Goeie Vrydag – 10 April 2020

Votum en seëngroet
Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil,
is daar lewe vir jou en vir my.
Sien gelowig op Hom, word gereinig en leef,
want verlossing bied Jesus jou vry. Amen

Ek groet julle op hierdie Goeie Vrydag in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Genade en vrede vir julle.

Geloofsbelydenis
Op hierdie dag verenig ons met miljoene Christengelowiges oor die wêreld heen aan die voet van die kruis,
as ons in die woorde van die Heidelbergse Kategismus bely
• dat Jesus gekruisig is om die vervloeking wat op my skouers gerus het op sy skouers te neem – ja, oor my sondes is Hy vervloek;
• ons bely dat Jesus tot in die dood verneder is, omdat daar weens die geregtigheid en waarheid van God nie anders vir ons sondes betaal kon word nie, as deur die dood van die Seun van God nie. (HK XVI 39,40)

Dis so wonderlik dat ons dit vas en seker kan weet op grond van die Woord van God, en omdat die Heilige Gees saam met ons Gees getuig.

Die jong Afrikaanse aktrise, Simoné Pretorius, getuig gister op Netwerk24. Sy sê Ons lewe in ineterssante tye. Nou, meer as ooit, wanneer regerings, wetenskap en mensgemaakste stelsels ons nie kan red nie, wanneer alles om ons tuimel, staan die kruis standvastig – ‘n baken van hoop vir die mensdom.”

Gebed
Here, ons Here, op hierdie besondere Vrydag buig ons laag, nederig en in diepe afhankklikheid in aanbidding voor U.
Ons buig in aanbidding voor die kruis van Jesus, die Seun van God, die Messias, die Verlosser van die wêreld.
Ons buig voor U, Vader. En ons is stil. Stil in verwondering oor u onbegryplike liefde.
Stil oor die gehoorsaamheid van die Seun wat die lydensbeker gedrink het – tot die laaste druppel.
Kom, o Gees van God, kom ontmoet ons vandag opnuut.
Amen

Skriflesing
Mat 27:45-50

Boodskap
Prof Jaap Durand sê dat die God wat ons in die gekruisigde Christus leer ken, is die lydende God. En dan sê prof Nico Koopman – dis die God wat Hom met ons lyding vereenselwig. Hy’s nie die God wat veraf en onbetrokke en apaties is nie. Nee, Hy kom tree in ons wêreld van siektes, seerkry, swaarkry. Hy’s by ons in ons wêreld van sukkel, en skok, en onsekerheid en vrees.
Ook in hierdie tyd van die Korona-virus weet ons Hy is Immanuel – God met ons.
Ja, Hy’s Immanuel vir ons as nietige sondaarmense – vir ons wat as sondaars in hierdie wêreld gekom het; vir ons wat lewenslank hier op aarde teen ons sondige aard sal stry.
Hy’s Immanuel – God wat ons vry maak. Waarlik vry. God wat aan ons lewe gee – nuwe lewe.

Ek wil vandag ‘n ware storie vertel van iemand wat ervaar het hoe hierdie God in sy wêreld kom intree het – om vry te maak, om nuut te maak. Ek gaan die storie vertel soos wat ek dit na my ontmoeting met hierdie man vir myself neergeskryf het.
Om op ‘n dorp te gaan kuier waar jy en jou gesin vir baie jare gelukkig gewoon het, is altyd ‘n heerlike ervaring. Jy ry doelbewus verby al die plekke wat lekker en mooi herinneringe in jou wakker maak. Jou kop draai na elkeen wat iewers op ‘n sypaadjie staan, met die hoop dat dit dalk ‘n ou bekende sal wees. En natuurlik gaan maak jy ‘n draai by die huis waar jy so lekker gewoon het. As die ou bure nog langsaan woon en boonop buite in die tuin staan, is dit ‘n hemelse blye weersien.

Terwyl ek en vroulief nog so met ons ou buurvrou in Hoopvolstraat op Malmesbury staan en gesels, waai die man agter die grassnyer aan die oorkant van die straat met ‘n baie groot glimlag. Ek stap nader om te gaan groet. “Môre meneer, hoe gaan dit met meneer?” Terwyl ek my hand uitsteek om te groet, merk hy seker die frons op my gesig. “Onthou meneer my nie meer nie? Ek is Hendrik. Ek het altyd daar oorkant gewerk.” Sy gesig is skielik meer bekend. “Maar ek is nie meer die ou Hendrik wat meneer geken het nie. Nadat meneer hier weg is, het ek ‘n nuwe Hendrik geword.”

