SONDAG 6 SEPTEMBER 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS – YOUTUBE
SONDAG 6 SEPTEMBER 2020
SKRIF:Jes 61:1-3; Jes 62:1-5, 11-12

Vooraf
Whatsapp Video met vioolspel deur kinders: Nader my God by U

Votum
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof. Lied 519
Amen

Seëngroet
Ek groet julle as medevolgelinge van ons Here Jesus Christus: Genade en vrede vir julle.

Lofsang
Kom ons loof die Here, die Wonderbare Koning wat heers oor sy skepping.
Lied 197:1,2

Aankondiging van Skriflesing
Die Woord van die Here praat vandag met ons, in hierdie besondere tyd waarin ons leef, uit Jes 61 en 62. Ons gaan net enkele verse lees. Julle kan gerus albei hoofstukke lees. En lees ook sommer Luk 4:16-21 daarmee saam, want daar lees ons dat Jesus sê dat hierdie Skrifwoord van Jes 61 in Hom waar geword het. Ja, dit het waar geword vir die Nuwe Testamentiese volk, die kerk van ons Here Jesus.
Jes 61:1-3
Jes 62:1-5, 11-12
Luk 4:16-21

Gebed – epiklese
Voor ons lees bid ons saam dat die Here ons harte en ons lewens sal aanraak deur sy Woord en sy Gees. Ons bid die woorde van Richard Foster.
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hark weg die dooie blare van die verlede.
Vergruis die harde kluite
van my weerbarstige gewoontes en groewe.
Werk diep in my die ryk kompos van nuwe visie en vreugde.
Plant diep in my siel u lewegewende Woord.
Versorg, gee water, koester my hart
totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
In Jesus Naam.
Amen

Skriflesing
Jes 61:1-3
Jes 62:1-5, 11-12

Preek
Vriende as ons Jesaja 61 en 62 regtig wil verstaan, dan moet ons weet in watter omstandighede die Here se volk hulle bevind het toe die woord van die Here deur sy profeet na hulle gekom het.
Die volk was in ballingskap weggevoer na ‘n vreemde land, wat ook beteken het dat hulle weg was van Jerusalem en van die tempel. Dit was natuurlik vir hulle ‘n baie slegte/swaar tyd. Hulle het verlang na hulle land/Jerusalem en na die tempel. En dan kom daar in 538 v.C. ‘n bevel dat hulle na hulle land mag teruggaan, wat ook sou beteken dat hulle die verwoeste stad en tempel sou kon herbou.

Maar toe hulle nou eers terug is in hulle land, het die dinge nou nie heeltemal so verloop as wat hulle gehoop en gedroom het nie. Hulle het hoë verwagtinge gehad van al die wonderlike dinge wat daar in Jerusalem gaan gebeur, maar alles het toe nie heeltemal so maklik en so mooi uitgewerk nie. Want terwyl hulle weg was, het dinge in Jerusalem verander. Ander mense het hulle intussen in hulle land kom vestig. Daarom moet hulle nou opnuut hulle plek vind en probeer om grond terug te kry. Hulle het selfs onveilig gevoel. En dan het hierdie ander mense ook ander gode na hulle land gebring. En om alles te kroon het dit met hulle eerste oeste in die land ook nie so goed gegaan nie. En nou kyk die volk van die Here na hierdie situasie en maak onmiddellik een gevolgtrekking – die Here het van ons vergeet. Die Here het ons in die steek gelaat. En daarom is hul moedeloos en kla hulle.

En nou kom Jesaja 61 en 62 as ‘n antwoord op die klagtes en die moedeloosheid van die volk. Die profeet van die Here vertel vir hulle van wat op hulle wag – ‘n tyd van eer in plaas van smart; ‘n tyd van vryheid; ‘n tyd van troos na baie trane; ‘n tyd van blydskap in plaas van hartseer. ‘n Nuwe dag sal vir hulle aanbreek, soos die lig van ‘n brandende fakkel. Hulle sal nie meer soos ‘n verstote vrou wees nie, maar soos ‘n bruid. Hulle sal ‘n nuwe naam kry – hulle sal genoem word ‘die een vir wie die Here liefhet’. Hulle verlossing sal nie net ‘n verlossing uit ballingskap wees nie, maar ook ‘n geestelike verlossing – hulle sal weer die volk wees wat aan die Here gewy is; hulle sal opnuut in ‘n verbondsverhouding met Hom leef.

Die profeet van die Here wil die volk help om te verstaan dat die terugkeer uit ballingskap maar net die begin is van nuwe dinge. Dis soos die eerste paaiement wat God aan hulle uitbetaal het. Daar wag nog soveel meer op hulle.

