Nuus uit die pastorie – 5 Mei 2020

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
NUUS UIT DIE PASTORIE AAN KERKRAAD EN GEMEENTE IN GRENDELTYD : 5 MEI 2020

Liewe vriende

Ja, wie van ons sou nou ooit kon dink dat 2020 sulke wye en vreemde draaie sou maak! En ons is sowaar al meer as vyf weke ingegrendel! Dit is inderdaad vir ons almal ‘n buitengewone ervaring. En dit vra nuwe denke en wysheid om in hierdie buitengewone omstandighede te oorleef en steeds sinvol te leef en doelwitte te bereik. Daar is nie vorige ervaringe en modelle vanwaar ons kan copy en paste nie. Ons soek almal maar na wysheid van Bo om die beste van hierdie saak te maak. Of nog beter – ons soek na wysheid van Bo om hierdie vreemde tyd as ‘n geleentheid te sien om op ‘n nuwe manier mee te werk in die koninkryk van God. Want een ding weet ons – God is steeds aan die werk. Ons glo mos Hy is in beheer. En ons glo hierdie is ook ‘n tyd en geleentheid om medewerkers te wees in God se raadsplan.

Wat my opgewonde en dankbaar maak, is as ek hoor hoe mense hierdie tyd as ‘n tyd van geestelike groei en nuwe toewyding beleef. Ja, mens sou dink dat die onsekerheid van hierdie tyd en die feit dat die gewone gang van die lewe versteur is, moedeloosheid en opstandigheid meebring. Maar die boodskap wat ek keer op keer hoor, is dat mense moedig is, en met hoop leef, en in hulle verhouding met die Here verdieping ervaaar. Ja, lidmate laat weet “ons verlang na die samekomste van die gemeente!”, maar daarmee saam getuig hulle van ‘n daaglikse wandel met die Here en sy Woord. Net so maak dit my opgewonde en dankbaar as ek hoor hoe lidmate ons gemeente se leuse “liefde leef” prakties uitleef.

Dit is ook vir die kerkraad ‘n vreemde tyd. Ons is gewoond daaraan om op ‘n sekere manier ons taak en funksie te vervul ten einde die Here en sy gemeente te dien. En nou word ons daarvan weerhou. Dit beteken nie dat ons nie ons taak verrig nie. Inteendeel, ek verneem van kerkraadslede wat juis in hierdie tyd ‘n geestelike funksie vervul deur ander te bemoedig en toe te sien dat ander geestelik en fisies versorg word. Dit is so dat ons nie vergaderinge kan hou nie, maar dit beteken nie dat ons geestelike funksie tot stilstand gekom het nie. En agter die skerms (en gesigmaskers! -😊) word daar hard gewerk. Die werk van die Here word nie deur ‘n onsigbare en gevaarlike virus, en deur inperking, gekeer nie.

Vir my as predikant is dit ook ‘n vreemde en heel nuwe ervaring. Die besluit saam met die dagbestuur om in die lig van omstandighede nie met eredienste voort te gaan nie, was vir my ‘n bitter moeilike een. Min het ons geweet dat in die week wat sou volg daar in belang van ons land en sy mense vír ons ‘n besluit geneem sou word dat kerkdeure gesluit sal bly.
Ek was in die week na ons besluit op pad Kaap toe vir ‘n vergadering van die Bybelgenootskap. Dié vergadering is afgestel, en ek en Mariaan het besluit dat ons dan vir ons verloftyd by die kinders gaan kuier. Maar ook dié besluit is kortgeknip met die aankondiging van grendeltyd.
Tuis gekom, moes ek vir my ‘n nuwe weg vind om met die bediening voort te gaan. Dit is immers waarvoor ek geroep is, en waarom ek in Moedergeente is – om as dienskneg van die Here in sy Naam, en in gebed, en met die Woord van hoop ‘n verskil in mense se lewens te probeer maak. Ek moes net ‘n nuwe weg en nuwe roetine vind.

Met hierdie skrywe wil ek sommer met kerkraads- en gemeentelede ‘n paar sake deel rakende die gemeente, die bediening, wat in die gemeente gebeur, waarmee ek my besig hou, hoe die grendeltyd ons nou en vorentoe raak, ens. Ons as kerkraad sal, wanneer grendeltyd verby is, so spoedig moontlik bymekaar moet kom om saam te bid, te besin en te beplan.

