Hemelvaart – 21 Mei 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
HEMELVAART
YOUTUBE-BOODSKAP IN GRENDELTYD
DONDERDAG 21 MEI 2020
SKRIF: Joh 14:1-7, 16:5-15, Hand 1:9-11

Voorwoord
Goeiedag vriende. Ja, as kerk van ons Here Jesus gedenk en vier ons vandag sy hemelvaart.
Om een of ander rede is Hemelvaart die afskeepdag van ons kerklike jaar. Op Kersdag, as ons Jesus se geboorte vier, is ons kerke vol. Op Goeie Vrydag stroom die mense kerk toe om Jesus se dood te gedenk. Op Paassondag, as ons sy opstanding vier, daag daar so ‘n bietjie minder mense op. En dan, o aarde, op Hemelvaart gaan baie gelowiges se lewens voort asof hulle vergeet het. Asof die diepe betekenis van sy hemelvaart by ons verbygaan.
Daarom gaan ons vandag weer luister wat die Woord vir ons leer oor die betekenis, die waarde, die voordele van Jesus se hemelvaart.

Gebed
Kom ons bid saam:
Aanbiddelike Verlosser,
U wat aan die kruis gesterf het,
U het ook opgestaan – U het oorwin,
maar U het ook na die hoogste hemel opgevaar.
Ja, U wat as Man van Smarte met dorings gekroon is,
is nou as die Heer van lewe met heerlikheid gekroon.
Vroeër was daar geen skande groter as U s’n nie,
geen erger doodsangs, geen wreder dood nie.
Nou is daar geen groter lof,
geen heerliker lewe en geen effektiewer voorspraak nie.
Here,
U dood is ons lewe, U opstanding ons vrede,
U hemelvaart ons hoop, U gebede ons troos.

Versterk ons dan in ons geloofsverbintenis aan U
as ons saam lees uit U Woord
en as ons in stilte hierdie wonderlike Woord oordink.

Ons bid dit in Jesus se wonderlike Naam.
Amen

Skriflesing
Die Skrifgedeeltes wat julle vandag kan lees is Joh 14:1-7, Joh 16:5-15 en Hand 1:9-11.
Ons gaan nou net enkele van hierdie verse lees. Julle kan gerus al die gedeeltes lees.
Joh 14:1-3 Die opskrif by hierdie hoofstuk is “Jesus gaan na sy vader toe.”
1. “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.
2. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.
3. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Joh 16:7-8,13-14
7. Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
8. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.
13. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.
14. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.

Boodskap
Om van iemand vir wie jy lief is afskeid te neem, is nooit lekker nie. Toe Jesus met sy dissipels oor weggaan praat, oor afskeid, was dit vir hulle baie sleg.
Julle sien, Jesus se dissipels het mos ‘n pad saam met Hom geloop, hulle het wonderlike dinge saam met Hom beleef, hulle het na sy wonderlike preke geluister, hulle het vir Hom lief geraak. Daarom, toe Hy met hulle oor afskeid, oor weggaan praat, toe Hy vir hulle gesê het “nog net ‘n klein rukkie, dan sien die wêreld My nie meer nie”(14:19), het dit hulle ontstel (14:1,27), dit het hulle bang gemaak (14:27), en was hulle harte vol droefheid (16:6).
Maar dan sê Jesus vir hulle in 14:1 “Julle moet nie ontsteld wees nie…” En in 16:7 “Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan.”

Maar dan sê Jesus ook vir hulle waarom Hy met hulle oor sy weggaan praat, en waarom Hy met hulle praat oor die voordele van sy weggaan.
Luister mooi wat sê Hy in Joh 16:1 – “Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie.” M.a.w. Jesus sê wat die voordele van sy hemelvaart is, om sy volgelinge te bemoedig.
Hy praat oor die voordele van sy weggaan om hulle hartseer in blydskap te verander (14:1,27). Maar, Hy praat ook met hulle oor die voordele van sy weggaan om vir hulle aan te spoor om op die geloofspad te bly, selfs as dit vir hulle sou moeilik raak (16:1-4). Met dit wat Hy sê, bemoedig Hy hulle vir die geloofspad.
Vriende, dit is waarom ons op Hemelvaartdag ook weer moet hoor wat is die voordele van Jesus se weggaan – sodat dit ons ook kan bemoedig om op die geloofspad te bly. Sodat dit ons ook kan aanspoor om nie afvallig te word nie. Ja, ons as gelowiges beleef mos, miskien om verskillende redes, dat dit nie altyd maklik is om in die geloof te volhard nie. Maar Jesus sê “Ek sê juis vir julle hoekom dit goed is dat Ek weggaan, sodat as daardie moeilike tye in jou geloofslewe kom, julle moet onthou wat Ek vir julle gesê het. Julle moet dit onthou, sodat julle kan volhard in die geloof en nie afvallig word nie (16:1-4).”

