Pinkster 2020 Tema 3 : Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

Pinksterreeks: God se verlossingspad met ons.
Tema 3 : Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
sodat ons onsself kan leer ken.
Skrif: Luk 18:9-14; Joh 16:7-8
Teks : Luk 18:13

Inleiding
Goeiedag vriende. Welkom by ons derde boodskap van Pinkster 2020.
Ons tema van die week is: God se verlossingspad met ons. En ons tema vandag is: Bid dat die Heilige Gees ons oë open… sodat ons onsself kan leer ken.

Gebed
Voordat ons saam lees uit die Here se kosbare Woord, kom ons bid eers saam:
Here, ons buig in aanbidding voor U.
U liefde, U genade is so onbegryplik groot.
U laat ons harte jubel en juig,
omdat U die inisiatief geneem het
om met ons die verlossingspad te stap –
ja, voordat ons kon kies, kon vra, het u Seun ons vloek gedra.
Kom dan Here, lei ons deur u Woord en u Gees op die pad van verlossing.
In Jesus Naam. Amen

Skrif
Lees Luk 18:9-14; Joh 16:8

Preek
Ons het gister gehoor dat die Heilige Gees in ons woon en werk om ons innerlik nuut te maak. Om die ou mens te vervang met die nuwe mens wat ons in Jesus Christus is. Die Gees vernuwe ons denke, ons harte. Hy verander ons lewe, ons gedrag – sodat ons al hoe meer die beeld van Christus vertoon. Die Gees bewerk dit deur die Woord. Die Gees doen dit as ons daarvoor bid en vra. Daarom was ons tema gister: Bid dat die Heilige Gees ons oë open.

Nou vandag se tema is dat ons moet bid dat die Heilige Gees ons oë open, sodat ons onsself regtig kan ken. Om jouself te ken, is verskriklik belangrik in jou verhouding met die Here, en uiteindelik in jou verhouding met jou naaste, en met jouself! Om die waarheid te sê, ’n mens wat homself nie regtig ken nie, sal ervaar dat dit ’n groot hindernis is op die verlossingspad, op die pad van geestelike groei.

Maar nou moet ons dadelik erken, dat ons onsself nie so goed ken as wat ons dink, of as wat ons voorgee nie. Ons kennis van onsself is dikwels so oppervlakkig, en so subjektief. Daarby gebruik ons, meesal onbewustelik, allerhande metodes waarmee ons ons ware self wegsteek – vir God, vir ander mense, en soms ook vir onsself. Want ons is hier diep binnekant bang om werklik eerlik te erken en te wys wie ons is. So, ons is soms besig om onsself te bedrieg. Ons lei onsself om die bos.

1. En dit sien ons baie mooi in hierdie gelykenis. Jesus vertel hierdie gelykenis om te wys dat ’n mens jouself baie maklik kan bedrieg. Jy kan jouself maklik om die bos lei as jy te veel van jouself dink, as jy te veel waarde heg aan jou eie optrede, jou eie pogings, jou eie vroomheid – en daarom dink jy “ek is eintlik baie oulik, ek doen eintlik goed, daarom is my saak met God reg”.

In Jesus se gelykenis ontmoet ons twee mense. Die een is ’n godsdienstige mens, ‘n goeie kerkmens. ’n Fariseër. ’n Man na wie die mense opkyk. Maar Hy’s die een wat besig is om homself om die bos te lei. Hy bedrieg homself. Hy’s die een wat dink dat hy homself ken, wat maak of hy homself ken, die een wat voorgee.
Vandag se fariseërs lyk ook maar so. Dis ook mense wat dínk dat hulle saak met God reg is, omdat hulle so godsdienstig is. Omdat hulle so vroom is. Omdat hulle nie skuldig is aan allerhande openbare sondes nie. Omdat hulle mooi leef. Beskaafd leef. Reg leef. Soos dit ’n goeie kerkmens betaam.

Jy kry natuurlik ook fariseërs wat buite die kerk staan. Kerklos en kerklose mense wat ktities is teenoor die kerk, en wat dan almal wat ín die kerk is as fariseërs brandmerk. Wat sê “Ek gaan nie kerk toe nie, want almal wat daar sit is skynheilig. Witgepleisterde grafte.” Dis die soort mens wat die dominee en die ouderling en die diaken en almal wat meeleef as fariseërs uitskel. So ’n mens doen dit ook maar weer om homself te beskerm, en homself te laat beter voel, om homself te laat goed lyk. So ‘n mens bedrieg ook homself.

Nou hoe bedrieg ’n mens jouself?
(a) In die eerste plek bedrieg ’n mens jouself as jy nie erken dat jy maar ’n sondaar is, wat altyd tot die kwaad geneig is nie. Dit was juis hierdie fariseër se probleem. Hy’t ’n gebrekkige sondebesef gehad. Hy’t homself nie regtig geken nie. En hy’t homself nie regtig geken nie, omdat hy homself aan die verkeerde maatstaf gemeet het. Hy meet homself aan sy medemens. Hy vergelyk homself met die diewe en bedrieërs en die egbrekers en die tollenaars. En as hy homself met hulle vergelyk, dan lyk hy darem nie te sleg nie. En dis hoekom sy gebed wat voorgee om ’n dankgebed te wees, eintlik niks anders is as ’n fyn ‘brag’ nie. Sy gebed is ‘n lofrede oor homself. Hierdie fariseër kyk nie na homself soos wat God na hom kyk nie. Hy kyk na homself in vergelyking met met ander mense.