Eredienste
Ons almal wat getrou eredienste bywoon, mis die gemeenskap van gelowiges op Sondae. Ek kry talle boodskappe van lidmate wat sê hoe hulle verlang na die gemeente se saamwees op Sondae.

Kom ons sê vir mekaar: Niks kan eredienste, die fisiese samekoms in ‘n erediens vervang nie. Alle ander dinge is die tweede beste. Soos ‘n dominee-vriend die ander dag sê: Mens kan nie kerk kyk of luister nie. Jy wil dáár wees, sáám met ander rondom die Woord van die Here. Eredienste bly die saamtrekpunt van ‘n gemeente se bestaan en aktiwiteite.

In die lig van omstandighede, moes ek egter ‘n ander weg vind om die Woord te bedien. Daarom het ek besluit om die YouTube boodskappe te maak. (‘n Heel nuwe ervaring vir my!) Die YouTube boodskappe word aan kerkraadslede, dienswerkers en lidmate wie se selnommers op my foon is gestuur, met die versoek om dit so wyd as moontlik na ander lidmate (en enigiemand anders) te stuur.
Riaana van Deventer plaas die YouTube boodskappe ook op ons gemeente se Facebook-blad. En Elize Steyl plaas dit weer op ons gemeente se webtuiste. Dankie aan hulle twee!
Deur die YouTube boodskappe word die Woord aan ‘n hele klomp lidmate bedien. Dit is ongelukkig wel so dat baie van Moedergemeente se lidmate nie die voorreg het van toegang tot internet en data nie, en dus nie die YouTube videos kan kyk nie.

Terloops – dit wil lyk of (ten minste groter) kerklike byeenkomste (soos eredienste) eers op vlak 1 van grendeltyd gehou sal kan word. Ons hou ons oor egter op die grond en sal die gemeente inlig wanneer ons duidelikheid het oor wanneer eredienste kan hervat.

Kindertyd
Die YouTube boodskappe kan nie te lank wees nie. Daarom het ek nie nog ‘n kindertyd ingewerk nie. Maar dit het my so gepla, dat ek ook begin het om vir kindertyd ‘n boodskap op YouTube te plaas, sodat ons ons kinders kan bereik.
Ek het besluit om die kindertyd YouTube te vul met Bybelverhale. Ek het dié besluit geneem omdat daar in dié tyd nie kategese is nie. Ek het dit ook besluit omdat ons kinders deesdae nie die Bybelverhale goed ken nie, terwyl die Bybelverhale die grondslag vorm van ‘n gesonde Godsbegrip.

Die YouTube boodskappe vir ons kinders word op dieselfde wyse as die ander YouTube boodskappe versprei.

Kategese
Van ons gemeente se kinders gepraat. Dit is eintlik hartseer dat ons kategese tot stilstand gekom het in grendeltyd.
Ons weet egter almal dat ons kinders se geloofsopvoeding primêr die verantwoordelikheid van verbondsouers is. Die kategese is eintlik net ‘n verlengstuk en ondersteuning aan ons ouers. Ja, ons weet daar is ouers wat nie hulle doopbelofte nakom nie, maar gelukkig weet ons ook dat daar ouers is wat met groot verantwoordelikheid en liefde hulle kinders uit die Woord en in die weë van die Here grootmaak.
Dit is dan ook my wens dat kategete die Kindertyd YouTube video se skakel na ouers van kinders sal stuur, sodat hulle dit saam met hulle kinders kan kyk.

Belydenisklas
Wat die kategese se belydenisklas (graad 11 kinders) betref, is dit ‘n heel ander storie. Ek gaan voort met my onderrig van die belydenisklas. Net soos wat onderwysers van skole die leerders oor ‘n afstand en deur tegnologie onderrig, doen ek dit ook met my klas. Omdat almal van hulle nie onbeperkte toegang tot data het nie, is my opsies effens beperk. Daarom doen ek dit deur gereelde whatsapp kommunikasie (skriftelike- en stemboodskappe) met die kinders. Ek kry van hulle baie goeie samewerking en respons. Ek probeer ook om die geestelike karakter van die onderrig te behou, en om dit nie deur die “koue tegnologie” te verloor nie.

