Dagbestuurbesluit insake Coronavirus

Liewe lidmate
In die lig van die Coronavirus en die ramptoestand in ons land, moes daar dringend toepaslike besluite geneem word. In Jak 1:5 lees ons “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit vir hom gee”. Wel, die dagbestuur het gebid vir wysheid. Ons het, soos ander gemeentes in Oudtshoorn, die moeilike maar ook verantwoordelike besluit geneem om vir eers ons eredienste en ander byeenkomste in die gemeente af te stel. Hierdie reëling geld tot Sondag 5 April. Die dagbestuur sal op 6 April weer vergader om verdere besluite te neem. Met inagneming van alle beskikbare inligting, glo die dagbestuur dat hierdie besluit in belang van ons mede-gelowiges asook die hele gemeenskap is. Die dagbestuur is eenparig daarin dat ons nie graag so ‘n ingrypende besluit sou wou neem nie en dit teësinnig doen, maar daar is gereken dat ons verantwoodelik moet optree, en dat dit deel van die liefdesgebod is om mekaar se belange op die hart te dra.
Kom ons onthou dat die kerk nie “toemaak” nie. Dit is net die byeenkomste wat gestaak word. Intussen moet ons deur persoonlike toewyding, deur wandel in die Woord (Bybel lees) en deur gebed volhard in ons geloof. Mag ons, terwyl ons oë in hierdie Lydenstyd op die kruis gerig is, voortgaan om sout en lig vir die wêreld te wees.
Laat liefde leef!
Ds Smuts van Rensburg