Die verskil tussen gejaag en dringend

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting (Ps 46:2-4, 11-12).

Op ’n dag het ek agtergekom een van my honde is die besigste hond ooit. Heeldag jaag hy sy eie skaduwee, hardloop al om ’n boom, jaag sy eie stert … en doen dan alles weer van voor af. Maar my arme hond het nooit iets bereik nie. Hy was altyd net verskriklik besig.

Dalk moes ek vir hom die Pareto-beginsel (die 80:20-reël) geleer het: “for many events, roughly 80% of the effects come from 20% of the causes”. Net soos my hond, staan baie gelowiges 80% van al hulle tyd af aan 20% van die goeie gevolge omdat hulle dit doen met gejaagde harte en nie vanuit ’n diep innerlike rus nie.

Geloof gaan daaroor om die kans van ’n leeftyd aan te gryp: om by Jesus tot stilstand te kom. Dit gaan oor minder, nie meer nie; dit gaan oor stadiger, nie vinniger nie.

Hoor dit asseblief, gelowiges wat angstig planne maak, sendelinge wat wakker lê oor hoe om die wêreld te bereik, huisvroue, sakepersone en kantoorwerkers wat wonder hoe Suid-Afrika ooit omgedraai sal word, ouers wat wonder of daar ’n toekoms vir hulle kinders is: Jesus is die Rede vir ons bestaan.

Jesus is ons lewe, ons suurstof, ons alles. Maar om Hom te vind, moet ons tot stilstand geruk word. Ons moet ons fyn uitgewerkte planne laat staan. Soos Marta, moet ons by Jesus hoor dat ons bekommerde lewens leef. Ons skakel nooit meer af nie. Ons gejaagdheid lei nie tot meer doeltreffendheid of beter resultate in die Here se diens nie.

In hierdie lewe is daar soveel meer Martas wat rondhardloop as Marias wat by Jesus se voete sit. Daarom die ontnugtering by sommige dat hulle ná jare in die Here se diens nie gevorder het nie. Hulle het maar net ander tevrede gestel en groot stelsels in plek gehou.

Dis nie die pad wat ons moet kies nie. Maria het gekies wat die heel beste is. Laat ons haar voorbeeld volg.

My God, help my om eers te bedaar en U te aanbid as Here oor alles. Ek wil nie ’n oorvol, gejaagde en angstige lewe leef nie, maar meer tyd deurbring by U, die rede vir my bestaan. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)