Ek sal kyk hoe ons met die graad 11’s se kategese vorder. Ek sal dan later in die jaar met Louise de Wet en ander lede van die Jeugkommissie besluit of ons, soos beplan, in November met belydenisaflegging sal voortgaan, en of dit uitgestel moet word. Ons sal in die lig van al die verwikkelinge ook besin oor die voorgenome uitreik na die Kaap as deel van hulle toerusting. Die belangrike is dat die kinders geestelik gereed moet wees om belydenis van geloof af te lê. Ek sal ook die kerkraad hierin ken. Ek wil vra – bid asseblief vir die kinders in ons belydenisklas.

Matrieks
En dan, net ‘n woord oor ons matrieks – hulle wat verlede jaar belydenis van geloof afgelê het. Ek weet nie of almal altyd daaraan dink hoe ‘n moeilike jaar dit vir hulle is nie. Dit is ook ‘n jaar met groot teleurstellings, omdat al die lekker en mooi dinge van in-matriek-wees wat jy jou lewe saam met jou gaan dra, nie vir hulle beskore is nie. Daarom stuur ek van tyd tot tyd aan die matrieks wat verlede jaar belydenis afgelê het, ‘n whatsapp-boodskap ter bemoediging. En so hier en daar bel ek ook sommer van hulle. Ek wil vra – bid asseblief ook vir hulle.

Tuishuis en Gottlandhuis
Tuishuis en Gottlandhuis saam het ongeveer 120 inwoners. Almal is nie lidmate van Moedergemeente nie, maar albei tehuise val binne die grense van ons gemeente en daarom aanvaar ons die verantwoordelikheid en is dit vir ons ‘n vreugde om hulle te bedien.

Ek weet nie of almal besef hoe eensaam ons senior burgers in grendeltyd is nie. Ouetehuise en aftreeoorde se grendeltyd het begin voor die res van die land. Hulle mag geen besoek van buite ontvang nie. Ook ek as predikant mag hulle nie besoek en bemoedig nie. Bid asseblief vir almal in ouetehuise en aftreeoorde. En as jy kan, gee sommer ‘n luitjie om hulle te beomoedig.

Ek moes ‘n plan maak om Tuishuis en Gottlandhuis te bedien ten einde hulle te bemoedig, en om hulle daaraan te herinner dat Moedergemeente en die Here hulle nie vergeet het nie. Gelukkig geniet ek die goedgesondheid en goeie samewerking van die bestuurders van albei tehuise.
Ek skryf weekliks ‘n boodskap (kort preek) wat ek per e-pos aan die bestuurders stuur. Tuishuis se bestuurder lees op Vrydae die boodskap aan alle inwoners voor oor die interkomstelsel. Gottlandhuis se bestuurder reël met ‘n inwoner om Sondae-middae aan etenstafel die boodskap voor te lees. Daar is goeie en dankbare terugvoer van inwoners.

Met Paasnaweek het die kerkkantoor aan my uit ons bedieningsbegroting ‘n geldjie voorsien, en het ek en Mariaan vir al die inwoners van Tuishuis en Gottlandhuis ‘n paaseier met ‘n Paasboodskap gereed gemaak, wat deur die twee bestuurders van die tehuise aan inwoners oorhandig is. Ons het op die boodskap geskryf dat dit van al die kinders van Moedergemeente kom (sommer net om hulle te laat voel dat kinders aan hulle dink).

SMS-boodskappe
Ek het van die begin van grendeltyd besef dat daar in die naam van die gemeente met lidmate kontak gehou moet word. Ek het ook besef dat lidmate in die Naam van die Here uit sy Woord bedien moet word.
Die wydste medium van kommunikasie in Moedergemeente is deur middel van sms-boodskappe.
Daarom stuur ek (amper) elke dag ‘n sms-boodskap, gewoonlik met ‘n Skrifverwysing, aan alle lidmate. Die reaksie is een van groot waardering en dankbaarheid.
Ek stuur ook daagliks per sms boodskappe van gelukwensing aan lidmate met huweliksherdenking en verjaarsdae.

(So terloops – die boodskappe word van die rekenaar se Winkerk-program gestuur, maar dit gebeur nie outomaties nie. Daar is lidmate wat dink dis ‘n rekenaar wat hulle gelukwens. Maar dit is nie so nie. Dit is ‘n persoonlike handeling. En dit is my gebed dat sms-boodskappe lidmate sal herinner aan die Here se betrokkenheid in hulle lewe.)

