Stel God eerste… in jou finansies

“Hoekom moet ons tiendes gee?”

ANTWOORD : In Deuteronomium 14:23 vind ons die antwoord: “Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer …” En in Deuteronomium 8:18 lees ons: “Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.”

Wanneer ons dus ons tiende aan God gee, is dit ’n manier om God te eer en vir Hom dankie te sê vir wat Hy aan ons toevertrou het. Dit is ook ’n manier om onsself te herinner dat wat ons besit aan God behoort en dat ons as sy rentmeesters op aarde optree.

Een van ons lesers uit Madagaskar skryf hierdie week: “Alles wat ons het behoort aan God. Hy voorsien aan ons ’n werk en daarby gee Hy ons die voorreg om 90% van ons inkomste te hou. Hoe kan ons nie vir Hom sy 10% gee nie?” (Lees ook Dawid se woorde in 1 Kronieke 29:11-14).

“Hoe bereken ek my tiende? Ek is bang ek word deur God vervloek?”

ANTWOORD : Onthou die storie van die arm weduwee en die woorde in 2 Korintiërs 9:7: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (uit Dag 24 se dagstukkie).Vir God is ons gesindheid wanneer ons gee die belangrikste. Ek gaan nie ’n verdere formule gee oor hoe jy jou tiende moet uitwerk nie. ’n Tiende bly ’n tiende. As jy steeds onseker is oor die saak, gesels met God daaroor en vra Hom om jou deur sy Heilige Gees te lei. Mag jy voortaan met ’n glimlag jou koevert in die kollektehouer gooi. (Gaan lees gerus weer die storie van die arm weduwee in Lukas 21:1-3.)

TIENDES EN DIE KERK …

“Sondag na Sondag beklemtoon predikante die gee van tiendes in die kerk – dít buiten die maandelikse dankoffer. Die nuutste in ons gemeente is dat die kerkraad ’n lapa vir die jeug wil oprig terwyl hulle terdeë bewus is van ’n armer gemeente in ons area met heelwat werklose gemeentelede. Is dit nie beter as die raad eerder die tiendes gebruik om die ander gemeente te help nie?”

“Indien ek met ’n opregte gesindheid finansies, klere en tyd aan armes afstaan, moet ek dan steeds my tiende van net geld ook aan God (die kerk) ook gee? Ook, moet ek my tiende aan ’n spesifieke kerk gee waar ek lidmaatskap het of kan ek dit gee waar ek gelei voel?”

ANTWOORD : In Handelinge 4 lees ons van die eerste kerk nadat Jesus opgevaar het hemel toe. In vers 33 staan geskryf: “Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”

Dink ’n oomblik aan die duik wat ons as kerk in Suid-Afrika aan armoede kan maak as alle Christene begin om hul tiendes gereeld te gee? In Maleagi 3 lees ons dat ons ’n tiende aan die kerk moet gee. In Numeri 18:21 en Deuteronomium 14: 27-29 lees ons dat God sê die tiendes moet gebruik word om na die Leviete (die geestelike leiers) sowel as dié in nood om te sien. Aan wie jy dus jou tiende gee is ’n saak tussen jou en God – en jy gaan rekenskap daarvoor moet gee. Net so, wat die kerkleiers daarmee doen, is ’n saak tussen hulle en God – en hulle sal daarvoor rekenskap moet gee. Vertrou dus hul oordeel.

Vader God, baie dankie dat ek ’n rentmeester vir U besittings hier op aarde kan wees. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om met wysheid na alles om te sien wat U aan my toevertrou het. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

(Deur: Benescke Janse van Rensburg uit www.versndag.co.za)

** Vir 100 ander teksverse oor die huidige tema vir verdere studie, besoek hierdie webwerf: http://www.kluth.org/church/100generosity.htm