Sondag 2 Augustus 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
BOODSKAP OP YOUTUBE
SKRIF: PS 104
2 AUGUSTUS 2020
Ds Smuts van Rensburg

Votum
Ek kyk op na die berge:
Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (Ps 121:1,2)
Amen

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Genade en vrede vir julle.

Aankondiging van loflied
Lied 464 is ‘n lied van verwondering oor God, oor Hom wat geskep het, oor Hom wat sy skepping in stand hou, oor Hom wat sy Seun gestuur het om deur Hom te herskep en nuut te maak. En die wonderlike is, dat Hy ons deel maak van sy grootse werke!

Skriflesing
Psalm 104
1. Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister,
2. U is met ‘n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan
3. en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind,
4. U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars,
5. U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.
6. Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan.
7. Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8. Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9. U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10. U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom.
11. Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les.
12. Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke.
13. Uit die hemel laat U dit op die berge reën, die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
14. U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15. wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee.
16. Die bome van die Here kry volop reën, die seders op die Libanon, die wat Hy geplant het,
17. waar die voëls hulle neste maak, en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
18. Die hoë berge is ‘n tuiste vir die klipbokke, die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.
19. U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan.
20. As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos.
21. Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God.
22. As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke.
23. Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.
24. U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.
25. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot.
27. Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd.
28. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
30. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.
31. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32. Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe, wat die berge aanraak, en hulle brand.
33. Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34. Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees! Ek wil my in die Here verbly.
35. Ek wil die Here loof. Prys die Here!

Preek
Die Psalmdigter is soos ‘n uiters begaafde, ‘n bekwame skilder. Met woorde skilder hy die Here se skeppingswerk. En elke nou en dan staan hy ‘n paar treë terug van sy palet om die Here se skeppingswerk te bewonder – die hemelkoepel, die groot water, berge, en fonteine wat in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom. Die voëls wat hulle neste maak langs die water en knetter tussen die takke. Uitgestrekte groen grasvelde. Bome. Die diereryk. Die see, groot en wyd wat wemel van lewe. Die maan om vaste tye mee aan te gee. Die son wat keer op keer die nuwe dag laat breek.

En as die skilder so na die skildery kyk, na God se skeppingswerk, raak hy in vervoering… en is dit amper asof hy kan hoor hoe die Here asem in sy skeppingswerk blaas. Hoe die Here dit wat Hy geskep het laat lewe.

En dan, skielik, kom die skilder terug na die werklikheid… en sug hy dit saggies uit: Mag my bepeinsinge vir U, Here, aanneemlik wees. En mag u skepping Here, vir U vreugde verskaf.

En dan besef die skilder hy moet vir hierdie skildery ‘n raam kies – ‘n raam om die skildery uit te lig en tot sy reg te laat kom. Hy omraam die skildery van God se skepping met die woorde van die eerste en die laaste vers: Ek wil die Here loof!

Ek was ‘n seun van so 16 jaar oud, toe ek die eerste keer met ‘n rugsak aan die voet van die Drakensberge gestaan en so na die Amfiteater gestaan en kyk het. Tannie Hester de Beer wat ons Voortrekkerspan vir die volgende paar dae teen die berg sou uitlei, het die berg soos die palm van haar hand geken, want sy het hom toe al reeds meer as 50 keer uitgeklim. Sy’t die berg geken. Sy’t geweet wat ons in die volgende paar dae gaan sien.

Ek onthou hoe tannie Hester ons in ‘n kring laat staan het. En toe maak sy haar Bybel oop en lees vir ons – Psalm 104. En toe sê sy: Psalm 104 is die natuurpsalm. Ons sou in die dae wat kom so ‘n klein stukkie sien van die skildery wat in Psalm 104 geskilder is. Ons sou ook in verwondering staan.  Die grootsheid en die skoonheid van die Drakensberge, die Tugelarivier, die sewejaartjies en al die ander veldblomme. Dit sou ons as tieners stil maak en soos vir die Psalmdigter diep laat nadink – oor die grootsheid van die skepping… en oor die Skepper… oor God. En in ons tienerharte het ons woordeloos dit wat ons gesien en beleef het omraam: Ek wil die Here loof!

