Sondag 10 Mei 2020 Moedersdag

 

YouTube boodskap in grendeltyd
Sondag 10 Mei 2020  Moedersdag

Vooraf
Orrelspel

Votum
Dis grendeltyd en ons leef steeds ingehok en met baie onsekerhede. Maar Sondag is die dag wat ons opnuut herinner aan die leë graf, en dat ons die opgestane, lewende Jesus aanbid.
Maar dis vandag ook Moedersdag.
As ons ons in hierdie onseker tyd op Moedersdag ons saamwees begin, lê die Bybel voor ons oop by Jes 66:13 waar die Here sê:
Soos ‘n moeder haar kind laat veilig voel,
so laat Ek julle veilig voel. Amen

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Genade en vrede vir julle.

Toewyding
Ons het hierdie week in ons dagoordenkings twee dae stil gestaan by Rom 12:9-21.
Kom ons luister weer na v11-12:
Moenie in julle toewyding verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.

Kom ons wy onsself vanoggend opnuut aan die Here in die woorde van Lied 308:
Here, op Sondag 10 Mei 2020 wil ons opnuut vir U kom sê:
Neem my lewe, laat dit Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.

Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na U wyse raad. Amen

Boodskap
Dis Moedersdag.
Daar is mammas wie se kinders nog in die huis is. Ek hoop julle kinders gaan julle vandag bederf en die dag vir julle baie spesiaal maak. Julle kan natuurlik saam met julle kinders na hierdie boodskap luister. En dan kan julle ‘n paar punte daaruit haal om lekker daaroor te gesels – met ons kleiner kinders en met ons tieners.
Dan is daar die mammas wie se kinders vandag nie meer in die huis is nie. En hulle én die kinders sou wat wou gee om sommer net saam te wees en hulle liefde en waardering te deel.
Daar is ook die baie moeders vir wie die jare al ver aangestap het, en wat in ouetehuise of siekeboë is. Dis nou hulle wat al vir langer as ons ander ingegrendel is. Hulle verlang na ‘n besoekie en liefde en aandag. Moet hulle asseblief nie vergeet nie. Bel hulle. En bid vir hulle.
As jy sou voel dat hierdie boodskap vir Moedersdag nou nie heeltemal op jou situasie van toepassing is nie, ag, dan kan jy dit miskien sommer aanstuur na iemand vir wie dit wel van toepassing is.

Daar’s blykbaar ‘n ou Joodse spreekwoord wat lui:
God kan nie oral gelyk wees nie,
daarom het Hy ma’s gemaak.

Ja, op ‘n manier doen ‘n mamma God se werk in die huis. Sy verteenwoordig God. Daarom is ‘n mamma baie, baie belangrik.

Baie van ons ken ook die bekende prent wat veral vroeër jare in baie huise teen die muur gehang het. Die prent waarop staan:  Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?

Ja, ‘n mamma se rol is baie, baie belangrik.
Daarom moet almal – let wel almal in die huis die ma van die huis mooi oppas. Almal moet die lewe vir haar help mooi maak, en dinge vir haar makliker maak.
Eintlik moet ons almal in die huis vir mekaar dinge mooi maak, en makliker maak.
Dis waaroor ons vandag gaan praat. Ons gaan praat oor hoe ons as kinders van die Here in ons huise kan leef (soveel te meer nou dat ons toegesluit is) om dit vir die mammas, ag, om dit sommer vir almal, makliker en mooier te maak.

Ons gaan vanoggend ‘n paar huisreëls uit die Bybel haal waardeur ons dit kan doen.

Huisreël nommer 1: Tel julle seëninge in die huis.
Hou ‘n bietjie op met kla en foute soek, en gesels ‘n slaggie saam oor wat die Here alles vir julle gee. Gesels oor al die wonderlike gawes wat julle uit sy hand ontvang. En sê vir die Here dankie daarvoor. Miskien kan julle gesin saam met Ps 34:2 sê “Ons sal die Here altyd prys, sy lof sal altyd op ons lippe wees.” Want Hy is vir pns goed – ons ontvang soveel seëninge van Hom

Huisreël nommer 2: Wees altyd eerlik met mekaar.
Spreuke 12:22 sê mos Die Here het ‘n afsku van leuenaars.