Met ander woorde, die profeet wil die volk help om nie terug te kyk na waar hulle vandaan kom nie, en om ook nie in hulle omstandighede vas te kyk nou dat hulle terug is en dinge nie lyk soos hulle gehoop het nie; hy wil hulle help om in geloof in God vorentoe te kyk.

Daar is ‘n Joodse legende wat vertel van twee rabbi’s wat gesit en debatteer het of die Messias al na die aarde gekom het, of nie. Hulle het die saak na alle kante toe beredeneer, maar hulle kon nie tot ‘n antwoord kom nie. En toe staan een van hulle op en kyk by die venster uit, en hy roep die ander een nader en sê “kom kyk, kom kyk hoe lyk dit hier buite, kyk hoe lyk die wêreld. As die Messias al hier was, sou dit nie so gelyk het nie.”

Ek dink elkeen van ons kan verstaan hoe Israel moes gevoel het toe hulle terug gekom het in Jerusalem en dinge nie gelyk het soos hulle gedroom en gehoop het nie. Ek dink ons sal verstaan, want 2020 het ook nie vir ons uitgedraai soos ons gedroom en gehoop het nie. Toe ons middernag van 2019 vir mekaar gesê het ‘hêppie-hêppie’ en ‘mag dit vir jou ‘n mooi en geseënde jaar wees’, het ons nie geweet wat ons in hierdie jaar gaan tref nie. Dit wat ons vir dié jaar gedroom en beplan het, het ontaard in ‘n nagmerrie van onsekerheid en swaarkry in vele opsigte. Ook ons sê vir mekaar op hierdie stadium ‘dinge lyk nie so belowend soos wat ons gehoop het nie’.
Ek dink ons verstaan hoe hierdie rabbi gevoel het. Ons kyk ook by die venster uit, en wat sien ons? Ons sien armoede, werkloosheid, besighede wat leeg staan, bankrotskappe, rassehaat, bedrog en korrupsie. Ons sien so min van die nuwe wêreld wat God deur Christus aan die bou is. Ons kyk soos Israel terug na die verlede, en ons kyk soos Israel en die rabbi na ons omstandighede vandag, en dan maak dit ons moedeloos. En, natuurlik, dan kla ons. En ons wonder of die Here ons nie dalk vergeet het nie.

Daarom moet ons vandag die boodskap van die profeet Jesaja hoor – as hy die Here se volk wil help om nie terug te kyk en daarby vas te steek nie, en om nie in hulle onmiddellike omstandighede vas te kyk en daaroor in sak en as te gaan sit nie. Die profeet wil die Here se volk voor die venster laat staan om verder uit te kyk… nie sommer hier voor hulle in die straat nie, maar verder… om ‘n nuwe toekoms te sien. Hy wil vir Israel help om die groter prentjie van God se verlossingsboodskap te sien… om te sien hoe die kleure van God se genade en vrede in die verte ontvou. Hy wil hulle laat verstaan dat die Here nie arms gevou staan en maar net toekyk nie. Hy wil hulle daaraan herinner dat die Here sal ingryp en dat sy genade en liefde genoeg sal wees. Jerusalem sal ook ‘n nuwe naam kry, m.a.w. Jerusalem sal ‘n nuwe identiteit kry, wat beteken dat daar ‘n nuwe tydperk, ‘n nuwe toekoms sal aanbreek. Die Here sal ‘n nuwe hoofstuk in die geskiedenis begin skryf – deur Jesus Christus, sodat alle mense van alle nasies in ‘n nuwe verhouding met Hom kan staan.

Deur Jesus Christus. En nou’s dit juis as ons oog op Christus gerig is, en op die toekoms wat Hy vir ons oopsluit, dat ons nou alreeds iets van die toekoms beleef.
Natuurlik beteken dit nie dat dit iets aan ons verlede, aan ons geskiedenis gaan verander nie. Dit beteken ook nie noodwendig dat ons omstandighede sommer nou vinnig, in ‘n paar dae se tyd sal verander nie. Die werklikheid is dat ons nog baie Jobservaringe kan hê. Ons sal dalk nog verliese ly en deur nog teenspoed getref word. Ons sal dalk nog ‘n hele paar kilometer van vreemde en moeilike paaie moet stap. Daar gaan dalk nog heelwat dinge gebeur waarvan ons sal sê ons ken maar ten dele en ons verstaan ten dele, of waarvan ons sal sê ons verstaan eintlik glad nie.