Hy vertel geesdriftig hoe sy paadjie geloop het in die jare vandat ek daar weg is. Hy vertel hoe hy by die dood omgedraai het. Hoe hy vir weke in die hospitaal op sy rug gelê het. Hoe die Here met hom gepraat en gewerk het in ‘n tyd waarin hy geen ander keuse gehad het as om na binne te kyk nie. Maar hy vertel ook hoe hy uiteindelik ontdek het dat God by hom, by hom in sy hospitaalbed, staan. Met ‘n glimlag op sy sonverbrande, verrimpelde gesig – nog breër as met die groet, vertel hy hoe hy as ‘n nuwe mens, as ‘n splinternuwe sikspens by die hospitaal uitgestap het.
“Meneer, die Here het my die kans gegee om my ou lewe, al die vullis van my ou lewe, in ‘n swartsak te gooi. En toe het die Here gekom en daardie swartsak weggery. Meneer weet, net soos wat ons elke week al ons vullis in swartsakke gooi, en dit weggery word, en ons dit nooit weer sien of nooit weer daaraan dink nie, so het die Here my ou lewe in ‘n swartsak kom wegvat. Die Here het my ‘n nuwe mens gemaak, sonder die gemors en vullis van my ou lewe.”

En toe verstaan ek waarom ek nie vir Hendrik herken het nie. Dit wás nie meer die ou Hendrik wat hier voor my gestaan het nie. Ek het ook verstaan waar die groot glimlag vandaan kom.

Ek het al baie dae weer aan Hendrik gedink – aan sy glimlag, aan God wat by hom kom staan het, en aan God se swartsakke.

As ons maar die gemors van gister en eergister en van elke dag wil weggooi. As ons maar die foute en sondes en ongehoorsaamheid van ons lewens in God se swartsakke wil gooi. As ons maar die seer en wonde wat ons in ons huise en harte opgaar, wil weggooi. As ons maar ons kwaadwees en wrokke wat ons lewens vergal, wil weggooi. En as ons maar vir God wil toelaat om dit op sy vullislorrie te laai en dit weg te ry, na waar vullissakke hoort, na waar ons dit nooit weer sal sien, of nooit weer daaraan sal dink nie – anderkant die kruis.

Miskien sal die mense ook oor ons frons omdat hulle ons nie heeltemal herken nie. Miskien sal hulle ook maar net sien hoe ons met ‘n groot glimlag groet.
Miskien sal hulle ook stilstaan om te luister as ons met ‘n nog groter glimlag en met entoesiasme vertel van God wat van swartsakke vol vullis ontslae raak.

Vriende, mag elkeen van ons op hierdie Goeie Vrydag by die kruis Hendrik se Here ontmoet. Dié Here wat by jou kom staan – by jou in jou sonde, by jou in jou stukkende wêreld, by jou in jou seerkry, by jou in jou swaarkry, by jou in hierdie onseker tye. Amen

Gebed
Diep o God, diep neergeboë,
staan ons voor u hoë reg
in volslae onvermoë.
Hoe word ooit ons saak besleg?
Waar ons voor U skuldig pleit,
o volmaakte Heiligheid,
werk U met U Gees versoening
deur die heiland se voldoening.

Om ons vry te maak van sonde
het u Seun gesterf, o God!
Deur geloof aan Hom verbonde,
sal ons leef na sy gebod.
Liefd’ het U na ons gebring –
Jesus, laat U liefd’ ons dring,
laat die liefde, so verhewe,
ons besiel deur heel ons lewe! (Lied 232:1,2)

Heil’ge God herskep ons lewe
en laat groei die goeie saad;
maak ons heilig in ons strewe,
in gedagte, woord en daad.
Ons wil U ons danklied bring
en u lof, o Jesus, sing.
Laat u Gees ons lei o Here,
om te lewe, U ter ere. (Lied 231:3)
Amen

Seën
Wees oor hierdie naweek stil…
Bewus van sy teenwoordigheid… sy liefde… sy genade… sy vergifnis en kans op nuwe lewe.
Vrede vir julle.
Amen