Stel jy en jou gesin God eerste?

Deur Benescke Janse van Rensburg

Kom saam met my terug in tyd na die jaar 1372 voor Christus. Die Israeliete is nou reeds vir 50 jaar lank in die beloofde land, Kanaän. Sien jy hoe die 110-jarige, leier van Israel, Josua swaar op sy kierie leun waar hy voor die leiers, die hoofde, die regters en die voormanne van die volk van Israel staan? Op sy bevel het die hele volk hier in die stad, Sigem bymekaar gekom sodat hy namens God met die volk kan praat.

Vir ’n oomblik is dit doodstil voordat Josua, namens God, die volk op ’n reis deur die geskiedenis neem om hulle aan God se getrouheid teenoor hulle te herinner: “Israel, so sê die Here, die God van Israel: Julle voorvaders, Tera en sy seuns, Abraham en Nahor, het lank gelede anderkant die Eufraatrivier gewoon. Hulle het afgode gedien. Ek het vir Abraham uitgekies en hom laat wegtrek na die land wat Ek aan hom gewys het. Dit was Ek wat sy nageslag groot gemaak het. Terwyl julle voorvaders slawe in Egipte was, het Ek vir Moses en Aäron na Egipte gestuur om die volk uit te lei.

“By die Rooisee het julle voorvaders na My geroep om hulle teen die Egiptenaars te beskerm. Ek het hulle geantwoord en ’n pad deur die water gemaak. Nadat die volk op droë grond deurgestap het, het Ek die water op die Egiptenaars laat toegaan.

“Ná jare in die woestyn het Ek julle na die beloofde land, Kanaän gebring. Toe die regte tyd aanbreek, het julle oor die Jordaanrivier gegaan en by die stad, Jerigo gekom. Dit was nie júlle wapens wat hulle oorwin het nie, maar Ék wat namens julle geveg het en aan julle die oorwinning gegee het. In Kanaän het Ek vir julle ’n land gegee waarvoor julle nie gewerk het nie en stede wat julle nie self gebou het nie …”

God het die Israeliete herinner dat Hy hulle nog nooit verlaat het of in die steek gelaat het nie. Tog het Hy hulle voor ’n keuse gestel: Sou hulle Hom dien, sou hulle sy beskerming en seëning ervaar. Sou hulle egter kies om afgode te aanbid, sou God terugstaan wat hulle maklik in die hande van die vyand sou laat beland. Luister hoe Josua sy toespraak afsluit:

Josua 24:15: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”

Kan jy aan spesifieke insidente dink waarin God vir jou en jou voorgeslagte gesorg het? Besef jy dat Hy jou ook nooit sal verlaat of in die steek sal laat as julle aanhou om Hom eerste te plaas nie? Ek wonder: Maak jy dit ’n prioriteit om saam met jou gesin godsdiens te hou of daagliks vir jou gesin te bid? Kies jy om God vir wysheid te vra oor hoe jy jou huwelik moet bestuur of hoe jy jou kinders moet grootmaak?

Daardie dag in Sigem het die Israeliete (selfs dié wat by afgodery betrokke geraak het), soos een man terug na God gedraai om Hom te aanbid. Hierop het die volk God se seëninge en beskerming beleef. In reaksie op hulle besluit het Josua ’n groot klippilaar opgerig sodat die volk daagliks daarna kon kyk wat hulle aan hul besluit herinner het.

Het jy vandag nodig om God opnuut eerste in jou gesin se lewens te stel? Skryf dan die besluit neer. Rig só ’n simboliese klippilaar op wat jou daagliks aan jou besluit kan herinner. En onthou, net soos die Israeliete se besluit positiewe gevolge ingehou het, sal jou besluit vir God ook positiewe gevolge inhou! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my nie forseer om U te dien nie, maar dat U aan my ’n vrye keuse gee. Ek kies van vandag af om my lewe en my gesin só te bestuur dat u Naam daardeur verheerlik sal word. Lei my asseblief in elke besluit met u wysheid. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

* Lees die hele toespraak van Josua in Josua 24.

(Uit: www.versndag.co.za)