Maar as ons by die venster gaan staan en verder uitkyk… verder… dan sien ons ‘n ander prentjie wat op die horison ontvou. Want daar is ook ‘n ander manier van kyk na dit wat die rabbi’s sien, en dit is om daarna te kyk teen die agtergrond van ‘n nuwe toekoms.

Jesaja wil ons help om by die venster uit te kyk en te weet “sien is nie glo nie”. Ons oë kan ons bedrieg, want ons kan bysiende wees. As ons deur die bril van Christus kyk, kyk ons nie net na die verlede nie, sien ons nie net die goed hier om ons raak nie, maar sien ons die God van Jesaja wat ook in die deurmekaar 2020 ons God is. En as ons Hom sien, kan ons weet dat ons lewe nooit in ‘n hoek vasgeverf sal word nie. Kan ons weet dat daar by God nie iets soos ‘n doodloopstraat is nie.

Dit is Dietrich Bonhoeffer wat gesê het “die heel belangrikste vir ons as Christenmense, is om die hele werklikheid, die samelewing, die skepping, ons naaste, om alles voortdurend te bly sien in die lig van Christus… of miskien om dit selfs te sien soos Christus… om met die oë van Christus daarna te kyk.

Ja, kom ons wees eerlik – dis nie altyd so maklik nie. Want soos Israel en die twee rabbi’s sien ons sekere dinge hier om ons – in die straat, in die koerante, op die TV. Ons sien mense wat swaarkry. Ons sien hoe betogers dit wat nog staan, afbreek. Ons sien hoe mense hulle werk verloor en besighede toemaak. Ons sien hoe politici bedrog pleeg. Dis die goed wat ons sien as ons by die venster uitkyk. Dis die harde, nare wêreld waarin ons leef. Ons sien ook hoe die kerk en ons geloof en ons Bybelse oortuigings aangeval en beskinder en bespot en afgebreek word. En ons wonder – hoe moet ons na al hierdie dinge kyk?

Ons moet na hierdie dinge kyk deur die bril van geloof. Martin Luther sê “geloof is om te sien wat jy nie kan sien nie, en om nie te sien nie wat jy sien”. Ja, geloof is om dieper te kyk, om verder te kyk, om dié dinge raak te sien wat jy nie met ‘n gewone oog kan sien nie. Maar terselfdertyd, om die dinge wat jy met jou gewone oog raak sien, mis te kyk, om daar verby te kyk… omdat jou oog op God ingefokus is.

Ek het al ‘n hele paar keer by mense in hulle sitkamer gesit vir wie die lewe te veel geword het… vasgevang in hulle verlede, in die goed wat met hulle gebeur het of wat hulle aangevang het, vasgevang in hulle omstandighede, vasgevang in ‘n doolhof van vrae en argumente en bangmaakgoed… En dan staan ek soms op, en sonder om ‘n woord te sê, gaan staan ek voor die venster en skuif die gordyne oop. Op ‘n manier wil ek vir hulle iets sê deur net die ligstrale van die Here ‘n slag by hulle huis te laat inskyn. Sonder woorde wil ek vir hulle sê kom uit jou donker kamer, kom staan hier by die venster, kom kyk uit… nie na wat in die straat aangaan nie, maar kyk verder… kyk na die nuwe toekoms wat deur geloof in Christus ontvou… kyk na die ligstrale van sy genade en liefde wat op die horison aan die deurbreek is. Amen

Gebed
Here, kom in u groot genade en liefde, kom in Jesus Christus
en maak ons vry, maak ons los van die verlede.
Sit vir ons die bril van geloof op sodat ons ver kan sien,
sodat ons verby die dinge kan kyk wat voor ons afspeel.
Help ons om in Christus nie te sien wat ons sien nie,
en om te sien wat ons nie sien nie.
Help ons om ons oë op U gerig te hou terwyl U self ‘n nuwe toekoms voor ons oopbreek. Amen

Seënbede
Vriende, ek groet julle vandag met die seënbede saam met Anneli van Rooyen en die leerders van die Trans Oranje Skool vir Dowes.

Video van Anneli van Rooyen met Seënbede

Die Here is voor jou
om die weg vir jou gelyk te maak.
Die Here is langs jou
om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou
om die aanvalle van die Bose af te weer.
Die Here is onder jou
om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou
om jou te beskerm.
Die Here is binne-in jou
om jou te inspireer.
Die Here is bo jou
om jou te seën.
So seën die Drie-enige –
Vader, Seun en Heilige Gees jou,
Van nou af tot in ewigheid.