Vriende, ons moet vir ’n oomblik vergeet van ander mense. En ek moet die vraag vra: Ken ek myself volgens God se maatstaf? Sien ek myself soos wat God my sien? Ons kan onsself ook so maklik met ander mense vergelyk. Veral met mense wat in ons oë nie baie aanvaarbaar leef nie. As ons dít doen, voel ons goed. Voel ons tevrede met onsself.

(b) En dis juis die tweede probleem. ’n Gebrekkige sondebesef lei tot selftevredenheid. En dis wat met hierdie fariseër gebeur het. Hy klop homself op die skouer. Hy’s tevrede met sy lewe soos dit is. Hy plaas sy vertroue op sy mooi, sy goeie, sy voorbeeldige lewe. Hy voel dat, omdat hy so mooi lewe, hy eintlik nie ’n verlosser nodig het nie. Om die waarheid te sê, hy’t nie God se genade nodig nie. Hy’t nie eers vir God regtig nodig nie. Hy’s sy eie klein godjie.

Vriende, mag nie een van ons onsself so om die bos lei nie. Mag nie een van ons so selftevrede, so selfingenome wees nie. Ons moet bid dat die Heilige Gees ons oë oopmaak, dat ons onsself regtig kan ken. Dat ons onsself sal sien soos God ons sien. Ons moet bid dat die Heilige Gees ons lei om onsself volgens God se maatstaf te meet. Om met ons hele lewe voor God se spieël te staan. En nie selftevrede, te ingenome met onsself te wees nie. Mag die Gees ons daarvan bewaar om op die punt te kom waar ons dink ons kan God beïndruk. Mag die Gees ons daarvan bewaar dat ons op ’n punt kom waar ons dink dat ons God se genade nie nodig het nie.

2. Met die tollenaar was dit heeltemal anders. Hy’t homself geken. Hy’t eerlik na homself gekyk: na sy hart, na sy lewe voor God. Hy’s deur die Gees oortuig van sy sonde, sy verdorwenheid, sy sondige aard. Van sy sondige lewenstyl. En dan die belangrike: Hy’t sy sonde erken en bely.
Die Heidelbergse Kategismus vat dit vir ons so mooi saam uit die Woord. Daar staan: As jy met God op die verlossingspad wil stap, moet jy weet hoe groot jou sonde en ellende is, jy moet dit erken en jy moet dit bely.
Die Heilige Gees moet ons telkens bring by die punt waar die tollenaar was: O God, wees my, sondaar, genadig. Die punt waar ek weet ek kan myself nie langer om die bos lei nie. Ek kan die Here nie om die bos lei nie. Ek kan niks wegsteek nie. (Miskein vir mense ja, maar nie vir God nie.) Ek het niks om op te roem nie. In God se terme is ek bankrot. Al waarna ek kan gryp, is God se genade.

Ons moet bid dat die Gees ons lei om onsself te ken: Om onsself te ken as sondaars en as mense met baie tekortkominge. Om onsself te ken as mense wat weet dat ons maar geneig is tot die kwaad. Daai ding wat Paulus sê: Die goeie wat ek wil, dit doen ek nie, en die kwade wat ek nie wil nie, dit doen ek.

In hierdie Pinkstertyd wil die Gees ons oë opnuut weer oopmaak. In die woorde van Joh 16:8 – die Gees wil ons oortuig van sonde. Hy wil dit doen sodat ons, soos die tollenaar, onsself kan sien as mense wat weet dat ons uit onsself verlore is. Die Gees wil ons daartoe lei om voor Hom te buig en dit te bely.

Eers as ek op daardie punt gekom het, waar die tollenaar is, eers dan is ek gereed om op die pad van verlossing en die pad van vernuwing aan te stap. En dan sal ek ook hoor dat die Here sê: Hierdie man, hierdie vrou… het huistoe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.

Vriende, kom ons bid dat die Heilige Gees ons oë open, sodat ons onsself sal leer ken. Sodat ons met uitgestrekte bedelaarshande voor die kruis sal buig… gereed om die rykdom van die genade wat daar in Jesus Christus is, te ontvang. Amen

Gebed
Stil gebed

Sing Lied 247

Seën
Die Here is dié genadig wat weet hoe groot hulle sonde en tekortkominge is. En wat dit bely. Die Here sê vir diesulkes: Jy kan huis toe gaan as iemand wie se saak met God reg is.

Jy kan met oorgawe en jubelend sing:
Ek wat vergifnis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied.
U weet hoe ek na U verlang het – U het u guns my aangebied.
Ek loof en prys u deurentyd, en roem u groot barmhartigheid. Amen