SONDAG 12 JULIE 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
YOUTUBE BOODSKAP / EREDIENS
SONDAG 12 JULIE 2020
TEMA: GOD SE VERLOSSSINGSWERK
SKRIF: GEN 3:13-19; PS 51:3(b)-7; ROM 7:18(b)-19; 1 JOH 1:8-10

Votum
Nader my God by U,
steeds naderby.
Al is daar ook ‘n kruis,
nodig vir my.
Dan sal my lied nog bly –
nader my God by U.
Nader my God by U,
Nog naderby. Amen (Hal 290:1)

Seëngroet
Liewe medegelowiges, wees gegroet in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees – genade, barmhartigheid en vrede vir julle.

Geloofsbelydenis
Kom ons bely op grond van die Bybel as Woord van God ons geloof.
En wanneer ons dit doen, dink daaraan – met hoeveel gelowiges oor geslagte heen deel ons hierdie geloofsbelydenis. My oupas- en oumas-grootjie, my oupas en oumas, my pa en ma het ook so geglo en so bely. Maar dink ook daaraan – met hoeveel gelowiges oor die wêreld heen deel jy hierdie belydenis. Daar’s miljoene mense van baie lande, baie volke, baie tale wat só bely.

Ek glo in God die Vader
die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus
sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan
‘n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe.

Gebed
Wat ‘n voorreg om dít te kan bely – om die Drie-enige God te ken, en om te kan sê ons glo in Hom. Dis net genade.
Kom ons vra dat Hy sy Woord vir ons sal oopbreek en dat sy Gees só in ons sal werk, dat ons Hom beter kan leer ken.
Ewig, onbegryplik’ Wese,
U die Vader, Seun en Gees,
Heer, leer my U ken al beter,
U gehoorsaam kind te wees.
Ons wil sing van al u liefde;
in U waarheid wil ons juig.
Amen! Blye evangelie!
Amen, bly my hart getuig! Amen (Lied 260:11)

Boodskap
Vriende ons gaan vandag luister na wat die Woord vir ons leer oor God se verlossingswerk. En ons gaan spesifiek fokus op die vraag – waarvan verlos God ons? Nou moet ons natuurlik dadelik bely dat ons verstandjies heeltemal te klein om die grootsheid en die wonder van God se verlossingswerk ten volle te ken. Ons ken maar ten dele. Maar mag die Woord en Gees ons harte só aanraak, dat ons vandag met nuwe oorgawe voor God as ons Verlosser sal buig.
Julle weet dat wanneer ons in die nood is, dan bid ons en roep na God met die hoop dat Hy ons uit ons nood gaan verlos.
As ons siek is, dan bid ons en vra “Here, maak my asseblief gesond”. Met ander woorde – “Here, verlos my van my siekte”.
As dit in ‘n mens se huwelik sleg gaan, dan bid jy “Here, help ons tog asseblief, dat dit weer goed kan gaan in ons huwelik”. Met ander woorde – “Here, asseblief, verlos ons van hierdie slegte tyd in ons huwelik”.
Mense wat in hierdie tyd hulle werk verloor bid smekend “Here, gee asseblief vir my ‘n nuwe werk” – “Here, verlos my van werkloosheid”.
Mense wat in hierdie tyd finansieel sleg getref is (en daar is baie), bid en smeek “Here, bring asseblief uitkoms” – “Here, verlos ons van swaarkry”
Boere bid – “Here, verlos ons van droogte”.

