Stel jy God eerste… met jou tyd?

Deur: Benescke Janse van Rensburg

’n Stoep. ’n Balkon. ’n Kantoor. Of ’n motor.

Met ons huidige tema het ek ’n paar interessante gesprekke met mense gehad oor wat dit vir hulle beteken om God met hulle tyd eerste te stel – veral in die gejaagde lewe waarin ons leef. Telkens het ons die tema van “stiltetyd saam met God” aangeraak. Drie gesprekke het veral uitgestaan. Hoewel die drie verskillende mense mekaar glad nie ken nie, was dit interessant hoeveel hulle antwoorde en ervarings ooreengestem het.

Een vrou het vertel hoedat sy elke oggend voor werk vir ’n halfuur op haar stoep gaan sit om saam met God tyd te spandeer. ’n Ander het vertel hoedat sy in die oggend vir 15 minute op haar balkon gaan staan om vir God dankie sê vir die nuwe dag en ook om Hom te vra om haar deur die dag te dra voordat sy met haar dagtake begin. En een van die mans het vertel hoedat hy ’n punt maak om elke oggend 20 minute vroeër by sy werk op te daag sodat hy sy kantoordeur agter hom kan toetrek om sy dag saam met God te begin.

Al drie hierdie mense het erken dat stiltetyd aanvanklik moeilik was omdat hulle nie presies geweet het “hoe” om dit te doen nie. Mettertyd het hulle egter besef dat God ’n verhouding met hulle wil bou en in die proses het hulle eenrigtinggesprek (waar hulle heeltyd bid sonder om te luister vir God se antwoord) in ’n tweerigtinggesprek verander (waar hulle soms net stil word en luister na die stem van die Heilige Gees in hulle harte). Vandag kan hulle nie hulle lewens voorstel sonder hierdie 15, 20 of 30 minute in die oggende nie. Een van die vroue het spontaan opgemerk: “Weet jy Benescke, wanneer ek in die oggend op die stoep kom, is dit asof God se teenwoordigheid reeds daar is. Dit is asof ons ’n afspraak het en Hy reeds op my wag!”

Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

God het ons mense geskep om in ’n verhouding met Hom te staan. Hy begeer dat ons Hom deel maak van elke aspek van ons lewens en dat ons Hom vir wysheid en raad vra. En die avontuur begin wanneer ons vir ’n slag stil word om te luister. Die stem van die Heilige Gees is soms baie duideliker in ons harte as wat ons aanvanklik besef.

Waarom kies jy nie ook om Hom deel van jou lewe te maak deur vir ’n slag die radio in jou motor op pad werk toe af te skakel nie? Of jou Bybel oor middagete te neem om in ’n park of koffiewinkel te gaan sit? Of selfs om vir ’n paar minute vroeër by jou werk op te daag sodat jy die kantoordeur agter jou kan toetrek? Raak stil. Fokus op God. Begin om Hom te dank vir wie Hy vir jou is. En wanneer jy iets in jou hart ervaar, trek ’n pen en papier nader en skryf dit neer. Soms sal jy vind dat wanneer jy weer oor die woorde lees wat jy in jou stiltetyd neergepen het, dit God was wat deur sy Heilige Gees met jou teruggesels het! Hy begeer ook ’n verhouding met Hom. Gaan jy dit waag om vir ’n slag stil te word?

Vader God, baie dankie dat ek weet dat U ’n verhouding met my begeer. Vergewe my dat ek soms so besig raak met die wêreldse dinge dat ek my tyd saam met U afskeep. Lei my asseblief om my tyd só te bestuur dat ek meer tyd saam met U kan inruim. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

(Uit: www.versndag.co.za)