Kyk, as daar nou iets is wat die Here se hart breek, maar ook ‘n mamma se hart breek, is dit leuens. In die huis van ‘n gesin wat gelukkig wil saamleef, moet daar altyd, atyd net die waarheid gepraat word.

Huisreël nommer 3: Dra mekaar se laste
Dis mos wat Gal 6:2 vir ons leer. Dit beteken ons moet mekaar help dra aan dinge wat die lewe swaar maak. Dit gebeur so baie in ‘n huis dat al die swaar op die mamma se skouers gelaai word. Dinge word vir haar al swaarder en moeiliker gemaak. As julle ‘n gelukkige gesin wil wees, tel die swaar van mamma se skouers af, tel die swaar van mekaar se skouers af, en dra saam – dan maak julle dit vir mekaar ligter.

Huisreël nommer 4: Vergewe en vergeet
Jesus sê mos in Mat 18:22 Vergewe mekaar 70 x 7 keer. En 1 Kor 13 sê mos die liefde hou nie boek van die kwaad nie.

Ons moet onthou, ons is almal sondaars en ons maak almal foute. Maar net soos die Here ons vergewe, moet ons mekaar vergewe, en vir mekaar nog ‘n kans gee. Ons mammas kry swaar, en ons maak dit in die huis vir mekaar swaar, as ons nie wil vergewe nie, en as ons gedurig ou koeie uit die sloot grawe. ‘n Gelukkige gesin is ‘n gesin wat leer om die Here se vergifnis vir mekaar aan te gee.

Huisreël nommer 5: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar.
Dis mos wat die Here se Woord in Ef 4:32 vir ons leer.
Ons huis kan die lekkerste plek wees om in te woon, as ons goedgesind en hartlik is teenoor mekaar. Weet julle, ek was al in baie huise met die mooiste en duurste meubels, huise wat binne lyk soos wat ons in tydskrifte sien, maar binne in die huis is dit yskoud van liefdeloosheid. Maar ek was ook al baie in eenvoudige huise, karig gemeubileerde huise waar daar niks luuks is nie, maar as jy daar instap, stap jy in ‘n huis met warmte – want daar is hartlikheid en goedgesindheid. Almal in die huis moet vir mamma help om aan die huis warmte te gee.

Huisreël nommer 6: Troos mekaar
Soos wat Paulus in 1 Tes 4:18 vir die gelowiges woorde gegee het waarmee hy hulle getroos het, moet ons in ons huisgesinne mekaar troos.

As daar nou een ding is waarmee meeste mammas goed is, is dit om pleisters op te plak – om haar gesin te troos. Maar wie troos vir mamma? Almal van ons kry een of ander tyd seer. Party kry fisies seer, en ander kry hartseer of emosioneel seer. As ons vir mamma/mekaar wil help om van ons huis ‘n lekker plek te maak, moet ons leer om mekaar te troos. Om mekaar vas te hou. Om nie hard te wees met mekaar nie.

Huisreël nommer 7: Hou by julle beloftes
Ps 50:14 leer vir ons dat ons ons geloftes aan die Here moet betaal.
Dink net hoe gaan elke vrou blom as haar man die groot belofte op sy troudag uitleef. Dink net hoe gaan ons kinders blom as ouers hulle doopbelofte by die kinders se doop uitleef. As dít gebeur, gaan julle ‘n gelukkige gesin wees.
Maar dink ook net hoe goed dit in ‘n huis sal gaan as almal se ‘ja’ hulle ‘ja’ is, en hulle ‘nee’ hulle ‘nee’ – soos wat Jesus vir ons in Mat 5:37 leer. Ons moet dit waarop ons in ons gesin ooreenkom, getrou nakom. Ons woord teenoor mekaar, moet ons eer wees.