Sterfgevalle
In die tyd van inperking, is daar reeds ses lidmate oorlede (nie een as gevolg van die Korona-virus nie). Om in hierdie tyd ‘n geliefde aan die dood af te staan, is ‘n baie traumatiese ervaring. Daarom wil ek vra dat waar julle van sterfgevalle hoor, julle moeite sal doen om met die familie kontak te maak om hulle te bemoedig. Ek wil ook vra dat julle vir hulle sal bid.

Ek mag as predikant (noodsaaklike diens) in sterfgevalle die lidmate besoek. Dit is egter nie in alle gevalle wys om dit te doen nie, omdat daar bejaardes is wat in die hoë risiko groep val en ek dus liewer kontak moet vermy. Ek mag ook nie enigeen in ‘n ouetehuis of aftreeoord besoek nie. Ek maak egter gereeld per telefoon met familie kontak wat geliefdes aan die dood afgestaan het.

Slegs in twee van die ses gevalle het die familie gevra dat ek ‘n klein-, net vir die familie-troosdiens moet hou. Ek het toestemming en kon dit vir hulle doen. Almal beplan egter om later, na die grendeltyd, DV, ‘n troos- en dankdiens te hou waar meer mense dit kan bywoon.

Siekes
Interessant dat daar in hierdie tyd nie baie mense (ernstig) siek is nie. Mense gaan ook nie vir roetine ondersoeke of operasies nie. Daar is ook min ongevalle.
Waar ek van langdurige siekte bewus is, maak ek telefonies kontak om mense te bemoedig en vir hulle te bid.  Laat weet my asseblief as julle verneem van mense wat (ernstig) siek is.

Pastorale bemoediging
Uit die aard van die saak kan ek nie al ons lidmate bel nie. Waar ek van iemand iets verneem of waar ‘n lidmaat in my gedagte opkom – die Here saai mos dikwels sulke saadjies in ‘n mens se gedagtes! – bel ek hulle.
Ek wil vra dat julle my asseblief sal laat weet as julle van iemand weet wat ‘n oproep of gebed sal waardeer.  Laat weet my ook asseblief as julle van iemand weet wat ondersteuning nodig het.

Bediening van lidmate aan mekaar
Ons is nie ‘n dominee-kerk nie. Gelukkig nie! En dit is wat ek in Moedergemeente beleef, veral in hierdie tyd – lidmate bedien mekaar.  Dit is vir my heerlik om te hoor hoe lidmate na mekaar uitreik, mekaar bemoedig, vir mekaar boodskappe stuur, bel, ens. Dít is mos hoe mens die Here se liefde laat leef – deur daar te wees vir mekaar!

Fisiese nood
Soos julle weet is ons Liefde Leef Kommissie altyd bedrywig en word daar na mense in nood omgesien. Daar is dié wat gereeld kospakkies en ander vorme van hulp ontvang.
Maar nou weet ons almal dat die behoefte in die grendeltyd, en as gevolg van die grendeltyd, aan die toeneem is. Ons is so dankbaar omdat daar lidmate is wie se harte, hande en beursies oop is. Daar is soveel wat wil gee. Dít is die vrug van die Gees. Dít is wat praktiese Liefde Leef ook beteken.

Lede van die Liefde Leef Kommissie is onder leiding van Riaana van Deventer goed bedrywig. Sy kommunikeer gereeld met my oor behoeftiges en oor maniere waarop daar in nood voorsien kan word. Daar is tot op datum genoegsaam in die behoefte van behoeftige gesinne voorsien.
Op hierdie stadium van grendeltyd gaan ons egter nie meer kospakkies aankoop nie. Dit is om kommissielede se blootstelling aan moontike infeksies in die winkels te beperk. (Onthou, as jy baie voorraad aankoop en nog vir winskope moet kyk, juis omdat jy groot voorrad moet koop, moet jy lank in ‘n winkel ronddwaal.) Ons gaan van nou af aan lidate vouchers voorsien sodat hulle self die aankope kan doen. (Met hierdie vouchers kan jy net lewensnoodsaaklike middele aankoop.) Ons is dankbaar vir winkels wat vrywillig aangebied het om ons gratis van vouchers te voorsien. Ons sal egter ook uit ons fondse vouchers moet aankoop.

Indien julle van mense in nood weet, laat weet asseblief vir my of vir Riaana.

Ek wil ook net noem dat ek en Riaana met Ries Dempsey en Lousie de Wet van die Finansiële Kommissie kommunikeer, sodat ons seker maak dat die finansiële bestuur ook in hierdie saak altyd op verantwoordelike wyse geskied.

