Sondag 30 Augustus 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS
SONDAG 30 AUGUSTUS 2020
SKRIF:  HEBR 12:1-3
TEMA:  VOLHARD! HOU DIE Oë OP JESUS!

Votum
Goeiedag liewe vriende. Wanneer ons vandag rondom die Woord van die Here stil word, herinner Jesaja 55:8-11 ons aan die Here se woorde:
8. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie;
9. soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.
10. Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.
11. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.
Amen

Seëngroet
Liewe medegelowiges, wees gegroet in die woorde van Kol 1:9.
Mag die Here deur die wysheid en die insig van die Gees gee dat julle sy wil duidelik sal ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag Hy julle sterkte gee om in alle omstandighede in geloof te volhard. (Kol 1:9e.v.)

Loflied
Lied 464 is ‘n lied van verwondering, lof en aanbidding. Jy kan in stilte daarna luister, of jy kan, daar waar jy is, dit uit jou hart en met oorgawe saamsing.
Luister na Youtube van Lied 464: O Heer my God

Aankondiging van Skriflesing
Ons lees en oordink vandag die Here se Woord uit Hebreërs 12:1-3.
Hebr 12:1-3

Gebed
Here, as ons vandag in gebed voor U buig,
bely ons dat elke duimbreedte van ons lewe,
elke sekonde, elke dag van die week
aan U behoort.
Maar ons sê vir U in die besonder dankie vir ‘n Sondag,
die dag van ons Heer,
die dag van afskakel van ons gewone verpligtinge en verantwoordelikhede.
Die dag wat ons telkens herinner aan daardie Sondag
toe die graf leeg was.
Die dag wat U vir ons eenkant gesit het om te rus –
ja, om die ware rus te vind: by U, in U teenwoordigheid.
Op hierdie Sondag wil ons vra dat U ons opnuut sal aanraak:
deur u Woord en u Gees.
Laat ons u stem hoor.
Voed ons in die geloof.
Hou ons naby, baie naby aan U.
Ons wag op U, Here. Amen

Skriflesing
Hebr 12:1-3

Preek
Vriende, as daar nou ‘n woord is wat kinders, en jongmense, en middeljariges, en ouer mense maar oor en oor kan hoor, is dit die Woorde van Hebreërs 12:1-3. Hierdie woorde van aanmoediging tot volharding in die geloof, is vir ons, in al die fases van ons lewe, so belangrik. Ons het dit so nodig.

Ons het hierdie aanmoediging tot volharding in die geloof nodig omdat daar van vele kante aanslae teen ons geloof is. Daar is in ons tyd oor die algemeen aanslae teenoor die Christelike geloof. Dis asof die Christelike geloof gemarginaliseer word, uitgedruk word, asof dit nie meer so relevant vir ons tyd is nie. Asof dit oudmodies is. Uitgediend.
Maar die aanslae teen ons geloof kom ook op ander maniere. Dit kom deur verwarrende en teenstrydige menings oor die Bybel en oor geloof. En die hartseer is, dat hierdie verwarrende en teenstrydige menings dikwels vanuit die geledere van die kerk kom.
En asof dit nie genoeg is nie, is daar hewige aanslae op ons geloof deur al die versoekinge wat oor ons pad kom. Wêreldse versoekinge, Duiwelse versoekinge wat ons van die Here se pad wil weglok.
En dan laaste, maar beslis nie die minste nie, het ons hierdie woord van aanmoediging tot volharding nodig omdat dit in ons sondige aard lê om te verslap, om weg te dwaal op die verkeerde paaie.

As Hebreërs met ons praat oor volharding in die geloof, dan gebruik hy die beeld van atletiek, van ‘n wedloop waaraan ons deelneem. As ‘n mens die gedeelte lees, sien jy in jou gedagtes die atlete, die wedloop wat gehardloop word, die skare op die pawiljoen, die wenpaal, die prys wat jy ontvang as jy dit gemaak het. Die beeld wil mens ook laat dink aan ‘n langer wedloop, iets soos ‘n marathon, of selfs ‘n ultra-marathon soos die Comrades, waar die wedloop lank en uitmergelend is, met opdraandes en afdraandes.

Daar’s ‘n teoloog met die van Laubach. Hy sê dat ons in die woorde van ons teks ‘n baie belangrike ding moet raaksien, en dit is dat navolging van Jesus nie ‘n prettige en ontspannings-uitstappie is nie. Hy wys daarop dat navolging van Jesus inspanning vra, soos in ‘n marathon. Dit vra uithou. Vasbyt. Daar’s ‘n groot verskil tussen om sommer so vir die lekkerte, vir die pret twee of drie kilometer te gaan draf, en om die Comrades te gaan hardloop. Dis twee totaal verskillende dinge. Navolging van Jesus is soos om die Comrades te hardloop. Dit vra toewyding. Volharding. Deursettingsvermoë.

