Christus ken ons verlange

Maar geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter:
dat julle gered sal word. God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie (Hebreërs 6:9-10).

“Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet” (Johannes 21:17).

Terwyl ons leef met die belofte dat dié wat op Christus en die voorbeeld van sy volgelinge fokus nuwe energie en hoop sal kry, is daar terselfdertyd ʼn ontstellende gevaar. Een wat talle ernstige en toegewyde gelowiges al slapelose nagte besorg het.

Dit is dat ʼn mens – selfs nadat jy die goeie Woord van God leer ken het, deur God verlig is en deel aan die werk van sy Gees gekry het – steeds afvallig kan word. Steeds die weg waarop God jou gelei het op ʼn dag kan verlaat.

Die Hebreërskrywer klink redelik kras in sy beoordeling hiervan. Hy sien dit as ʼn hernude verloëning van Christus. Met beeldspraak vergelyk hy dit met vrugbare grond wat verdroog en nou waardeloos geword het. Sodat daar van ʼn terugkeer en herstel weinig sprake is.

En tog is dit – gelukkig – nie sy laaste woord oor hierdie saak nie. Al waarsku hy ernstig, bly hy steeds oortuig dat die gelowiges – hy noem hulle steeds geliefdes – aan hierdie gevaar sal ontsnap. Want, so verseker hy hulle: God is nie onregverdig nie. Hy sal die goeie werk van liefde wat hulle wel verrig het nie vergeet of miskyk nie. Solank hulle daarmee volhou.

Dié gedeelte herinner my Petrus wat vir Christus verloën het en aan sy gevoel van skuld en wanhoop toe hy weer sy Meester in die oë moes kyk. In dié kritieke uur kon hy hom alleen op Christus se kennis van hom beroep; ja, op Christus se wete van sy verleentheid, maar ook van sy verlange. Van die verborge liefde wat hy steeds vir Hom gehad het, al was dit hoe swak en wankelmoedig.

Uiteindelik is dit die hoop waaruit ons kan leef: dat Christus ons ken. Dat Hy weet van ons verborge verlangens en intensies. Ook van ons dade van liefde waarvan ons nie eens aldag bewus is nie.

Here, soos Petrus staan ons vandag skuldig voor U. En tog, U ken ons – U weet van ons verlange en ons liefde vir U. Sien dit tog vandag ook raak. Amen.

Carel Anthonissen (BybelMedia)