Natuurlik hoef ons nou nie almal Drakensberge toe te ry nie. Ons hier in Oudtshoorn kan maar net suid kyk – na die Outeniquaberge. Of noord – na die Swartberge. Of miskien hoef ons nie so ver kyk nie, ons kan sommer hier naby kyk – na ‘n klapperbos, na ‘n kaktus met die mooiste blom, na ‘n vygie met die fyn geweefde blommetjie. Miskien moet ons maar net weer leer om mooi te kyk, en goed te luister, na die tortelduif, en die sagte tjirplied van die beeldskone suikerbekkie.

Miskien moet ons maar net weer ‘n slag terug staan – om te kyk, om te hoor. Om God se skildery van die skepping te sien. Om God… die Skepper te sien. Want dan sal ons verwondering nie wegraak nie. Dan sal ons loflied nie stil raak nie.

Vriende, ons moenie toelaat dat die virus, en dat al die inperkingsmaatreëls, die ekonomiese ellende, onbeholpe politici, die beheptheid met ras, plaasmoorde, en korrupsie, en en en… Ons moenie toelaat dat dit ons uitsig op die skepping, ons kyk na die Skepper verdof nie. Ons moenie toelaat dat dit ons verwondering steel nie. Ons moenie toelaat dat dit ons loflied stil maak nie.

Ons moet te midde van dit alles ‘n bietjie terugstaan… en kyk… mooi kyk… want dit is steeds daar- die skeppingswerk. En Hy is steeds daar – ons Skepper.

Kyk, kyk mooi, jy sal sy vingermerke steeds sien in die berge, en in die water, in ‘n blom, in ‘n goggatjie, in ‘n baba. Luister, luister mooi, jy sal hoor dat die voëls steeds spontaan vir Hom ‘n loflied sing.

Nee, jy hoef nêrens heen te ry om mooi en goed te sien nie. Jy kan maar net jou Bybel optel, en begin om deur die bladsye van die Bybel te stap…

Die woorde van die Bybel sal ‘n verhaal voor jou skilder wat jou hart sal stem om te bepeins… en wat jou mond sal laat oop hang van verwondering. Jy sal nie anders kan, jy sal nie anders wil as om saam met die Psalmdigter uit te roep: Ek wil die Here loof.

Veral nie, veral nie as jy na die skildery langs skildery nommer 104 kyk nie.
Skildery nommer 103. Dit is die skildery van God se herskeppingswerk.
Ps 103:3 Dit is Hy wat al my sonde vergewe.
Ps 103:8e.v. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewige toornig bly nie.
Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie – want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

As dié skildery jou nie aanraak nie, as dít jou nie in totale verwondering, in verslaenheid laat nie – wel, dan weet ek nie…

Maar kyk weer… kyk weer mooi…
Skildery 104, die skildery oor die skepping, het presies, presies dieselfde raam as skildery 103, die skildery oor die herskepping. “Ek wil die Here loof!”
Amen

Gebed
Here, gee asseblief dat die slegte goed soos ‘n dodelike virus, of inperkingsmaatreëls, of ekonomiese swaarkry, of slegte politieke toestande, of rasbeheptheid, of moord of korrupsie of wat ook al – gee asseblief dat dit ons nie sal verblind nie.

Gee asseblief dat ons deur alles, te midde van alles skildery nommer 104 sal raaksien – u skeppingswerke. Gee dat ons deur alles, te midde van alles, skildery nommer 103 sal raaksien – u herskeppingswerk. Gee dat ons steeds in verwondering sal staan, en dat die bepeinsinge van ons hart vir U aanneemlik sal wees. Gee dat ons dit steeds sal uitjubel: Ek wil die Here loof!

Want, ons Vader, alles in die lewe het deur u wil tot stand gekom. U Gees het oor die vloed geswewe – die aarde is u eiendom. U’t lig geskep naas duisternis, naas nag ‘n dag wat helder is.

Met see en silwerwaterstrome, met dal, gebergte en rivier, met stapelwolke, blomme, bome het U u handewerk versier: U’t gras geskep, U is die bron van elke ster, die maan, die son.

U hande skep die weerligstrale, die donderwolk wat water dra: U bring die storms oor veld- en dale en skenk die kalmte ook daarna. U het die diere bly laat juig; die reënboog teen die lug laat buig.

Ons dank U Vader, vir u goedheid, vir al wat ons van U ontvang: die aardse lewe met sy soetheid, maar ook die pynlikheid daarvan. Ons loof U vir wat heerlik is, selfs in ons smart en duisternis. (Lied 459)
Amen

Seën
Hou jou oë op Hom gerig – jou Skepper, jou Herskepper: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, is en bly met julle. Amen