Dissipelskap-stories: Toe ek kyk, sien ek; toe ek sien, skuif ek

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:16-17).

Ryno Meyer, leraar Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk, vertel:

’n Eenvoudige rit deur Sunnyside om sewe-uur op ’n Woensdagoggend in 2009 het my lewe ingrypend en onherroeplik verander. Ek was op pad huis toe nadat ek my motor vroeg ingegee het vir ’n diens. ’n Doodgewone dag …

Maar, terwyl ek en my pa in sy deftige motor deur Sunnyside ry, het my oë gesien soos nog nooit tevore nie. Letterlik asof ek ’n bril opgesit het wat alles anders laat lyk het. Ek het nuwe perspektief gekry.

Die son het begin gesig wys tussen die jakarandabome en hoë geboue deur. Maar dit was chaos: Mense wat skarrel om ’n taxi te kry om werk toe te gaan. Mense wat lê en slaap langs die pad. ’n Prostituut wat “oortyd” moet werk, waarskynlik weens ’n “stadige aand”. ’n Man en vrou wat op die sypaadjie op mekaar skree en dan uitmekaarspat. Die atmosfeer was gespanne en haastig. Iets het nie reg gevoel nie. Hier was ’n wêreld wat ek nie geken het nie. Ek het geweet dit gaan swaar met mense. Maar ek het dit net gehoor en geweet, en aangegaan soos normaal.

Ná daardie oggend kon ek dit nie meer doen nie. Ek wou nader beweeg aan hierdie wêreld waarvoor my oë oopgegaan het. Dit was tyd vir my “gewone” lewe om “ongewoon” te raak. Ek het onmiddellik van my vriende gebel toe ek by die huis kom.

“Pel, ek trek Sunnyside toe.”

“Awesome. Wat wil jy daar gaan doen?”

“Ek weet nie presies nie, maar ek wil nader wees aan mense in nood.”

“Dit klink brilliant. Kan ek saamkom?”

Teen Januarie 2010 was ons 14 jong mans wat saam in ’n huis ingetrek het om nader aan mense in nood te wees. Ons het onsself Intentional Living genoem. Dit was tyd vir ’n nuwe manier van leef:

• eenvoudig (ek het my bed en motor ’n jaar lank prysgegee)

• intensioneel (ons moes kies om ons gemaklike lewe vaarwel te roep)

• waaghalsig (kom ons kyk wat gebeur as ons éérs doen en dán dink)

• inklusief (hoe sou dit wees om ons deur vir almal oop te maak?)

• vrygewig (kom ons kyk hoe vinnig ons kan saai)

• doelgerig (ons wou naby wees aan mense in nood) en

• saam (geen mens is ’n eiland nie).

Ons het mekaar aangespoor tot hierdie soort lewe en dit saam geleef. Ons leef dit vandag nog. Ons leef nie meer in dieselfde huis nie, maar elkeen wat by Intentional Living gewoon het, se “gewone” lewe bly sedertdien ongewoon.

Here, help my om met u oë na die wêreld te kyk. Laat my deernis my dring tot aksie sodat ek U met ’n “ongewoon” waagmoedige lewe kan dien, al moet ek my eie gemak daarvoor prysgee. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)