Nou wat sê Jesus, wat is die voordele van sy hemelvaart? Die Heidelbergse Kategismus vat wat Jesus sê vir ons mooi saam in drie punte.
1) Die eerste voordeel is dat Jesus na sy hemelvaart by die Vader is, om vir ons ‘n Voorspraak te wees.
In Rom 8:34 lees ons dat Jesus sit nou aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
En 1 Joh 2:1 lees ons – ons het Jesus Christus as ons Voorspraak by die Vader.

Daarom sê Jesus (14:13&14) dat as ons iets vir die Vader vra, dat ons dit in sy Naam moet vra. As ons bid, dan bid ons in die Naam van Jesus, en dan weet ons dat Jesus ons voorspraak is wat vir ons intree.

Dis mos nou bemoedigend. Dis mos nou wonderlik om te weet dat as ons bid, dat Hy wat aan die regterhand van ons Vader is, dat Hy vir ons intree, dat Hy vir ons pleit.

Die woord “voorspraak” kom van die Griekse woord “parakletos”, dit beteken “een wat tot hulp geroep word”. Kom ons verduidelik dit so: As een van ons nou in ‘n hof moet verskyn, dan roep ons die hulp in van ‘n advokaat. En wat gaan die advokaat doen? Hy gaan namens my praat. Hy gaan vir my intree. Hy gaan my saak vir my stel. Want ‘n advokaat kan dit beter doen as wat ek dit kan doen. En dit is wat Jesus vir ons doen – Hy is by ons Hemelse Vader ons advokaat wat ons saak stel. Hy’s by die Vader om namens ons te pleit.

Dis so wonderlik om te kan weet dat as ons bid, dan hang ons woorde nie maar sommer so in die lug nie. Ons woorde slaan nie vas teen die plafon nie. Nee, as ons in Jesus se Naam bid en tot God ons Hemelse Vader roep, dan tree Jesus wat opgevaar het na die hemel, Hy wat daar as ons advokaat by die Vader is, Hy tree vir ons in. Hy stel ons saak.
Mag dit ons bemoedig as ons bid in die Naam van Jesus – ons het ‘n Voorspraak by die Vader.

2) Die tweede voordeel van Jesus se hemelvaart is dat ons nou in die hemel ‘n betroubare waarborg het dat Hy ons na Hom toe sal neem.

Nou ook dit behoort vir ons te bemoedig om te volhard in die geloof en in ons navolging van Jesus. Jesus sê in 14:2-3:
In die huis van my Vader is daar baie woonplek… Ek gaan om vir julle plek gereed te maak… En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Dis die waarborg, dis die versekering wat Jesus vir sy volgelinge van alle tye gee. Hy moedig ons aan om in die geloof vas te staan tot die einde, want ons kan weet dat Hy wat na die hemel toe opgevaar het, het opgevaar om vir ons ‘n tuiste, ‘n blyplek gereed te maak. ‘n Blyplek in die huis van ons Hemelse Vader. En nou leer die Bybel vir ons dis die plek van volkome saligheid, van volkome geluk, van ewige rus.

