Moedergemeente: ‘n Skrywe van die kerkraad aan die gemeente

Moedergemeente
‘n Skrywe van die kerkraad aan die gemeente

Liewe gemeente

Die NGK was die afgelope paar maande opnuut in die nuus met die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge. Die kerkraad het hierdie saak deeglik oorweeg in die lig van die Bybel as Woord van God. Met die Woord van God as die lig en leiding vir ons hele lewe, het die kerkraad eenparig tot ‘n besluit gekom en wil ons graag hierdie besluit met die gemeente kommunikeer. Lidmate is welkom om die studiestukke wat voor die kerkraad gedien het te bestudeer. Dit is beskikbaar op ons kerk se webtuiste (google: NG Moedergemeente Oudtshoorn [www.moeder.co.za]). Lidmate is ook welkom om met my as leraar oor die aangeleentheid te gesels.

Dit is die kerkraad se wens en bede dat ons as gemeente in trou, gehoorsaamheid en volharding saam sal stap in die voetspore van ons Here Jesus. Dit is ook ons wens en bede dat elke lidmaat met sy/haar hele lewe voor die gesag van die Bybel as Woord van God sal buig. Mag ons in gehoorsaamheid aan die Woord ons gemeente se leuse uitleef tot eer van ons Heer, deur Sy liefde te laat leef!

Die besluit wat die kerkraad op 18 November eenparig geneem het, is soos volg:

1. Die kerkraad glo dat die Skrif ons leer om saam met die kerk oor eeue te getuig
1.1 dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, wat mekaar met die liefde van Christus versorg;
1.2 dat seksuele gemeenskap buite die huwelik soos alle ander sondes, teen God se wil en plan is, en dus nie aan die eise van ‘n Christelike lewensstyl voldoen nie. Vir álle sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die soenverdienste van Jesus Christus;
1.3 dat geen mens minderwaardig behandel moet word nie, inteendeel, dat daar met respek en liefde teenoor álle mense opgetree moet word, en dat die gelykwaardigheid van álle mense, ongeag seksuele oriëntasie, erken moet word;
1.4 dat die gemeente se deure oopstaan vir álle mense om hulle met die liefde en deernis van Christus te ontvang;
1.5 dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, en die belydenis van die kerk onderskryf, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is; en
1.6 dat elke doop- en belydende lidmaat, en veral dié wat geroep is om in die besondere ampte te dien, hoe langer hoe meer vanuit die verlossing in Christus in ware geloof, en uit dankbaarheid in gehoorsaamheid moet leef aan die wil van die Here soos geopenbaar in sy Woord.

2. Die kerkraad aanvaar opnuut die roeping, voorreg en verantwoordelikheid
2.1 om met liefde en deernis die evangelie van verlossing, vrymaking en ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan die Here en die eise van sy Woord, te verkondig; en
2.2 om in lyn met die Skriftuurlike getuienis soos in 1.1 tot 1.6 genoem, die bediening in die gemeente te bestuur.

3. Op grond van die kerkraad se Bybelse verstaan van die huwelik (1.1) en die beoefening van seksuele gemeenskap (1.2), is die praktiese implikasies vir ons gemeente dat:
3.1 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie tot die ampte van ouderling en diaken verkies kan word nie;
3.2 lidmate wat in ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding staan nie as kategeet of in enige ander lerende hoedanigheid kan dien nie;
3.3 daar nie erkenning gegee word aan selfdegeslagverbintenisse wat as burgerlike verbintenisse bekend staan nie;
3.4 ons nie ruimte skep vir ons leraar(s) om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te kan bevestig nie;
3.5 ons nie ons kerkgebou beskikbaar stel vir voltrekking of inseëning van ‘n selfdegeslagverbintenis/-verhouding nie;
3.6 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal beroep en bevestig as predikant van die gemeente nie;
3.7 ons nie ‘n predikant wat in ‘n burgerlike verbintenis met iemand van dieselfde geslag is, sal nooi om die Woord of die sakramente in ons gemeente te bedien nie.

4. Die kerkraad neem met teleurstelling, hartseer en afkeur kennis van die Algemene Sinode 2019 se besluit in verband met selfdegeslagverhoudinge en verklaar dat die gemeente van nou af ‘n dolerende (treurende)* gemeente is, en as sulks bekend sal staan. Die gemeente sal dolerend bly totdat dit blyk dat die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-Kaapland tot inkeer gekom en teruggekeer het om te buig voor die gesag van die Bybel as Woord van God (2 Tim 3:14-17).
4.1 Die kerkraad sal van tyd tot tyd besluite neem oor die implikasies van dolering, byvoorbeeld vir die gemeente se betrokkenheid by en bywoning van byeenkomste van die Ring van Oudtshoorn en die Sinode van Wes-Kaapland, die gemeente se finansiële bydraes aan die Ring van Oudtshoorn, die Sinode van Wes-Kaapland en die Algemene Sinode, die bywoning van VBO-kursusse deur die leraar, ens.
4.2 Die kerkraad is nie ten gunste van kerkskeuring nie en dit is ons bede dat dit nie sal gebeur nie. Daarom bly die gemeente voorlopig binne die verband, biddend dat die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-Kaapland tot inkeer sal kom en sal terugkeer na die Woord. Wanneer dít gebeur, sal die gemeente haar dolerende status kan ophef om weer volledig te kan inskakel by die werksaamhede van die Ring van Oudtshoorn en die Sinode van Wes-Kaapland.

Groete in Christus
Ds Smuts van Rensburg namens die kerkraad

………………………………………………………………..

**Dolerende (treurende) gemeente: Dit het al dikwels in die geskiedenis gebeur dat die kerk van die Skrif wegdwaal. Dit het bv in die 19e eeu in Nederland gebeur. Gemeentes het toe verklaar dat hulle doleer (treur) oor die toestand in die kerk. Gemeentes wat gedoleer het, het saamgestaan om ‘n beweging van dolerende (treurende) gemeentes te vorm. Hierdie beweging word ‘n doleansie genoem. Die doel van doleansie is nie om weg te breek van die kerk nie, maar wil die kerk oproep tot bekering en om weer terug te keer na die waarhede van die Bybel as Woord van God alleen.
Die kerkraad het besluit dat Moedergemeente moet doleer (treur) oor die toestand in die NG Kerk, omdat die Bybel nie meer in die besluite van die Algemene Sinode die hoogste gesag dra nie. Kom ons as gemeente bid dat die kerk in hierdie tyd waarin ons lewe, nie sal saamsmelt met die norme en standaarde van die wêreld nie. Ja, kom ons bid en beywer ons daarvoor dat die kerk deur gehoorsaamheid aan die Woord lig vir die wêreld en sout vir die aarde sal wees.