Slaap elke nag in die Here se arms

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie (Ef 4:26).

Ons moet elke dag voluit leef, maar ons moet elke dag ook voluit rus. Ons is nie werkslawe nie, beslis ook nie leef-slawe nie. Net soos ons manier van leef, moet ons manier van slaap ook ’n getuienis wees van ons lewe wat elke dag in die Here se hand is.

Die lewe gebeur nie net wanneer ons wakker is nie, maar ook in ons slaap. Dan is ons nie skielik vir ’n paar uur uit aksie of afwesig nie. Ons moet seker maak dat ons elke aand gelowig, in God se arms, gaan slaap. Daar rus ons regtig. Daar is ons veilig. As ons elke aand eers ons probleme aan die Here voete neersit en in ruil daarvoor sy rus ontvang, slaap ons goed. Dan kry ons nuwe krag om bedags oop-oë deur ons drome te leef.

Sluit elke dag behoorlik af voordat jy gaan slaap. Wees bly dat vandag ook God se spesiale geskenk aan jou was. Sluit dit dankbaar af sonder dat jy dink jy het outomaties enige reg op môre. Moenie los drade aan die einde van vandag laat rondlê nie.

Moet ook nooit met woede gaan slaap nie. So sê Paulus in Efesiërs 4. Woede mag nooit in jou siel agterbly as die son aan die einde van die dag oor jou sak nie. Praat dit uit as dit moet. Verwyder dit uit jou gedagtes.

Wees vry wanneer jy jou oë toemaak. En wees bly oor elke vandag wat die Here aan jou gee. Dis genade, verniet, onverdiend. Hier aan die einde van nog ’n genade-dag skenk die Here jou ’n heerlike nagrus.

Dankie, Here, vir die geskenk van rus. Help my om al my woede, frustrasie en angs elke aand by u voete neer te lê sodat ek elke oggend verfris sal voel en die nuwe dag met oop hande as ’n geskenk van U kan ontvang. Amen.

(Johan Cilliers – Boodskap vir Vandag)