Dankoffers
Met die begin van grendeltyd, het ek besluit dat ek nie sommer oor dankoffers wil kommunikeer nie. Lidmate met ‘n geestelike ingesteldheid en begrip van die belang van dankoffers in ons geestelike lewens, sal nie omgee nie. Maar daar is altyd daardie lidmate wat sal sê “sien jy, ons veg teen ‘n virus, maar dis al weer ‘n NG Kerk se en-gee en-gee dominee wat praat – alles gaan altyd oor geld!”

Ek het wel geweet dat ek iewers daaroor iets sal moet sê. Nadat ‘n paar lidmate daaroor navraag gedoen het, kon ek met alle eerlikheid sê dat lidmate vra “hoe moet ons maak met ons dankoffers?”  Ek het op die Facebook-blad asook op die webtuiste laat weet hoe ons met ons dankoffers kan maak. Ek het dit ook op YouTube genoem en sal dit weer noem.

In die huidige omstandighede, en met ‘n kantoor wat gesluit is, het Moedergemeente eintlik net vier opsies vir lidmate om dankoffers te gee: 1)EFT, 2)aftrekorder, 3)inbetaling by bank en 4)bêre dankoffer totdat die kerkkantoor en eredienste weer oopmaak.
Indien julle navraag kry, dra die boodskap oor die opsies vir die gee van dankoffers asseblief so oor aan lidmate.

Ons moet darem ook net noem dat die kantoor deesdae oor ‘n kaartmasjien beskik. Lidmate kan dus – wanneer die kantoor weer oop is – per kaart inbetalings doen.
Die Finansiële Kommissie sou in die toekoms ook die moontlikheid van snapscan kan ondersoek. Ons beskik egter nie op die oomblik oor dié fasiliteit nie.

Kerkkantoor
Die kerkkantoor is in lyn met rampbestuursregulasies gesluit. Dit sal vorentoe duidelik word op watter vlak van grendelreëlings die kantoor weer kan oopmaak.
Dit beteken nie dat ons skriba nie werk nie. Inteendeel. Sy werk van haar huis af en doen wat gedoen kan word en moet word. Ons sê dankie aan Annelet Nortier vir haar diens, ook in hierdie tyd.

Kerkraadsvergadering
Ons kommissies asook die kerkraad is volgens die almanak geskeduleer om gedurende Mei te vergader. Dit mag egter nie gebeur nie. Aangesien al ons kerkraadslede nie toegang het tot internet en selfoondata nie, kan ons ook nie elektroniese of virtuele vergaderings hou nie.

Ons is op grond van kerkordelike bepalings statutêr verplig om vier kerkraadsvergaderinge per jaar te hou. Ons sal die Mei-vergadering uitstel tot wanneer dit weer moontlik is om te vergader. Intussen sal daar gehandel word volgens besluite van die kerkraad en wel binne die oorhoofse begroting.

Met ons eerste vergadering wat ons so spoedig moontlik na grendeltyd sal hou, sal ons stil word voor die Here en sy leiding soek vir die pad van bediening en bestuur vorentoe.

Hemelvaart en Pinkster
Dit is feitlik ‘n uitgemaakte saak dat ons nie aan die einde van Mei vir Hemelvaart, Pinksterdienste en Pinksterfees bymekaar sal kan kom nie.
Ek beoog om vir Hemelvaart en Pinkster ‘n reeks van kort boodskappe op YouTube te sit, DV. Ons moet almal saamwerk om hierdie boodskappe so wyd as moontlik te versprei.
Ek sal ook vir Tuishuis en Gottlandhuis die boodskappe op skrif stuur vir voorlesing aan inwoners.  Bid asseblief dat die bediening van die Woord op hierdie wyse, ook vrug sal dra in ons Heer se koninkryk.

Basaar
Ons eerste basaar van die jaar is volgens die almanak op 8 Junie. Gegewe die feit dat ons in grendeltyd is, gaan dit onmoontlik wees om basaar te hou. Die vooruitsigte is ook maar skraal dat verligting van grendelvlakke betyds tot só ‘n mate sal afskaal dat ons vir ‘n basaar sal kan beplan of ‘n basaar sal kan hou.