En nou sê ons Skrifgedeelte dat daar veral drie dinge is wat ons hiermee kan help – om so te volhard:

1.  Die eerste ding wat ons daarmee kan help is die GROOT SKARE GELOOFSGETUIES wat rondom ons is.
Nou die groot skare geloofsgetuies waarna hy verwys, is natuurlik die groot geloofshelde waarvan hoofstuk 11 ons vertel. Geloofshelde soos Abel en Henog en Noag en Abraham, en al die ander geloofshelde. Hulle geloof, hulle volharding moet vir my en vir jou ‘n aanmoediging wees om self in die geloof te volhard.
Nou sê een van die Skrifontleders jy moet hierdie geloofshelde nie net sien as toeskouers wat op jou afkyk en wat sien hoe jy sukkel om op die geloofspad te bly nie. Nee, sê hy, jy moet deur hulle getuienis aangemoedig word, want – en dis belangrik – hulle volharding getuig van die betroubaarheid van God. Hulle getuig dat dit God is wat getrou is en wat vir hulle die oorwinning gegee het. Dis asof hulle as ‘n skare van die pawiljoen af vir ons dreunsing en cheer: Hou aan glo, hou aan, want dis die Here se trou wat gemaak het dat ons by die wenstreep uitgekom het!
Vriende, ons moet nooit ophou om die verhale van die geloofshelde in die Bybel te lees nie. Daardie verhale wat vir ons vertel van hulle vertroue in die Here, én van die Here se trou.
En ja, ons moet ook vir ons in ons leeftyd geloofshelde vind na wie ons kan opkyk. Geloofshelde wat vir ons ‘n aansporing kan wees. Ook geloofshelde wat alreeds oorlede is, wat reeds die wedloop voltooi het en op die pawiljoen is. Ons moet hoor hoe hulle ons aanmoedig: Hou aan met glo! Volhard! Moenie omkyk nie. Moenie tou opgooi nie. Dis die moeite werd. Die oorwinnaarskroon wag.

2.  Die tweede ding wat hier genoem word, wat nodig is om te volhard en die wedloop te voltooi, is OM ELKE LAS AF TE GOOI
Hier staan Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik.
Nou die Griekse word wat vir elke las gebruik word, verwys na enigiets wat ‘n atleet kan verhinder om voluit te hardloop en te volhard. Dink maar aan enigiets wat ‘n atleet kan verhinder om sy beste te gee. Dit kan miskien oorgewig wees, of ‘n gebrek aan oefening, of oortollige klere.
Vriende, om op die pad van die geloof te volhard, vra van ons dat ons dinge moet afgooi wat ons terughou, of wat keer dat ons aanhou. Dit kan dinge wees soos bekommernis, of hoogmoed. Dit kan enigiets wees wat jou só opeis dat jou aandag nie meer by die wedloop is nie. Dit hoef nie noodwendig slegte goed te wees nie – dit kan enigiets wees wat jou laat uitsak.
Elkeen van ons sal mooi, sal eerlik moet gaan dink watter dinge daar in my lewe is wat verhinder dat ek met volharding die wedloop van die geloof kan hardloop.
Maar dan word hier tog iets spesifiek genoem wat ons kan terughou – die sonde wat so maklik verstrik. Daar is Skrifverklaarders wat hierin die beeld sien van ‘n lang, loshangende kleed wat jou pla as jy hardloop. Soos ‘n lang rok wat die heeltyd om jou slaan. Hoekom dra atlete so min as moontlik klere? Om vry te kan beweeg. Om nie gepla te word nie. Want ‘n lang kleed breek jou spoed, dit kan jou laat val.
Miskien is daar sondes waarmee ek, waarmee jy moet breek. Sonde wat maak dat ons nie die geloofswedloop voluit kan hardloop nie. Miskien is daar sondes wat kan maak dat ons gaan val – dat ons hard kan val. Met die hulp en krag van die Here moet ons vandag nog met daardie sonde breek!

3.  Maar dan noem die skrywer van Hebreërs ‘n derde ding wat ons gaan help om uit te hou, om te volhard, en dit is – om die OOG OP JESUS te hou.
Die aanmoediging van die skare, van geloofsgetuies is so belangrik. Om alles af te gooi wat ons kan terughou is belangrik. Maar die groot geheim vir volharding in die wedloop van die geloof, is om die oog op Jesus Christus gevestig te hou. Om op Hom te bly fokus. Om seker te maak dat niks jou aandag van Hom aftrek nie.

Hy is die doel van die wedloop. En as ons nie op Hom fokus nie, as ons nie op Hom alleen ons hoop vestig nie, gaan ons moeg word, gaan ons uitsak.

Onthou, Jesus self is die doel van die wedloop. Ons hardloop vir Hom. Maar – Jesus is ook ons inspirasie en ons voorbeeld van volharding. Want Hy het die wedloop as oorwinnaar voltooi.
Ons teks sê: Hou die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterhand van die troon van God.

Jesus het die taaiste wedloop van alle wedlope gehad. Hy moes met die sondelas van die ganse mensdom teen die bult op Golgota uitbeur.
En dan sê v3 – en dis wat ons moet saamvat as ons hierdie week ingaan: Hou Hom voor oë… dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Amen

Gebed
Dankie vir groot skare van geloofsgetuies wie se lewe en volharding getuig van U trou, en dat dit die moeite werd is om te volhard.
Help ons om elke las af te gooi – al die dinge wat ons terughou in die wedloop van die geloof. Help ons om te breek met sonde wat ons kan laat struikel en val.
En kom Here, kom in U groot genade – en help ons om ons oë die hele tyd op Jesus Christus gerig te hou… tot by die einde, tot by die wenpaal waar ons die oorwinnaarskroon sal ontvang.
Ons bid dit in Jesus Naam. Amen

Slotlied
Kom ons luister na ‘n lied van aanbidding, van verlange na die Here, van gerigtheid op die Here en sy wederkoms.
Luister na video Come Jesus Come (Stephen MCWHIRTER)

Seën
Liewe medegelowiges,
mag die aanmoediging van geloofshelde ons aanspoor om te volhard;
mag ons die genade ontvang om die laste af te gooi, om ook die sonde af te gooi wat ons so maklik verstrik;
mag ons die oog op Jesus alleen hou … die Begin en Voleinder van die geloof.
Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, is en bly met ons – vandag, môre en tot in ewigheid. Amen