Nou dit is reg as ‘n mens in jou nood na die Here na die Here draai en na die Here roep om jou te verlos. ‘n Mens moet dit natuurlik dit nie nét doen as jy in die nood is nie. Maar ons as kinders van die Here kán dit doen. Ons mág dit doen. Want die Woord nooi ons uit en moedig ons aan om met vrymoedigheid in ons nood na die Here te draai en ons hoop en vertroue op Hom plaas – dat Hy sal verlos, dat Hy sal uitkoms gee, natuurlik op sy tyd en soos Hy wil.
Ons sien in die Bybel soveel keer dat mense in geloof na God draai om hulle uit hulle nood te verlos. Daar’s talle verhale in die Ou Testament waar dit gebeur. Die Psalms getuig ook keer op keer van toevlug neem na God, van roep na Hom om uitkoms en verlossing. En in die Nuwe Testament sien ons hoe mense na Jesus kom met die versoek: Jesus, verlos my van my doofheid, van my blindheid, van my siekte, en en en…

En telkens sien ons dat God – op sy tyd en soos Hy wil, mense uit hulle aardse nood verlos.

Maar vriende, ons moet nooit vergeet nie dat God nie nét verlosser van ons aardse nood en behoeftes wil wees nie. Nee, God wil meer doen as dit. Hy wil baíe meer doen. Hy wil ons ook uit ons grootste, ons diepste nood verlos – uit ons sondige verlorenheid.

As ons dít vergeet, dan maak ons van God ‘n Vader Krismis of ‘n gelukbringer wat net altyd reg moet staan om ons van aardse nood te verlos. Ons maak dan van God net ‘n spaarwiel wat ons gebruik wanneer ons Hom nodig het. En as die spaarwiel pap is en Vader Krismis nie uitkoms gee soos wat ek dit bestel het nie, dan bevraagteken ek Hom.

Hoor vandag: God wil in sy liefde en genade betrokke wees by ons aardse nood. Maar – God wil veel meer doen as om ons net van ons wêreldse, ons aardse nood te verlos. God wil ons ook verlos van ons sonde en van die oordeel oor sonde.

Ek weet daar is deesdae mense, ook kerkmense en selfs predikers, wat glad nie meer oor sonde wil praat nie. Dis mense wat wil hê ons moet net praat oor hoe die goeie, liefdevolle God ons van ons aardse nood kan verlos.
Ja, daar’s baie dwaalleraars in ons tyd wat ‘n voorspoedsteologie en ‘n goedvoelteologie verkondig. Dis ‘n teologie wat God wil voorhou as ‘n God wat dit net met jou goed wil laat gaan – in aardse terme goed wil laat gaan. Dis ‘n teologie wat God wil voorhou as ‘n God wat alles verdra en wat jou net wil laat goed voel oor jouself. Dis ‘n teologie waarin daar nie plek is vir die woord sonde nie. En dis natuurlik ‘n teologie wat baie sag op die oor val en maklik verkoop – dit trek skares, want almal begeer voorspoed en almal wil graag goed voel oor hulleself. Maar dis ‘n teologie wat jou in die hakskeen byt as die werklikheid van teenspoed oor jou pad kom.

Ek weet daar sal ook mense wees wat sê: Mens kan dalk nog oor sonde praat, maar asseblief net nie nou nie, nie in hierdie tyd nie. Mense wil nie in hierdie tyd van die virus en inperking en al die slegte nuus nog van sonde ook hoor nie. Mense wil nou net getroos en bemoedig word.

Weet julle, miskien is dit juis in hierdie tyd wat die Here op ‘n besondere manier met ons praat oor die goeie nuus, en dit is dat God nie net in ons aardse nood wil ingryp nie – Goddank, dit ook!, maar dat Hy ons uit ons diepste nood wil verlos. Hy wil ons van sonde verlos.

Ons help onsself nie as ons die onderwerp van sonde probeer vermy, as ons nie daaroor wil praat nie. Ons mis die grootsheid en die rykdom van die evangelie as ons sonde verswyg of ignoreer of wegpraat.

In Gen 3 lees ons van die groot hartseer in die geskiedenis – toe die mens in ongehoorsaamheid sy rug op God gedraai het. Gaan lees weer ‘n slag Gen 3 – die verhaal van die sondeval wat tot vandag op die hele skepping ‘n effek sou hê.