Begroting
‘n Kerkraad se begroting is elke jaar ‘n geloofsaak. Maar dan word daar ten minste gewerk met ‘n geskiedenis waarvolgens mens kan begroot. Met die huidige verwikkelinge, weet ons dat geen gemeente (of besigheid) se begroting wat in Februarie opgestel is, van enige waarde is. Ons weet dood eenvoudig nie wat die effek van die grendeltyd op ons inkomste gaan wees nie.

Die Finansiële Kommissie sal na die grendeltyd so spoedig moontlik bymekaar kom om ‘n nuwe begroting op te stel, en om begrote uitgawes opnuut te prioritiseer.
Intussen sal daar geen nie-noodsaaklike uitgawes aangegaan word nie. Projekte waarvoor begroot is, sal in die lig van beskikbare fondse (of die gebrek daaraan) opnuut oorweeg moet word.  Die aanbevelings van die Finansiële Kommissie sal uiteraard aan die kerkraad voorgelê word vir bespreking en goedkeuring.

Beplanning vir die res van 2020
Dit is tans onmoontlik om te weet hoe die jaar verder daar gaan uitsien. Soos reeds genoem, wil dit blyk dat eredienste eers op grendelvlak 1 weer in aanvang sal neem. Dit is onmoontlik om nou enige verdere beplanning vir die jaar te doen.

Wanneer moontlik, moet die Gemeentebedieningskommissie en Jeugkommissie so spoedig moontlik bymekaar kom om gemeentebediening, getuienisbediening en jeugbediening te beplan. Aanbevelings sal aan die kerkraad voorgelê word vir bespreking en goedkeuring.

Die Finansiële Kommissie sal ook aanbevelings aan die kerkraad moet voorlê oor geleenthede vir fondsinsamelings.

My werksaamhede en verlof
Soos gewoonlik, het ek aan die begin van die jaar met inagneming van my verpligtinge en verantwoordelikhede, ‘n volledige beplanning van my jaarprogram ten opsigte afnaweke en verlof aan die Diensverhoudingkommissie voorgelê. Sodanige beplanning is nie net nodig ten einde toe te sien dat dit die bediening ten goede dien nie, maar ook vir begrotingsdoeleindes. Soos wat die kerkraad weet, is 2020 ook die jaar waarin ek volgens my diensooreenkoms Sabbatsverlof moet neem.

Ek dink dit is voor die hand liggend dat ek alle beplanning vir eers laat vaar, en dat ek enige verdere beplanning eers sal doen wanneer daar meer duidelikheid is oor die pad vorentoe. Ek wil die kerkraad en gemeente egter verseker dat ek my verpligtinge en verantwoordelikhede sal voorop stel in enige beplanning. Ek sal dit ook in ag neem dat ek ‘n roepingsverantwoordelikheid het om in hierdie onseker tye, die gemeente voorop te stel en by te staan. Ek sal alle beplanninge ook eers met die Diensverhoudingkommissie bespreek. Dit sal natuurlik ook vir bespreking en goedkeuring aan die kerkraad voorgelê word.

In die lig van die huidige verwikkelinge, wil ek my beplande Sabbatsverlof wat ek in Junie sou neem, kanselleer. Ek het reeds my vakansiebesprekings gekanselleer. Selfs al sou die grendeltyd sodanig verlig dat ek met vakansie kan gaan, dink ek dit sou onsensitief wees om die gemeente in hierdie brose tyd alleen te los.

Ek sal met die Diensverhoudingkommissie die aanpassing van my verlof, ook my Sabbatsverlof, oor die volgende twee jaar onderhandel.

In solidariteit met die talle lidmate wat as gevolg van die grendeltyd finansieel skade ly, en in die lig van onsekerheid oor die effek van grendeltyd op ons gemeente se inkomste, en om my gesindheid teenoor die gemeente te wys, bied ek aan om hierdie jaar een week en volgende jaar een week (dus twee weke in totaal) van my verlof op te offer. Die Diensverhoudingkommissie kan hierdie aanbod van my in hulle beplanning verreken.

Slot
Daar is een ding wat ons gelukkig in alle tye en omstandighede – ook in hierdie onseker tyd – kan weet: Die Here is getrou. Hy hou self sy kerk in stand. En Hy is by magte om ver meer te doen as wat ons kan bid of dink.

Mag ons die woorde van Rom 12:11,12 ook in hierdie tyd uitleef: “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”

Groete in Christus

Ds Smuts van Rensburg