Maar hoor mooi wat sê Jesus nog verder – Hy sê nie net dat Hy die plek vir ons gaan gereedmaak nie. Hy sê ook dat Hy sal kom om ons te neem na waar Hy is! Nou vir Jesus se dissipels wat hartseer en ontsteld was omdat Hy weggaan, was dit ‘n wonderlike gedagte – om te hoor dat hulle eendag weer kan wees waar Jesus is! Dat hulle eendag vir ewig by Hom sal wees. In die huis van die Hemelse Vader.
Hierdie gedagte, hierdie wete moes hulle dan ook aanmoedig om te volhard in die geloof. En natuurlik moet dit ook vir ons aanmoedig om te volhard. As ons op Hemelvaart-dag hoor dat Jesus ons waarborg dat Hy vir ons plek gereed maak in ons Vader se huis, en dat ons eendag by Hom gaan wees, dan moet dit ons aanmoedig om te bly glo, om aan te hou stap in Jesus se voetspore.

Terwyl ons as volgelinge van Jesus hier op aarde voluit leef vir Hom, en Hom met oorgawe dien, moet daar die hele tyd by ons ook ‘n verwagting, ‘n verlange wees na daardie dag wat Hy kom om ons te kom haal. Ons moenie só besig raak met aardse goed en só vasgroei aan aardse goed dat ons die hemelse woning, die beloofde land waarheen ons op pad is, uit die oog verloor nie. 2 Tim 4:8 sê Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here dit vir my gee, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.” Hoor daai woorde: Dis vir almal wat met verlange uitsien…  En ons kan, want ons het ‘n waarborg dat Hy ons na Hom sal neem.

3) Maar dan is daar ook nog ‘n derde, baie belangrike voordeel van Jesus se hemelvaart, en d.i. dat met Jesus se weggaan kom sy Heilige Gees om by ons te wees.
Joh 16:7
Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

Ons leef mos nou in wat ons noem die tussentyd. Die tussentyd beteken die tyd tussen Jesus se hemelvaart en Jesus se beloofde wederkoms. En nou is die wonderlike dat Jesus in hierdie tussentyd, terwyl ons nog hier op aarde is, vir sy dissipels van alle tye sê “julle is nie alleen nie, deur my Gees sal Ek altyd by julle teenwoordig wees”.
Deur my Gees sal Ek by julle wees om julle van sonde te oortuig. Deur my Gees sal Ek by julle wees om julle in die waarheid te lei – en die waarheid is mos Jesus self. So, die Gees wil ons lei om in Jesus te bly. Deur my Gees sal Ek by julle wees om julle te troos. Deur my Gees sal Ek julle help om goeie vrug te dra. Deur my Gees sal Ek julle help om in die geloof te volhard.
Ons gaan in die Pinkstertyd verder gesels oor wat die Gees in ons doen.

Dit is natuurlik so dat die Heilige Gees altyd daar was. Ons lees al in die Ou Testament van die Heilige Gees. Maar op Pinkstersondag, in die tyd na Jesus se hemelvaart, is die Heilige Gees uitgestort sodat Jesus Christus deur sy Gees oral, te alle tye, by ons kan wees. By sy kerk. By elke individuele gelowige. Ja, die Heilige Gees is by jou. Hy’s in jou. Hy wil jou lei en vertroos en versterk en die beeld van Christus in jou lewe na vore bring.

Ons vier vandag Hemelvaart.
Goddank, Jesus is nou ons voorspraak by die Vader.
Goddank, Hy’s daar om vir ons plek gereed te maak.
Goddank, Hy het sy Heilige Gees gestuur om by ons te wees – dag vir dag, tree vir tree, terwyl ons in die voetspore van Jesus stap.
Amen

Gebed (Lied 428)
Loof Christus roem sy wonderdade,
sy almag, liefde en genade.
Hy’t na die Vader opgevaar,
maak daar vir ons ‘n woonplek klaar
dat ons ook deur Hom op kan staan
en dankbaar na die Vader gaan.

Hy is ons voorspraak by die Vader
deur Hom tree ons vrymoedig nader.
Hoe groot ons sondeskuld ook is,
volkome word dit uitgewis.
Wie soek, sal vind; wie klop in hoop,
vind so die poort na God toe oop.

Loof Christus, roem sy wonderdade –
hoe groot sy liefde en genade!
Hy heers omhoog en wêreldwyd.
Hy vestig hier sy koninkryk –
ontelbaar hul wat op kan staan,
vrymoedig na die Vader gaan. Amen

Seën
Die genade van ons here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly met ons – dag vir dag, tree vir tree. Amen