Huisreël nommer 8: Help mekaar. Ondersteun mekaar.
In Hand 20:35 vertel Paulus hoe hard hy gewerk het om die armes te help. Net so moet ons soms in ons huise hard werk om mekaar te help.
Dink net hoe wonderlik en lekker kan dit in ons huise wees as ons mekaar sal help. Mammas doen so baie vir hulle gesinne. Dink net hoe wonderlik sal dit wees as die gesin ook vir haar wil help. As almal nie net vinger klap nie maar haar ondersteun in al haar take en verpligtinge. Ons ken mos almal die ou spreekwoord wat so waar is: Vele hande, ligte werk.

Huisreël nommer 9: Sien om na mekaar / kyk na mekaar.
Kinders, julle ken mos die verhaal van Gen 4 – die verhaal van Kain en Abel. Die Here het mos vir Kain gevra: Waar is jou broer? En toe antwoord Kain: Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?

Weet julle, die Here het ons in die gesin aan mekaar gegee om mekaar op te pas. Pappa en mamma moet mekaar oppas. Pappa en mamma moet die kinders oppas. Maar as ons ons huis regtig ‘n lekker plek wil maak, moet ons almal mekaar oppas. Ons moet mekaar mooi oppas.

Huisreël nommer 10: Leef in liefde teenoor mekaar
Wanneer Jesus in Johannes 13 vir sy dissipels wys hoe lief Hy vir hulle is – Hy’t dit mos gewys toe Hy hulle vuil voete gewas het, toe sê Hy “Ek gee julle ‘n nuwe gebod, julle moet mekaar liefhê.

Dít is wat ons in ons gesinne moet doen. Ons moenie mekaar die kop was nie – nee, ons moet mekaar se voete was. Ons moet mekaar liefhê – met woorde, maar ook met dade. Sê vir mekaar, en wys vir mekaar, dat julle vir mekaar baie lief is.

Slot
Tien huisreëls om dit vir mamma,om dit sommer vir almal makliker en mooier te maak in die huis. Gaan leef dit, en geniet die kosbare jare van julle saamwees. Amen

Gebed
Hemelse Vader,
dankie vir dié vroue wat bekroon is
om die titel “moeder” te dra.
Dankie vir die rol wat ons moeders
in elke huis vervul.
Dankie vir al die besondere gawes en kwaliteite
wat U aan ons moeders gee
om ‘n unieke en onmisbare rol te vervul.

Hemelse Vader,
gee asseblief aan ons moeders
stilwordtye aan die voete van Jesus,
sodat hulle aangeraak kan word
met wysheid en krag
vir die duisend take van elke dag.
Gee dat ons moeders daagliks sal skep
uit die fontein van lewende water,
sodat hulle dierbares
van die beker van vrede uit hulle hand kan drink.
Vul ons moeders se kruike,
sodat daar genoeg kan wees
om almal rondom hulle
met die helende olie van u liefde te salf.

Gee asseblief Here dat ons moeders
die moeders van gelukkige gesinne sal wees.
Daarom vra ons dat elke gesin die tien huisreëls sal leef
soos wat u Woord vir ons ons leer. Amen

Offergawe
Ons kan die Here met ons offerggawes dien deur dit per EFT oor te betaal, of ons kan dit bêre tot wanneer ons eredienste weer begin en die kerkkantoor oopmaak, of jy kan dit by die bank inbetaal of ‘n debietorder teken. Die bankbesonderhede is op die almanak en webwerf.

Elke week se preek is ook op webwerf en Facebook.

Gemeente nuusbrief: Ek het per e-pos uitgestuur na al die e-pos adresse op ons stelsel. As jy dit nie ontvang het nie en graag wil ontvang – stuur asb vir my jou e-pos adres na my selnommer.

Seën
Mag die goedheid van die Vader
en die oorvloedige liefde van die Seun
en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees
met julle wees en met julle bly. Amen