluit van die Algemene Sinode (2019) oor selfdegeslagverhoudinge, wil ook ruimte laat vir totaal verskillende standpunte. Aan die een kant sê die Algemene Sinode ons glo steeds dat ‘n huwelik die verbintenis tussen een man en een vrou is. Maar aan die ander kant sê die Algemene Sinode daar moet ook ruimte wees vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag. Trouens, die Algemene Sinode laat toe dat dominees sulke verbintenisse kan voltrek met die seën van die Here, én het opdrag gegee dat ‘n formulier geskryf moet word vir die voltrekking van sulke verbintenisse. En dan besluit die Algemene Sinode verder dat kerkrade maar self kan besluit oor ‘n standpunt in hierdie verband.

Die Algemene Sinode se uitgangspunt is dus nie meer wat leer die Woord van die Here vir ons? nie, maar eerder hoe kan ons almal akkommodeer en almal gelukkig hou? So word daar ‘n valse eenheid voorgehou. En die goeie gereformeerde beginsel van Sola Scriptura (die Woord alleen) word dus nie meer gehandhaaf nie. Die Bybel word deur sommige teoloë in die kerk selfs nie meer as die onfeilbare, Geesgeïnspireerde, duidelike en genoegsame Woord van God (2 Tim 3:14-17) gesien nie, maar slegs as ‘n woord oor God.

Die vraag is weereens: Glimlag God oor só ‘n hantering van sy heilige Woord? En kan ons lag en juig en jubel oor so ‘n hantering van God se heilige Woord?

‘n Treurende (dolerende) kerk
Dit het al dikwels in die kerkgeskiedenis gebeur dat die kerk van die Skrif wegdwaal. Die reformasie (Martin Luther) is gebore uit die roeping om die kerk terug te lei na die Here se Woord alleen. Maar selfs na die reformasie het die kerk ook al weer van die Woord weggedwaal. Dit het byvoorbeeld in die Nederlandse kerkgeskiedenis gebeur. Dit is waarom daar in 1886, onder leiding van Abraham Kuyper, ‘n beweging in die kerk ontstaan het “om te treur” oor die toestand in die kerk. Hierdie beweging het as die doleansie bekend gestaan. Gemeentes wat doleer het (getreur het), het bymekaar aangesluit om so, as dolerende gemeentes, die kerk terug te roep na die Woord alleen.
Die vraag is nou: Is die toestand in die NG Kerk, en spesifiek die Algemene Sinode se besluite, van so ‘n aard dat ons daaroor moet treur (doleer)? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons seker onsself afvra: Treur God oor die besluite wat geneem is? óf glimlag God oor die besluite wat geneem is? En om dié vraag te beantwoord, moet ons die een groot vraag vra: Is die besluite wat geneem is in gehoorsaamheid aan die Woord alleen? Of is die besluite geneem om almal te akkommodeer? Om almal gelukkig te hou? Om die mens ter wille te wees?

Die doel van treur/dolering
Om te doleer beteken glad nie om af te skei of te skeur van die kerk nie. Inteendeel! Dolering wil juis nie wegbreek nie, maar wil die kerk help om terug te keer na die Woord alleen. Om te treur oor die toestand in die kerk, is ‘n noodroep na die kerk: Laat ons ons bekeer om opnuut te leef in gehoorsaamheid aan sy Woord alleen! Natuurlik wil niemand vir altyd bly treur nie – daarom beywer ‘n gemeente (of ring of sinode) wat doleer hom daarvoor om die kerk tot bekering op te roep – terug na die Woord.

‘n Beweging van dolerende gemeentes
Daar is tans in die NG Kerk al hoe meer stemme van gemeentes en selfs ringe wat dit ernstig en biddend oorweeg om te doleer. Daar is selfs gemeentes en ringe wat reeds besluit het om te doleer. Kerkrade/gemeentes/ringe wat doleer, soek by mekaar aansluiting om ‘n beweging van hervorming/bekering teweeg te bring. Hierdie beweging word ‘n doleansie genoem.

Wat gebeur as ‘n kerkraad besluit om te doleer?
Wanneer ‘n kerkraad besluit om te treur/doleer, dui hy dit reeds in sy naam aan – bv NG Kerk Tafelberg (dolerend). (Tafelberg word as voorbeeld geneem, omdat hulle reeds ‘n dolerende gemeente is.)
Die kerkraad stel die ring en sinode in kennis dat hy ‘n treurende gemeente is.
Die kerkraad kan bv deur onttrekking van sekere sinodale aksies wys dat hy treur en bekommerd is oor die toestand in die kerk.
Die kerkraad kan deur bv die (gedeeltelike) terughou van sinodale bydraes wys dat hy treur en bekommerd is oor die toestand in die kerk.
Die kerkraad kan sy leraars versoek om nie enige kursusse wat in die kerk aangebied word by te woon nie, aangesien die dwaling weg van die Woord juis in menige geval sy oorsprong by teologiese opeleiding het.
Die kerkraad soek kontak met gemeentes, ringe (en selfs sinodes) wat ook doleer.
Die kerkraad bly biddend soek na die leiding van die Here ten einde die kerk terug te lei na die Woord alleen.

Die groot vraag
Die groot vraag waarop die NG Kerk Oudtshoorn moet antwoord: Glimlag ons oor die besluite en Skrifbeskouing van die Algemene Sinode? óf treur ons oor die besluite en Skrifbeskouing van die Algemene Sinode?
Maar voor ons dié vraag beantwoord, moet ons eers die nog groter vraag beantwoord: Glimlag God oor die besluite en Skrifbeskouing van die Algemene Sinode? óf treur God oor die besluite en Skrifbeskouing van die Algemene Sinode?

Qua Vadis? Waarheen nou? Laat ons bid om die leiding van die Gees!