Na die sondeval sou die mens in sonde ontvang en gebore word. Dawid bely dit in Psalm 51. Hy besef dat hy sonde gepleeg het deur owerspel en deur te sorg dat Batseba se man gedood word. Daarom bid hy:
Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!
Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.
Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

Maar, Dawid besef ook dat sy sonde nie net in sy dade lê nie. Maar dat dit is in sy DNA is – hy’s daarmee gebore. Daarom bely hy in v7:
Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

Daar is natuurlik vandag kerkmense en leraars wat hierdie Bybelse waarheid probeer wegpraat. Wat die leer van erfsonde ontken. Maar dít is wat die Woord leer – ons is in sonde ontvang en gebore. En omdat sonde in ons DNA is, in ons aard, sal ons – selfs as verloste mense, ja selfs as verloste mense – altyd ‘n stryd hê teen ons sondige aard. Paulus het as verloste dit so goed besef. Daarom praat hy in Rom 7 baie eerlik oor sy innerlike stryd – die stryd tussen sy ou natuur en die nuwe natuur wat hy in Christus ontvang het. Gaan lees gerus Rom 7. En dan skryf hy vanaf v16:
Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.

Ook Johannes praat helder en duidelik oor sonde. In 1 Joh 1:8 skryf hy:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. En in v10 skryf hy: As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons God tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Wat Johannes hier sê is dat mense wat aan die Here behoort kan nie sê “ons het geen sonde nie”. Die feit dat jy gered is, plaas jou nie buite die trefkrag van sonde nie. Die feit dat jy aan Christus behoort maak jou nie sondeloos nie. As ons so dink, mislei ons onsself, en maak ons God tot leuenaar.

Maar… en vriende, nou moet ons mooi luister – tussen v8 en v10 staan v9:
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Hoor julle dit – dis die goeie nuus: Maar, as ons ons sondes bely… Hy vergewe… Hy reinig. Hy verlos ons van die oordeel oor sonde!
Ja, ons wat aan Christus behoort is nie sondeloos nie, en ons is nog steeds geneig tot sonde, maar… ons lewe uit die voortdurende reiniging van die bloed van Jesus Christus. Ons leef uit die verlossing wat Jesus bewerk het.

Daarom, om ons sondes te erken en te bely, is die lewensweg van ‘n gelowige. Nie om ons sondes te ontken, of om dit goed te praat, of om dit mis te kyk nie. Maar om ons sondes te bely. Want as ons bely, vergewe Hy, en reinig Hy – volkome. Hy verlos ons!

En dit is die goeie nuus, dit is die beste nuus wat ons ook in hierdie tyd moet hoor.
Ja, God is betrokke by ons aardse nood en wil ons op sy tyd en sy manier van ons aardse nood verlos. Maar ons moet nie nét op ons aardse nood – op die virus en ons gesondheid en ons finansiële oorlewing fokus nie.
Ons moet onthou – bó alles, méér as alles, verlos Hy ons van ons sonde. En Hy doen dit enkel en alleen maar omdat Jesus vir ons verlossing aan die kruis gehang het. Ons moet dít in hierdie tyd opnuut ontvang en omhels.

Wat ook al jou omstandighede, wat ook al jou nood, bring dit met vrymoedigheid na die Here. Maar buig ook voor Hom met belydenis van jou sonde. En ontvang dan die grootste van alle geskenke – verlossing van God se oordeel oor jou sonde.
Amen

Gebed
Kom ons bid die woorde van Lied 395
My Verlosser aan die kruis
ly vir sonde, smart en pyne –
ook vir myne!
Van die vloek maak Hy vry
en sy sterwe red ook my.

My Verlosser aan die kruis –
ja, die beker van sy lyding
bring bevryding.
Brand, my hart, ontbrand in gloed
teenoor Hom, so groot, so goed! Amen

Antwoordlied
Ons antwoord op die goeie nuus wat ons vanoggend uit die Woord gehoor het met Lied 245 – Ek wat vergifnis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied.

Seën
Mag die goedheid van die Vader
en die oorvloedige liefde van die Seun
en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees
met julle wees en met julle bly.
Mag julle as verloste mense lewe. Amen